Logo
web uni tv guide

Vat Jou Goed En Trek

144RealiteitPG

Nuwe kykNET-vermaak in Oktober

Nuus
06 September 2016
’n Hele rits gewilde reekse keer in Oktober 2016 terug na die kassie met nuwe seisoene, en kykers kan boonop uitsien na twee splinternuwe programme wat binnekort afskop.
Vat jou goed Henck Conrey 2016

’n Hele rits gewilde reekse keer in Oktober terug na kykNET met nuwe seisoene, en kykers kan boonop uitsien na twee splinternuwe programme wat binnekort afskop:

Hier gaan ons alweer



Vanaf Oktober pak hengelspesialis Petri de Wet elke Maandagaand sy bakkie swaar, haak sy sleepwa en vertrek op soek na nuwe en pragtige hengelplekke. Saam met sy gashengelaars is Petri op soek na die groot visse – om die adrenalien deur hul are te laat bruis. Hy toets ook nuwe hengeltoerusting en deel sy wenke met kykers.

Skakel in vir die 15de seisoen van Hier gaan ons alweer – vanaf 3 Oktober 2016, Maandae om 17:30.

Met ’n huppel in die stap



Wie sê om ouer te word is saai en vervelig? Dit kan die opwindendste tyd van ’n mens se lewe wees! Met ’n huppel in die stap, aangebied deur Riaan Cruywagen, kyk hoe die lewe na 50 nuwe betekenis kry. Ons gesels oor onderwerpe wat vir jou saak maak!

Met ’n huppel in die stap word vanaf 5 Oktober 2016 elke Woensdag om 17:30 uitgesaai. Lees meer oor dié nuwe reeks hier.

MegaBoere



MegaBoere is ’n landbousakeprogram met ’n persoonlike aanslag. Die reeks ondersoek die grootste landbou-uitdagings en hoor watter oplossings die land se superboere daarvoor bied. Bun Booyens, aanbieder van MegaBoere, was die afgelope ses jaar die redakteur van Die Burger, sy derde skof sedert 1989 by die koerant.

MegaBoere se derde seisoen begin op 5 Oktober 2016 om 20:00 op kykNET.

DEKATv



DEKATv, die geliefde program met sy ongewone inslag wat ’n heerlike skoot kuns en kultuur na jou sitkamer bring, is terug op die kassie met ’n sesde seisoen. Lees meer hier.

Skuif nader vanaf 6 Oktober 2016, Donderdae om 17:30.

Vat jou goed en trek



Eiendom is ’n groot belegging, maar hoe gemaak wanneer jou huis nie meer aan jou behoeftes voldoen nie? Jy vat jou goed en trek! Makliker gesê as gedaan? Vat jou goed en trek wys gesinne presies hoe om dit te doen. Deur die loop van die reeks ontmoet ons 13 gesinne wat sukkel om hul eiendom te verkoop. Binne 72 uur doen ’n span kosmetiese veranderinge wat die waarde van die eiendom lig.

Skakel in vir die tweede seisoen vanaf 7 Oktober 2016, Vrydae om 17:30.

Glam Guru



Die geliefde Hannon staan weer slaggereed om vroue van regoor Suid-Afrika mooi te maak. Of jy nou op soek is na een nuwe skoonheidswenk of raad vir ’n radikale voorkomstransformasie, ons eie Glam Guru, Hannon Bothma, is daar om jou te help!

Die nuwe seisoen skop af op 9 Oktober 2016, Sondae om 18:30.

Slank



Die aktrise Leandie du Randt is vanaf Oktober te sien as aanbieder van die nuwe gewigsverliesprogram Slank op kykNET. Slank bied ’n revolusionêre benadering tot gewigsverlies en leefstyl-verandering. Dit kyk na 13 alledaagse mense van verskillende ouderdomme, agtergronde en uiteenlopende loopbane wat een ding in gemeen het. Kyk hier na ’n paar agter-die-skerms-foto’s.

Slank begin op 9 Oktober 2016 op kykNET, en is Sondae om 19:30 op die kassie.

Jou Show

Jou Show is terug met ’n fantastiese nuwe seisoen en Emo Adams is soos gewoonlik aan die stuur van sake. Met sy spitvondigheid en informele onderhoudstyl verseker Emo dat elke program ’n unieke ervaring is, belaai met belaglikheid en plesier. Die Take Note Band is ook weer in die ateljee om te deel in die pret. Vanjaar maak gaste soos Kurt Darren, Francois van Coke, David Kramer, Marisa Drummond, Amanda Strydom en Armand Aucamp ’n draai. Met musikale vertonings deur onder andere Leah en die gewilde groep Twee. Moet dit nie misloop nie.

Jou Show skop af op 10 Oktober 2016Maandae om 20:30.

Edik van Nantes



Die twee Le Roux-broers is weer hard aan die kosmaak en kuier in Frankryk. Vir hierdie seisoen is Nataniël se mooiste kostuums uit sy vertonings oor die afgelope 29 jaar Frankryk toe gestuur en verfilm in van Nantes se mooiste teaters, kastele en katedrale. Die Franse inwoners van Nantes is nou ook al beter bekend met die twee broers, en baie nuwe deure het dus oopgegaan. Die span is selfs ontvang deur die wêreld se laaste lewende Markies en Markiesin! Die kos bly natuurlik die spil waarom alles draai. Lees ook wat het Nataniël oor die nuwe seisoen te sê.

Die tweede seisoen van Edik van Nantes begin op 11 Oktober 2016, en daarna elke Dinsdag om 20:00.

Die Republiek van Zoid Afrika

Na al die opwinding van vanjaar se munisipale verkiesings is dit weer tyd vir die president van die RZA om haar stem dik te maak. Van die ministers wie vanjaar in haar parlement ingehuldig gaan word, sluit Tobie Cronjé, Neil Sandilands, Riana Nel, Ruda Landman en Coenie de Villiers in. Skuif ook reg vir skreeusnaakse sketse deur Karen Zoid en Esther von Waltsleben.

Die nuwe seisoen van Republiek van Zoid Afrika skop af op 11 Oktober 2016 – Dinsdae om 20:30.

Boer soek ’n Vrou



Die immergewilde Boer Soek ’n Vrou is binnekort terug op die kassie, met ’n splinternuwe aanbieder. In seisoen nege gaan Minki van der Westhuizen die voorreg hê om ware liefde te laat blom tussen die boere en die deelnemers. Dié werklikheidsreeks, wat ook internasionale sukses geniet, het oor die afgelope sewe jaar baie gewild geword op kykNET.

Boer soek ’n Vrou is vanaf 20 Oktober 2016 elke Donderdag om 20:30 op die kassie.