Logo

Waterfront: Het jy dit gemis?

Nuus
08 Januarie 2018
Het jy dié Waterfront-leidrade gemis? Lees dan hier om die kloutjie by die oor te bring.
Waterfront Het jy Gemis

FOTO: Verskaf

Met die einde van Waterfront wat ons onlangs bekruip het, het kykers heelwat vrae gehad oor die ontknoping van die eerste seisoen. Met leidrade wat in vroeër episodes geplant is, moes kykers kophou om ten einde die kloutjie by die oor te bring.

Waterfront-skrywer Leon Kruger verduidelik: “Soos Ben se gekompliseerde verhoudings met sy dogters, waar almal net hul eie perspektief, ongeag reg of verkeerd, het, moet die einde jou laat met baie vrae oor verhoudings en die dinamiek binne ’n familie. Mense is nie net goed of sleg nie, daarvoor is die lewe net te onvoorspelbaar en die mens te kompleks. Fiona se laaste woorde beaam dit: ‘Mens probeer so om nie jou ouers se foute te herhaal nie, jy besef nie wat jy besig is om te doen nie’.”

Hier is ’n paar leidrade wat jy dalk gemis het: 

  • Deur die verloop van die reeks word dit ’n paar keer genoem dat Ruan (pa) en Stefan (seun) ’n pakt het waar hulle altyd eerlik met mekaar sal wees.
  • Stefan en Ruan sit op ’n bankie, wanneer Stefan na hom draai en sê: “Daar is iets wat pa moet weet.” Die toneel eindig waar Ruan vir ’n huilende Stefan omhels. Later luister Stefan na sy oupa se voicemail en begin onbedaarlik huil.
  • Deur die verloop van episodes 11-13 is die bewyse teen Stefan besig om op te hoop. In episode 12 en 13 is die speurder oortuig Stefan was die aand van Ben se dood op die seiljag. Ruan hou vol dat al die bewyse weerlê kan word. Tog, omdat hy geen ander verdagte het nie en alle vingers na hom wys, word Stefan gearresteer.
  • In episode 13 argumenteer Anna en Ruan voor Julia se woonstel. Sy sê vir hom dat sy en Stefan al vir meer as twintig jaar wag dat hy vir hulle moet opstaan – dis al wat hulle nog ooit van hom wou gehad het. Anna is histeries oor haar kind wat vir Ben se dood tronk toe gaan. En dis wanneer Ruan sy besluit neem om vir Stefan in te staan.
  • Wat die dag op die bankie tussen Ruan en Stefan gesê is, weet niemand nie, so die oomblik wanneer ’n bloeiende Ben Myburgh op die strand lê, omdraai en sien dis Ruan wat oor hom staan, word die storie/leuen vanuit Ruan se perspektief vertel. Of hy vir die polisie lieg en of dit dieselfde storie is wat Stefan hom vertel het, weet ons nie. Al wat dan ter sprake is, is Ruan wat vir sy seun opkom om die blaam van Ben se dood te dra. Natuurlik verontskuldig dit Stefan nie, maar sy pa staan nou vir hom in.
  • Dus weet ons steeds nie wat werklik daardie aand op die seiljag gebeur het nie. Die bewyse teen Stefan was verdoemend en Ruan moes ’n besluit neem.
  • ’n Parallel word getrek met een ouer (Ben) wat sy kinders oënskynlik, uit hul perspektief gefaal het en ’n ander pa (Ruan) wat bereid is om vir sy kind tronk toe te gaan.
  • Dan is daar natuurlik ook nog die kwessie van Julia wat die toksak met spuitwerf gekry het en Wouter wat sê hy sal daarvan ontslae raak.

KYK: Is dit vergifnis?

Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en vertel ons wat jy van die finale episode gedink het deur die #Waterfront-hutsteken te gebruik.