Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13

Alles wat jy moet weet oor Suidooster!

Nuus
11 Julie 2016
Suidooster, kykNET se gewilde daaglikse drama, is van hierdie week vier dae ’n week op die kassie met ’n ekstra episode op Donderdae.
Suidooster

Suidooster, kykNET se gewilde daaglikse drama, is van hierdie week vier dae ’n week op die kassie met ’n ekstra episode op Donderdae.

As jy dalk nog nie Suidooster gekyk het nie, is dit nog nie te laat nie! Hier is van die belangrikste inligting en storielyne tot op hede wat jou sommer gou op hoogte sal bring.

Waaroor gaan Suidooster?

Suidooster speel in ’n fiktiewe woonbuurt in Kaapstad in Ruiterbosch af waar die Suidooster-sentrum is, wat die kern van die gemeenskap is. Hier is onder meer AB en Mymoena Samsodien se apteek en Oom Fasie se koffiewinkel, Oos Wes.

Die sentrum word deur Bridgette October en haar suster, Lee-Ann besit, maar Bridgette se uitgeslape man, Ian, het ook ’n aandeel – hul oorlede pa is die oorspronklike eienaar, en hul ma, Mrs J, het haar aandele vir haar kinders gegee.

Ian het ook sy eie sakeryk en besit en bestuur talle eiendomme. Sy kinders, Jerome en Nicci, asook Rhafiek Samsodien werk vir hom. Chris du Plooy tree dikwels as handlanger vir Ian op, baie keer teen sy wil, maar om een of ander rede kan hy nie onder Ian se vlerk uitkom nie. Sy seun, Tim, werk weer vir Ian as argitek. Stefan Gerber werk by Oos Wes en sy vrou, Michelle, by die apteek.



Wie’s wie in Ruiterbosch:

• Die Octobers: Ian en Bridgette October, met hul kinders, Jerome en Nicci.
• Die Samsodiens: Suidooster se Moslemgesin, AB en Mymoena Samsodien. Hulle het ’n tweeling, Rhafiek en Rhiyaaz. Rhiyaaz is oorsee en het nog nie in Suidooster verskyn nie.
• Die Jacobs-gesin: Bridgette se ma, Mrs J, en haar jonger suster, Lee-Ann.
• Die du Plooys: Chris en Rita du Plooy, en hul enigste kind, Tim.
• Die Gerbers: Stefan en Michelle Gerber. Stefan is Chris se susterskind en bly by sy oom.
• Die Fouries: Bianca is Mymoena se biologiese dogter, maar is weg gegee as baba vir aanneming. Haar aangenome suster is Carmen.

Die akteurs in Suidooster:

Abduraghmaan Adams: Ian October
Cedwyn Joel: AB Samsodien
Danny Ross: Jerome October
Denise Newman: Bridgette October
Desiré Gardner: Carmen Fourie
Gerwen Simon: Nicci October
Gideon Lombard: Stefan Gerber
Greta Pietersen: Michelle Gerber
Illse Roos: Rita du Plooy
Irshaad Ally: Rhafiek Samsodien
Jill Levenberg: Mymoena Samsodien
Johan Botha: Oom Fasie
Marcel van Heerden: Chris du Plooy
Marco Spaumer: Tim du Plooy
Portia Joel: Lee-Ann Jacobs
Simone Biscombe: Bianca Fourie
Theresa Sedras: Sharleen Jacobs (Mrs J)





 

Belangrikste Suidooster-storielyne:

• Die verlore dogter keer terug
Tydens Mrs. Jacobs se sewentigste verjaardagpartytjie daag haar verlore dogter, Lee-Ann Jacobs, op. Bridgette, die ouer suster, is nie gelukkig hieroor nie (Lee-Ann het destyds ’n skelmverhouding met Ian aangehad) en probeer alles in haar vermoë om haar uit Ruiterbosch weg te kry. Ons het mettertyd uitgevind dat hul pa, Henry Jacobs, oorlede is as gevolg van Lee-Ann se dwelmverlede en Bridgette se jaloesie. Mrs J hoop haar dogters sal eendag met mekaar vrede kan maak, maar Bridgette vertrou Lee-Ann nie vir een oomblik nie.

• Ian October en die Suidooster Sentrum
Ian October wou die Suidooster Sentrum, waarvan hy net die bestuurder was, uiteindelik besit sodat hy daarvan ontslae kon raak en met ’n nuwe ontwikkeling begin. Maar hy het volle eienaarskap nodig gehad om sy planne deur te sien – eienaarskap wat hy net kon kry mits Mrs. J dit aan hom oorteken. Wanneer sy langverlore skoonsuster egter opdaag, ontvang sy vanaf Mrs. J haar aandele in die Suidooster Sentrum. In die proses ontvang sy vrou, wat nooit ’n vinger lig nie, ook aandele in die sentrum. Wanneer Lee-Anne sy aanbod om haar uit te koop van die hand wys, mik hy sy visier op ’n brose en baie oue Mrs. J. Ian en Chris beraam ’n plan om Mrs. J onbevoeg te verklaar, sodat sy noodgedwonge die bestuur van haar aandele en die sentrum in Ian se hande moet oorlaat. Bridgette vind uit van Ian se planne om sy ma onbevoeg te verklaar en wanneer die aandeelhouers oor die toekoms van die sentrum moet stem, stem sy teen haar man. Ian verloor sy greep op die Suidooster Sentrum.

• Bianca Fourie spoor haar biologiese ma op
Mymoena en AB Samsodien is in ’n stabiele, gemaklike verhouding. Maar wanneer Mymoena se kind, Bianca Fourie, opdaag, breek alle hel los. Mymoena het Bianca sonder AB se medewete gehad en opgegee vir aanneming voor hulle getroud is. Bianca kom in met die doel om haarself in die gemeenskap te vestig, sodat sy toegang tot Mymoena het. Sy soek werk in die apteek en word uiteindelik verwys na Oos Wes waar sy werk as ’n kelnerin kry. Bianca erken uiteindelik aan haar nuwe vriendin, Michelle Gerber, dat haar biologiese ma in die sentrum ‘werk’. Sy maak Michelle belowe sy sal dit alles geheim hou. Maar Bianca en Mymoena raak skielik na aanmekaar. Bianca onthul aan Mymoena dat sy haar dogter is. AB is verslae en wil skei, maar na weke se baklei en selfverwyt kom dinge tussen die Samsodiens reg en Bianca raak deel van die familie.

• Michelle en Stefan Gerber ervaar tragedie
Stefan en Michelle Gerber is familie van Chris en Tim du Plooy wat noodgedwonge by hulle moet intrek vir 'n onbepaalde tyd. Hulle kom albei van Pretoria en is nuut in die Kaap. Hulle is in 'n klein finansiële oorlog as gevolg van Stefan se ambisie en dit dreig om hulle huwelik te verwoes, maar daar is ook Michelle se behoefte aan 'n gesin. Sy raak onbepland swanger en hy vermoed sy het hom bedrieg. Michelle is alleen gelukkig oor die vooruitsig van 'n gesin, maar Stefan moet die nuus nog verwerk. Wanneer hy dit wel aanvaar, verloor Michelle die baba.

• Ian October kom sy moses teë
Ian, steeds bitter oor die sentrum nie aan hom behoort nie, maak ’n ander plan. Wanneer hy ’n ou vriend, Harry Galant, raakloop, besluit die twee van hulle hom weer bande te smee. Ian beplan om lewe in die sentrum ondraaglik en onuithoubaar te maak deur ’n klomp klein misdade te laat pleeg: diefstal, inbrake, gewapende roof, en so meer. Hy het gehoop dat Lee-Ann en haar gesin die sentrum sal wil verkoop, maar dinge loop egter skeef wanneer Harry sy eie kop begin volg. Hy wurm hom in by die October-huis en hou Bridgette, Nicci en Jerome gyselaar terwyl Ian volgens Harry se pype moet dans. Maar Ian kom tot sy gesin se redding en laat Harry gaan voordat die polisie hom beetkry, wetend dat as hulle doen, sal sy eie bose planne aan die lig kom. Die skrik wat Ian op die lyf gejaag is, verander hom handomkeer, maar vir hoe lank?

• Jerome se eerste groot liefde
Jerome kan nie uitgepraat raak van ’n bootpartytjie waarna hy uitgenooi is nie. Wanneer Jerome die oggend ná die bootpartytjie wakker word, word hy nie alleen wakker nie. Jerome skrik wakker in die October-sitkamer met ’n pragtige blondine, Carmen Fourie. Hulle besef gou dat hulle die vorige aand getrou het. Hulle probeer dit ’n geheim hou terwyl hulle na ’n uitweg soek – hulle moet skei, maar hulle het geen idee waar om te begin nie. Intussen begin hulle van mekaar te hou. Toe die Octobers uitvind van die huwelik, dring daarop aan dat die twee van mekaar skei. Na lekker drama besluit hulle wel om te skei, maar wanneer Jerome sy liefde aan haar verklaar, trek hulle saam in. Hulle vind egter uit dat die haastige hond wel sy mond verbrand het.

• Rita du Plooy maak haar verskyning
Rita du Plooy is Chris se vrou en Tim se ma. Sy is terug by die huis na baie jare se behandeling vir skisofrenie. Sy is ontslaan omdat betalings na die sanatorium gestaak is – ’n teer saak vir Chris wat nie sy eie vrou se mediese onkostes kan dek nie. Rita probeer baie hard om normaal voor te kom. Wanneer sy terug is by die huis, is daar egter soveel emosies wat sy wil en behoort te ervaar, maar nie kan nie weens haar medikasie. Rita besluit om een dag van haar medikasie oor te slaan om te kyk hoe dit gaan. Rita ervaar niks anders vandat sy haar pille gelos het nie, besluit om dit dan permanent te los. Dinge loop skeef wanneer sy begin vermoed haar man sien iemand anders, die ene Lee-Ann Jacobs. Chris besef Rita het opgehou om haar medikasie te neem en smeek haar om dit weer te gebruik. Rita dink Chris se smeek is deel van ’n groter komplot teen haar. Rita se toestand verswak en sy dink die enigste veiligste plek is op straat – sy verdwyn. Wanneer hulle haar wel opspoor, besef hulle dat Rita teruggestuur moet word en dié keer dalk permanent…

• Fasie se groot liefde sterf, maar daar’s ’n slang in die gras

AB sukkel om te herstel ná die skietvoorval in die apteek en kort voor lank begin PTSS-simptome kop uitsteek. Hy dring daarop aan om weer by die apteek te werk, teen almal se besware. Hy staan sy man en begin weer by die apteek te werk. Hy maak foutjies, hy sukkel om te konsentreer en almal is bekommerd. AB erken uiteindelik sy simptome en besluit om ’n terapeut te gaan sien. Maar wanneer Fasie se Matilda die verkeerde pille drink en sterf aan ’n hartaanval, word die grond weer onder AB uitegruk… Derick, Mathilda se seun, sweer wraak teen AB en sy apteek. Maar is AB skuldig? Of is daar iemand anders te verwyte?

Suidooster saai Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET en kykNET & kie uit, met ’n herhaling om 20:00 op kykNET & kie.