Logo
web uni tv guide

Winslyn

144FinansiesPG13

Harde werk is Divan Botha se resep

Nuus
23 Mei 2016
Winslyn-aanbieder Divan Botha is passievol oor Suid-Afrika en leef vir entrepreneur-wees – al oorleef ’n mens soms moeilik in dié bedryf. Ons het met hom gesels.
QA Divan Botha Winslyn

Winslyn-aanbieder Divan Botha is passievol oor Suid-Afrika en leef vir entrepreneur-wees – al oorleef ’n mens soms moeilik in dié bedryf. Ons het met hom gesels.

Watter rol dink jy speel entrepreneurskap in die ontwikkeling van Suid-Afrika se ekonomie, en waarom is veral kleinsakehandel belangrik?

Die regering skep nie op die oomblik werk nie, en ek glo ook nie dit is hulle werk om werk te skep nie. Die regering moet slegs die omgewing skep waarbinne besighede (en ook werkers) kan groei.

Klein entrepreneurs skep die meeste en, belangriker, die vinnigste werk. Wat ons kort is entrepreneurs wat toegang het tot geleenthede, befondsing en vaardighede – dit is die drie belangrikste elemente van entrepreneurs kweek.

As jy een ding vir plaaslike entrepreneurs kon makliker maak, wat sou dit wees?

Maak dit makliker vir besighede om uit ander se foute en lesse te leer. Entrepreneurs maak dikwels oor en oor dieselfde foute wat ander reeds gemaak het. Ons kort meer mentors.

Vertel vir ons meer van jou eie ondernemings en inisiatiewe. Hoe het jy te werk gegaan om dit te begin en watter lesse het jy in die proses geleer?

Ons het The Whippet so 3,5 jaar terug begin – my eerste ervaring in die restaurantwese. Ek is eintlik ’n bankier, so álles was vir my ’n les.

Ons het nou Flight Coffee begin. Ons beplan om nog twee winkels hierdie jaar oop te maak en wil seker maak ons gee Starbucks goeie kompetisie. Ons beplan om oor twee jaar in Londen oop te maak.

Wat ek elke keer leer is:

1. Ek besef hoe min ek eintlik weet, en dat ek altyd meer moet lees en meer moet uitvind.
2. Besigheid is nie vir sissies nie. Dit is die moeilikste ding wat ek al óóit in my lewe moes doen.
3. Elke dag het ek en my span die kans om ’n verskil te maak.
4. Ek is lief vir my land en daar is geen beter plek om ’n entrepreneur te wees nie.

Die vennoot wat jy kies kan ’n vennootskap maak of breek. Het jy enige raad?

Definitief. Ek en my eerste vennoot is nie meer in besigheid nie. Dit leer ’n mens om baie seker te maak hulle deel jou waardes en werksetiek. Maak seker al die vennote kan ewe veel verloor as die besigheid nie ’n sukses is nie. Hulle noem dit “skin in the game”.

Baie mense droom daarvan om hul eie onderneming te begin. Wat maak egter van iemand ’n suksesvolle entrepreneur?

Dit is so ’n moelike vraag omdat ek dink die beste entrepreneurs is multi-dimensioneel, maar die beste entrepreneurs het ook die beste spanne – hulle stel mense aan wat slimmer is as hulle, wat hulle dwing om anders oor goed te dink en te redeneer.

Entrepreneurs is nie bang vir werk nie. As jy bang is om lang ure te werk, gaan werk dan vir ’n salaris. En ek glo ook die beste entrepreneurs kan baie goed op hul eie funksioneer. Entrepreneurskap is ’n alleen-wêreld – aan die begin is dit net jy met jou eie idees en gedagtes. Dis tough.

Om ’n suksesvolle handelsmerk te bou moet jy die mark ontwrig. Verduidelik vir ons die rol van betroubaarheid en hoe ’n handelsmerk gesond kan bly.

Die beste handelsmerke verstaan wie hulle is – hulle het ’n doel en hulle is eerlik. Verbruikers hou van handelsmerke wat ’n storie het waarmee hulle kan identifiseer, en dit sit in die authenticity van die handelsmerk. Geen mens is perfek nie en so ook nie jou handelsmerk nie. Sê jammer wanneer jy ’n fout maak – mense sal jou vergewe en jou daarvoor respekteer.

Wat was tot dusver die grootste uitdaging wat jy oorkom het?

Definitief die fase waarin my besigheid nou is. Ons sukkel om befondsing te kry (soos alle groeiende besighede maar) en die besigheid word nou groot –ons het nou al 40 waarvoor ons werk skep in 3 verskillende dele van die stad.

Om dit te bestuur en om seker te maak ons mense bly geïnspireerd om die beste diens moontlik te lewer is moeilk. ’n Groeiende besigheid is soos om op ’n leeu te ry. Almal sê “Wow, daai man ry op ’n leeu”, en al waaraan jy kan dink is “Hoe de hel het ek op die leeu gekom?”.

Wat maak jou optimisties oor Suid-Afrika?

Ek word elke dag geïnspireer deur Suid-Afrikaanse entrepreneurs en hul vermoë om geleentheid te sien in hierdie moeilike ekonomie. Dis hoekom ek altyd myself omring met entrepreneurs. Hulle is die baken van optimisme en inspireer my om ’n beter entrepreneur en Suid-Afrikaner te wees.

Wie is vir jou ’n mentor?

Dis altyd moeilik, omdat ek glo Suid-Afrika se grootste krisis is ’n leierskapskrisis. Ek het nie ’n mentor nie, maar ’n entrepreneur wat my op die oomblik beïndruk is Jabu Mabuza. Hy neem standpunt in en is nie bang om sy sê te sê nie. Hy doen ook nou great werk saam met Pravin Gordhan om die regering en besighede te verenig.

Wat was tot dusver vir jou ’n hoogtepunt op die stel van Winslyn?

Dit verskil omtrent elke week. ’n Mens dink altyd dis die uitvoerende hoofde wat die meeste beïndruk, maar dit is elke keer die kleiner entrepreneurs – daai ouens wat, ongeag hul uitdagings, voluit gaan vir ’n droom.

Die hoogtepunt vir my is dat ons dit regkry om mense te laat voel die wêreld van besigheid is eintlik eenvoudig en verstaanbaar, en dat ons oor meer kan praat rondom die braaivleisvuur as net rugby.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek werk aan my besigheid. Ha ha – ek is so ’n slegte voorbeeld van iemand met goeie werklewe-balans. Ek kry soveel genot en persoonlike vervulling uit my besighede dat ek my persoonlike lewe soms afskeep (dalk is dit hoekom ek nog nie getroud is nie).

Ek leef vir die stad. Ek is mal oor wat in die stad aangaan en hou daarvan om nuwe restaurante en markte uit te probeer. Ons kosbedryf ondervind ’n herlewing en dis lekker om dit te ervaar.

Ek het ook hierdie jaar begin om myself te leer kook. En dan spandeer ek al my geld om te reis. Ek was onlangs in Viëtnam en gaan binnekort Patagonia toe om daar te gaan fly fishing doen.

Wie sou jy die graagste vir ete wou nooi?

My oupa. Hy leef nie meer nie, maar ek sou so graag nog een keer saam met hom wou sit en eet en wyn drink. Hy was ’n ongelooflike man – ’n wyse man en ’n great entrepreneur. Ek mis hom baie.

Wat weet min mense van jou?

Dis nou ’n lekker vraag. Ek kan sing en klavierspeel. Moet my asseblief net nie vra om dit op TV te doen nie! O, en ek is nogal ’n moeilike ou. Ek kry dit by my ma – sy is Hollands. Ons het ’n kort humeur, en ek is baie reguit met mense – soms té reguit.

Wie is jou gunsteling-skrywer?

Paulo Coelho. Hy is glad nie ’n sakeskrywer nie, maar ek hou van fiksie! Sy boek The Alchemist is die rede hoekom ek ’n entrepreneur geword het en bedank het by die die bank. Ek is mal oor mense wat hulle eie pad loop, ongeag die idees van ons samelewing. Ek dink dit is braaf.

Wat is jou gunsteling-fliek?

The Secret Life of Walter Mitty!

Wat is jou gunsteling-bestemming?

Definitief die Ooste. Ek was al drie keer daar en sal graag een keer ’n jaar wil gaan. Ek is versot op die kos en die mense – dit is so anders as waaraan ons gewoond is. Dit is van die min plekke in die wêreld waar ek nooit my foon wil gebruik en op die internet gaan nie. Daar voel ek verwyderd van die alledaagse lewe.

Het jy ’n lewensleuse?

“Be true to your own story. Too few people are brave enough to follow their hearts.”

Skakel in vir Winslyn, Dinsdae om 22:00 op kykNET.