Logo

Ontmoet die gesinne – Slank: Gesonde Gesinne

Nuus
04 Julie 2019
In die vierde seisoen van Slank volg ons vier vermaaklikheidspersoonlikhede se verslankingsreis saam met hulle gesinne.
Leandie_Artikel

Die energieke Slank-aanbieder Leandie du Randt is terug vir nóg ’n seisoen. Dié keer gaan vier bekende Suid-Afrikaanse families oor ’n tydperk begelei word deur geneeshere en dieetkundiges om ’n gesonde leefstyl van lae koolhidrate en gesonde vette aan te moedig. Die families se eetgewoontes kom onder die soeklig by geleenthede soos verjaarsdagpartytjies, uitstappies, kuiertjies deur vriende en selfs kospakkies skool toe. Die outeur van drie kookboeke, Iné Reynierse, gee raad aan die families oor hoe om ’n gesonde leef- en eetstyl vol te hou.

Ontmoet die Slank-gesinne

Bertha Wahl en gesin

Wat het jou gemotiveer om saam met jou gesin deel te word van Slank: Gesonde Gesinne?

Ons wou graag ’n gesonder leefstyl vind en die motivering hê om dit toe te pas. Dis geen geheim dat ek maar sukkel met die ekstra gewig nie en ek is dankbaar dat my gesin bereid is om saam met my ’n leefstylverandering te maak.

Watter inligting/hulp/raad/aanbevelings in verband met jou eetgewoontes het jy waardevol gevind?

Daar is ’n paar dinge wat ek waardevol gevind het – die feit dat my liggaam nie koffie in die middag goed verteer nie, was een van hulle. Om intermittend fasting te probeer vir myself, wat groot resultate lewer. Dat ons lekker kan eet, al is dit gesond. Ek geniet dit om nuwe kosse te probeer en bietjie te bak en brou op die LCHF-manier.

Watter uitdagings is daar in jou daaglikse lewe om vir jou gesin gesonde kos voor te sit?

Tyd en beplanning is gewoonlik die groot probleme wat my onderkry. En dan is my jongste ’n baie kieskeurige eter.

Watter raad kan jy aan gesinne gee wat ook graag 'n gesonde leefstyl wil volg?

Begin met ’n gesprek met die kinders, dat julle graag almal saam ’n gesonder leefwyse wil volg. Verseker hulle dat daar wel lekker kosse is. Hulle moet ook weet dis nie ’n straf nie, maar uit liefde vir hulle en hulle toekomstige gesondheid dat julle dit doen. Ek het vir my kids gesê hulle kan op ’n Sondag drie kosse kies wat hulle graag wil eet – maak nie saak wat nie. Dit het hulle gerus gestel. Maak saam ’n pakkie op van al die kosse wat julle nie meer gaan eet nie en gee dit saam aan iemand wat dit kan gebruik. Laastens hou die gesprek oop, probeer kosse kry wat in hulle smaak val en as hulle saam kosmaak, is hulle meer geneig om ten minste die kos te probeer.

Ingrid Paulus en Denver Vraagom


Wat het jou gemotiveer om saam met jou gesin deel te word van Slank: Gesonde Gesinne?

Denver: Ek wou doodeenvoudig slegte eetgewoontes afleer en ontslae raak van my lifebuoy, my floating device

Ingrid: Op die oomblik is daar baie veranderinge wat plaasvind in ons lewens en die program Slank het net op die regte tyd gekom. Ek en Denver het besluit dis hoog tyd dat ons aan ons gesondheid dink.

Watter inligting/hulp/raad/aanbevelings in verband met jou eetgewoontes het jy waardevol gevind?

Denver: Die eet van vet het my afgeskrik omdat ek ’n probleem met hoë bloeddruk het, maar toe hoor ek die waarheid oor sekere vette (gesonde vette). Ook die gebruik van sout en suiker het baie gehelp. Dan is daar die raad oor etensure wat baie gaan help. 

Ingrid: Wat vir my baie waardevol was, is dat daar altyd ’n vervanging is, soos bv. xylitol.

Watter uitdagings is daar in jou daaglikse lewe om vir jou gesin gesonde kos voor te sit?

Denver: My werksure was ook altyd ’n probleem, maar daar is vinnige, gesonde disse, wat ek kan voorberei en nie skuldig te voel oor my werksure nie. 

Ingrid: Daar is nie altyd tyd om ’n spread op die tafel te sit nie. Iné se resepte is maklik en vat nie so baie tyd nie.

Watter raad kan jy aan gesinne gee wat ook graag ’n gesonde leefstyl wil volg?

Denver: Volg ’n voedsame, gebalanseerde dieet. Niks is onmoontlik nie. 

Ingrid: Dis nooit te laat om met ’n gesonde leefstyl te begin nie. Aan die einde van die dag is dit net beter vir jouself en jou gesin. 

Vicky Davis en gesin


Wat het jou gemotiveer om saam met jou gesin deel te word van Slank: Gesonde Gesinne?

Ek is al redelik lank bewus van die leefstyl en is ’n groot aanhanger van Iné Reynierse vandat ek een keer ’n TV interview met haar moes doen en ook haar boekbespreking behartig het by die bekendstelling van haar derde boek. Hoewel ek die dieet probeer het, het ek sedertdien van die bus geval, ook omdat die res van die familie dit nie saam met my gedoen het nie. So ek wou graag meer leer hoe om dit toeganklik te maak vir my, Schalk en die kinders. Ek wou ook graag meer leer oor LCHF-kosmoontlikhede vir kinders en ek was ook opgewonde om my DNA te kon laat ontleed – ek sukkel oor die algemeen met inflammasie in my liggaam en ek weet Iné is ’n boffin daarmee. Die idee dat ’n mens die kennis het om jouself gesond te kan eet, vind ek baie bemagtigend .

Watter inligting/hulp/raad/aanbevelings in verband met jou eetgewoontes het jy waardevol gevind?

Ek het veral die tips oor hoe om steeds lekker, maar gesond te eet handig gevind, want kinders hou maar van bederfies – lekkernye soos pizza en brownies kan mens steeds net so lekker maak terwyl dit nou gesond is. Ek het ook geleer oor my gene – ek sukkel veral met detoks, so ek het nou tips gekry watter kosse my die beste gaan dien en wat om te vermy. Ook (raad oor) watter aanvullings goed sal wees – bv. ek het uitgevind my liggaam maak nie genoeg kollageen nie en dat ’n aanvulling sal help om nie maklik beserings te kry nie en dat magnesium goed is vir detoks, om maar net twee te noem.

Watter uitdagings is daar in jou daaglikse lewe om vir jou gesin gesonde kos voor te sit?

Die uitdagings is meer vir my as die gesin omdat ek besef het die geheim lê in die beplanning van etes en die aankoop van die regte kosse in die winkel. As die regte kos in die kas en yskas is, dan is daar nie slegte opsies om te kies nie. Ook belangrik is om vooraf gesonde peuselhappies te maak of te koop sodat wanneer ’n mens haastig is en sommer iets wil gryp, daar ook die regte opsies is. Ons het besef dit gaan oor besluitneming – in ’n restaurant by vriende – mens kan altyd kies om die regte kosse te eet en die regte kosse te vermy. Mens moet ook jouself grasie gee, ek dink mens kan die dieet 90% van die tyd reg kry, maar daar sal altyd die 10% van die tyd wees wat mens nie beheer het nie. Die geheim is om net te volhard en te volhou! 

Watter raad kan jy aan gesinne gee wat ook graag ’n gesonde leefstyl wil volg?
My raad is om goeie navorsing te doen en regtig te verstaan hoekom jy jou dieet wil verander. As jou brein eers gekop het hoe skadelik sekere algemene kos soos suiker is, kan jy dit nie ooit weer “ontweet” nie. Dit gaan nie net oor gewig verloor nie, die motivering moet wees om gesonder te wil leef oor die langtermyn. My grootste motivering is om vir my kinders van vroeg gesonde gewoontes te leer sodat hulle nie (soos ons) die res van ons lewens moet werk daaraan om dit af te leer nie!

Eloise Cupido en gesin


Wat het jou gemotiveer om saam met jou gesin deel te word van Slank: Gesonde Gesinne?

Gesondheid was nog altyd vir my baie belangrik. Net voor ek swanger geraak het en op pad na my troudag het ek ’n groot poging aangewend om dinge so bietjie reg te stel na ’n paar jaar se op en af met my gewig en minder as ideale liggaamsperspektief. Om groter te wees as waaraan ek en dus ook ander mense gewoond is op TV kan nogal knaag aan jou selfbeeld. Sommige mense kwes met hul onbedagde woorde. Toe ek die voorreg gehad het om swanger te raak, was ek op die beste plek in my kop, my lyf en my siel. Ek voel dit het baie bygedra tot my wonderlike swangerskap. So ek het gespring toe Karin my nader om hierdie reis met my gesin mee te maak. Ek is ’n massiewe boekwurm en biologie was nog altyd my gunstelingvak, benewens tale. So ek wil soveel as moontlik aan die voete van ons kenners sit en ’n bloudruk ontwerp waarmee ek die gesondheid van my gesin kan verseker.

Watter inligting/hulp/raad/aanbevelings in verband met jou eetgewoontes het jy waardevol gevind?

Ek het jare gelede al dinge soos margarien uitgegooi en eet min kitskos. Ek moes so 4/5 jaar gelede vir ’n ruk alle gluten en laktose uitsny om ’n erge reflux-episode te behandel. So ek het dus reeds toe al begin met al die goeie olies en het my seuntjie se eerste kossies self gemaak van organies groente en kwaliteite grasgevoerde vleis. Maar die DNS-analise was vir my ’n besondere hoogtepunt. Dit is vir my die grootste trekpleister. En toe die wonderlike dag toe ek die analise doen met Annelie en Iné! Ek het vir dae nog getob en nagedink oor alles en om toegang tot hulle te hê, is absoluut prysloos. Ek kan nie wag om weer terug in Suid-Afrika te wees sodat ek die coaching sessies kan hê nie. Dankie Karin vir die voorreg om deel te wees van hierdie wonderlike program.

Watter uitdagings is daar in jou daaglikse lewe om vir jou gesin gesonde kos voor te sit?

My en my man se werkskedule is uitdagend. Hy werk weg van die huis en ek cope eerlikwaar sommige dae eenvoudig nie. Ek is vir weke alleen tuis met kleinman. Ek is ook nie een van daai hoofmeisie-styl mammas wat die week vantevore al haar maaltydbeplanning gedoen het en presies weet hoe haar en haar kinders se lewens gaan verloop nie. Genade! Ek wens. So elke dag speel ek effentjies Russiese Roulette met wat in my kas is. Ek kry dit meestal reg om gesond te eet, want ek het die stapelbestanddele altyd in my huis. Ek koop gereeld vars vrugte en groente en ek het goeie vleis in my vrieskas vir ingeval ek nie daai week by die winkels kan uitkom nie. Maar as gevolg van van minimale beplanning haal ek omtrent nooit betyds die vleis uit om te ontdooi nie. Kleinman eet alles behalwe groente op die oomblik so ek steek sy groente weg in die tamatiesous waarin ek maalvleis gaarmaak. Hy is mal oor pasta. En kaas, veral parmesaan. Ek sal baie graag wil leer hoe ek vinnig, smaaklik en bowenal heerlike kos kan maak wat ons albei kan eet, want ek kook nie twee keer nie. Wie het nou tyd vir dit?! Ek is ook lief vir kosmaak, kook en bak. Koekies is ’n geskenk wat ek gereeld vir my geliefdes maak van my oorlede Antie Lena se resep. Kos is vir my ’n belangrike deel van my bestaan. Ek leef om te eet. Ek verlustig my in smake en geure en kan my nie ’n lewe sonder kos voorstel nie.

Watter raad kan jy aan gesinne gee wat ook graag ’n gesonde leefstyl wil volg?

Die eerste stap is om tyd te vat sodat julle ’n kristalhelder rede kry oor hoekom ’n gesonde leefstyl belangrik is. Betrek die kinders daarby. Voorbeeld, voorbeeld, voorbeeld. Dis die enigste manier hoe ons leer. Ek moet voor my kind eet wat ek wil hê hy moet eet. Hy mag dalk nie nou dadelik my voorbeeld volg nie, maar die grondslag sal steeds gelê word. As jy eers weet hoekom, sal jy dit kan volhou. Meeste mense kan nie self tot so ’n besluit kom nie. Ons liggame en siele smeek vir ’n bietjie beskerming van al die gemors, en veral die impak van stres. Meeste mense wag tot hulle liggame so hard skree dat hulle geforseer word om te stop, om aan te pas om hul lewe/gesondheid te red. So vir dié wat reg is, hier is my bietjie raad: Kry hulp. Raak ontslae van al die gemors in jou huis. As dit nie in die huis beskikbaar is vir jou en jou kinders nie, sal dit nie geëet word nie. Dit is verbasend hoe vinnig jou smaakkliere aanpas wanneer jy suiker uitsny, goeie vette byvoeg, regte egte groente koop en met sorg gaarmaak. En dan proe kos eers lekker.

Meeste mense sny hele voedselgroepe uit in allerhande wilde diëte en wil jare se mishandeling oornag regstel. Eet kos in sy natuurlik vorm. Whole foods. Alles hoef nie organies te wees om goed te wees nie. Mense vergeet hoe belangrik die kwaliteit van die grond is wanneer groente en vrugte organies gegroei word, want jy wil organiese kos hê met maksimum voedingswaarde. Plant groente en kruie in jou tuin en kook daarmee. Ek het voor my seun se geboorte dit gedoen en groente uit jou eie tuin proe 1000% beter as selfs die beste organiese winkel s’n. Glo my. Ek sien uit daarna om weer in my tuin te woel en vir kleinman te wys waar sy kossies vandaan kom. En sê dankie vir die voorreg om kos te kan eet. Seën dit in jou mond sodat dit jou lyf kan seën.

Slank skop 7 Julie om 17:30 af op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Slank.