Logo
web uni tv guide

Winslyn

144FinansiesPG13

kykNET in die buiteland

Nuus
31 Julie 2018
Dis ’n baie opwindende week vir kykNET aktueel.
Aktueel_Billboard

FOTO: Getty Images

Kyk waar lê die kykNET aktuele-spanne vandeesweek besoek af. 

Prontuit (18 – 29 Julie 2018, Zimbabwe en Zambië)
Landbou in Suid-Afrika is tans onder druk gegewe die politieke en ekonomiese klimaat, maar ook as gevolg van die veranderinge in weerpatrone, geweld en die groot vraagstuk rondom grondhervorming. Die Prontuit-span lê besoek af aan boere en landboukundiges in buurlande soos Zimbabwe en Zambië om vas te stel hoe hulle dit regkry om suksesvol te boer in soortgelyke omstandighede.

Prontuit met Kabous Meiring ondersoek stories ná dit nuus was – Maandae om 22:00.

kykNET Verslag (27 Julie – 2 Augustus 2018, Zimbabwe)
Die kykNET Verslag-span is in Harare, Zimbabwe se hoofstad, vir die komende verkiesing. Dit word beskou as ’n geskiedkundige verkiesing in dié land, ná oudpresident Robert Mugabe einde verlede jaar uit die kussings gelig is. Ons gaan met inwoners, aktiviste en politici praat om die volle prentjie te kry van wat die verkiesing vir Zimbabwe kan beteken. Gedurende die besoek, gaan die span ook met boere en rolspelers in die landbougemeenskap praat om ’n gevoel te kry van waar dinge staan sedert die gewelddadige grondgrype van die 2000’s.

kykNET Verslag met Bettie Kemp en Lourensa Eckard bied ’n oorsig van die dag se nuusgebeure – Maandae, Dinsdae en Donderdae om 21:30.

Winslyn (25 – 28 Julie 2018, eSwatini)
Afrika is ’n vasteland met ontluikende geleenthede vir beleggers en entrepreneurs. Oor die volgende paar maande fokus Winslyn eenkeer ’n maand op ’n Afrikaland en gee ’n oorsig van ekonomiese sektore met stewige groeivooruitsigte. Die Winslyn-span is vandeesweek in die Koninkryk van Swaziland, onlangs hernoem na eSwatini en fokus op die landbousektor (suiker), nywerhede (tekstielbedryf) en die finansiële sektor. Ons gesels met kenners, rolspelers en inwoners van dié buurland wat meer vertel.  

Winslyn, aangebied deur Divan Botha, roer aktuele kwessies in die sakewêreld aan – Dinsdae om 22:00.