Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Nuwe dramareeks begin in Julie – Spoorloos II: Heksejag

Nuus
25 Junie 2020
Die vorige reeks van Spoorloos het kykers vasgenael gehou en hierdie, ‘n splinternuwe tweede reeks met nuwe karakters en sy eie storielyn, beloof om dieselfde te doen.
Banner copy

spoor’loos b.nw. en bw. Sonder 'n spoor agter te laat: Spoorloos verdwyn.

ge-heu’e s.nw. 1. Vermoë om iets te onthou: 'n Slegte, goeie geheue hê. 2. Herinnering. 3. Die gees as setel van die vermoë om te onthou: Iets in die geheue inprent, bewaar.

Adam word wakker uit 'n koma van agtien maande, veroorsaak deur 'n ongeluk op die aand van sy matriekafskeid. Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar Adam kan niks daarvan onthou nie. Om die waarheid te sê eindig sy herinneringe die dag voor sy tiende verjaardag …

Die vorige reeks van Spoorloos het kykers vasgenael gehou en hierdie, ‘n splinternuwe tweede reeks met nuwe karakters en sy eie storielyn, beloof om dieselfde te doen. Die hoofskrywer en regisseur is weer die bekroonde Ilse van Hemert met Christo Davids as haar assistent. Die ander lede van die skryfspan is Jan Lampen, Marisa Drummond en Beyers de Vos.

“Hierdie reeks het dieselfde DNS as die vorige reeks,” sê Ilse. “Dit speel in ‘n klein dorpie af, daar is ‘n verdwyning, daar is ‘n raaisel wat opgelos moet word en die verlede het ‘n groot invloed op die hede. Daar is dus twee tydsvlakke en drade wat aan die einde weer moet saamkom.”

“Dit was ‘n aanpassing om op ‘n dramareeks te werk,” sê Christo wat voorheen op ‘n sepie gewerk het en ook bekend is as teaterregisseur. “Dis verskriklike harde werk om ‘n reeks aanmekaar te sit. Gelukkig is Ilse ‘n briljante leermeester. Ek het met die maak van Spoorloos: Heksejag in drie maande geleer wat ander mense seker in vyf jaar geleer het. Die eerste reeks van Spoorloos het so ‘n hoë standaard gestel dat ons alles moes uithaal om dit nóg beter te maak.”

Meer oor Spoorloos: Heksejag. Adam se ontwaking wek baie belangstelling, maar nie almal is ewe bly dat dit gebeur het nie. Daar is ‘n vrou wat in die hospitaal rondsluip en die dokter is oënskynlik baie senuagtig. Wanneer Adam later ‘n traumatiese gebeurtenis onthou, besluit hy om self te probeer uitvind wat die aand van die motorongeluk gebeur het. Het dit enigiets te doen met die skoolmeisies wat van heksery verdink is?

En die heksejag in die titel?

“Heksejag is ‘n gejaag na iets of ‘n soek na ‘n sondebok wat nie bestaan nie,” sê Ilse en lag. “Daar is dalk een van die eerste leidrade van die reeks.”

In die rolverdeling is Andahr Cotton as Adam Prinsloo, Lee Visagie as Christa en Gérard Rudolf as Frans Prinsloo, Adam se pa. ‘n Paar talentvolle spelers wat ‘n welkome terugkeer tot televisiedrama maak, sluit in Philip Moolman, Elma Postma, Vuyelwa Mpela, Hanli Rolfes en Bertha le Roux-Wahl. Ander in die rolverdeling is Carla-Marie Myburgh as Wanda, Natassja Pretorius as Yvette en Huey Louw as Hannes.

Die eerste van die tien episodes van Spoorloos: Heksejag begin op 14 Julie om 20:00 op kykNET, kanaal-144.