Logo
skole top 10 slim bb
kykNET_Nou_kanaal_146_logo_png

Skole Top 10

146LeefstylPG

Die Kwarantyntrein – Skole Top 10

Nuus
27 Maart 2020
Skole Top 10 het ʼn opwindende nuwe reeks wat julle samewerking gaan nodig hê.
<p>Skole Top 10 Logo</p>

Stuur vir ons een of meer video’s van jou, jou familie of vriende wat enige van die volgende uitdagings aanpak. Miskien doen jou ouers iets snaaks – stuur dit sommer ook in. Gebruik jou kreatiwiteit! Jy is welkom om enige ander unieke video ook te stuur wat nie op die lys voorkom nie. Onthou net om jou ouers se toestemming te kry voor jy vir ons stuur. Ons kan nie wag om te sien wat julle opdis nie!

Onderwysers en ouers, julle is baie welkom om deel te neem aan hierdie uitdaging en video’s in te stuur! Ons is baie nuuskierig om ook te sien wat julle doen by die huis.

HIER IS ‘N PAAR IDEES:

1.Poets

Is jy ʼn grapjas wat daarvan hou om so af en toe iemand se been te trek? Stuur vir ons ʼn video waar jy iemand in jou huis ‘n poets bak en die gedoente op kamera vaslê. Maak seker dit is ʼn veilige poets en dat niemand seer kry in die proses nie.

2.Boomerang

Stuur vir ons ʼn boomerang soos gesien op Instagram, van jou wat besig is om ʼn aktiwiteit te doen tydens vakansie/kwarantyn. Gee dit jou eie look and feel en kyk of jy ‘n gewone boomerang bietjie meer uniek kan maak.

3.Meme

Stuur ‘n meme wat jy self gemaak het, waarmee jy jouself kan vereenselwig tydens die vakansie/kwarantyn en stuur ʼn video wat verduidelik waarom dit so van pas is. Jy moet dit kan wys terwyl jy verduidelik hoe jy aan die idee gekom het.

4.Stokperdjie

Stuur ʼn video van jou wat jou stokperdjie doen. Dit kan enige stokperdjie wees. Kreatief, sportief, snaaks, absurd, ens. Dalk het jy jouself leer kitaar speel, speel golf in die huis, of doen naaldwerk. Ons sal graag wil sien.

5.Kook en geniet

Maak of jy die aanbieder van ‘n kookprogram is en verduidelik vir ons hoe om jou gunsteling gereg te maak. Fokus hier op die feit dat daar min bestanddele beskikbaar is, soos blikkieskos. Probeer die label van die bestanddele wegsteek.

6.Troeteldier

  • Stuur ʼn video van jou troeteldier(e) of jouself saam met jou troeteldier(e) wat iets oulik, snaaks of ‘n indrukwekkende toertjie doen.
  • As jy ‘n unieke troeteldier het, stel ons en die kykers voor aan hom/haar.
  • As jy plaasdiere het, wys ons bietjie hoe hulle lyk.

7.Ek blok nie die uitsig nie, ek is die uitsig

As jy op ‘n plaas of kleinhoewe woon, wys ons hoe lyk dit buite. Almal is verveeld in hulle huise, maar gelukkig het party van ons ‘n uitsig wat bietjie meer opwindend is as die bure se huis. Wys vir ons as jy ‘n mooi, interessante, snaakse of unieke uitsig het.

8.Onderhoud met ouers/familielid

Voer ʼn onderhoud met jou ma/pa/ouma/oupa /toesighouer/boetie/sussie/enige familielid oor ʼn interessante/snaakse tema. Probeer die aanslag van die onderhoud humoristies hou. Jy kan ook ʼn onderhoud voer met jou gunsteling karakter. Moet nie skaam wees om jou familielede dress up te laat speel nie. Trek hulle aan soos ‘n superheld, prinses of televisiekarakter en laat hulle ʼn paar vrae beantwoord.

9.Gunsteling skoolherinnering

Verduidelik jou gunsteling skoolherinnering tot dusver of iets van skool wat jy die meeste mis terwyl jy by die huis is. Moenie skaam wees om jou emosies aan te skakel nie. Speel emosionele plaaslike musiek in die agtergrond terwyl jy by ʼn venster uitstaar en ons vertel.

10.Vine / Tiktok

Maak ʼn TikTok of Vine geïnspireerde videoskets of kort toneelstukkie waarin jy enige skool/kwarantyn/vakansie/vriende video vir ons stuur. Onthou dit is slegs geïnspireer deur die platforms en kan daar ongelukkig nie ‘n logo daarvan op jou video wees nie.

11.Uitdaging vir kunstenaar

Is daar ʼn Suid-Afrikaanse kunstenaar wat jy wil uitdaag? Stuur ʼn video aan ons waar jy daardie kunstenaar uitdaag om iets spesifiek te doen. Jy kan self die uitdaging doen en dan vra of die kunstenaar dit ook kan doen. Dink aan iets wat jy dalk nie noodwendig self gaan doen nie, maar graag sal wil sien die kunstenaar doen.

12.Vrae aan 'n spesifieke kunstenaar

Is daar ʼn Suid-Afrikaanse kunstenaar vir wie jy spesifieke vrae het? Stuur ʼn video aan ons waar jy vir daardie kunstenaar 5-10 vrae vra wat hulle, indien moontlik, kan beantwoord.

13.Gedig/monoloog/liedjie

Stuur vir ons ʼn opname van jouself wat ʼn gedig, monoloog OF liedjie wat jy self geskryf het, opvoer. Dit kan oor skool, vakansie of jou tyd by die huis wees. Dit kan ook ‘n gedig/opname/liedjie wees wat jy wil opdra aan iemand spesiaal. Jy kan selfs kletsrym as jy wil.

14.Talent

Stuur vir ons ʼn video waar jy jou talent uitleef. Jy kan sing, dans, op jou kop staan, ʼn besem op jou neus balanseer of enige iets anders.

15.“Eat it or wear it”

As jy hierdie uitdaging wil aanpak, dra dan jou ou klere. Twee deelnemers moet ‘n verskeidenheid van kosse in sakkies plaas met nommers op die sakkies. Julle moet ook ʼn bakkie hê met al die nommers in. Elkeen kry ʼn beurt om ʼn nommer uit die sakkie te trek en die kossoort in die sakkie te eet. As daardie persoon weier om dit te eet, moet hulle dit uitgooi op hulle kop of smeer op hul gesig. Die wenner is die persoon wat die minste vuil is na die uitdaging. Dit is 'n prettige en vermaaklike uitdaging.

16.Lip sync of air instrument

Kies jou gunsteling Afrikaanse liedjie en lip sync daarop of hou ʼn lip sync battle saam met iemand in jou huis. Jy kan ook air kitaar, klavier of viool speel.

17.Snaakste babafoto

Neem ʼn video waar jy vir ons jou snaakste babafoto wys. Verduidelik vir ons wat gebeur het in die foto, hoe oud jy was en hoekom dit snaaks is.

18.Cotton ball challenge

Dit is ʼn baie eenvoudige, maar prettige uitdaging waarin 'n speler 'n leë bak op sy kop en 'n bak met katoenballe op sy skoot vashou. Dan word die deelnemer geblinddoek en moet hy/sy die katoenballetjies met 'n groot skeplepel in die bak op die kop skep. Die speler met die meeste katoenballetjies in die bakkie op die kop, wen.         

19.Try not to laugh uitdaging/ Dad jokes

Hierdie uitdaging is vir twee mense. Skryf ‘n paar grappies of dad jokes neer en vertel dit vir mekaar. Probeer om nie te lag nie. Elke keer wat iemand lag, kry die ander persoon ʼn punt.

20.Hoe jy jouself besig hou

Stuur ʼn kreatiewe video wat verduidelik hoe jy jouself by die huis besig hou. Wat doen jy om fiks te bly? Wat doen jy as jy moeg raak vir jou sussie/boetie?

21.Boodskap vir jou vriende en familie

Neem ʼn video waar jy ʼn boodskap stuur aan jou vriende of iemand wie jy lank terug gesien het. Dit kan vir jou oupa,ouma,vriend of enige ander familielid wees. Dra die boodskap op aan iemand wat jy nie nou kan sien tydens kwarantyn nie of net iemand wie jy baie mis.

22.Huisuitdaging

Wys vir ons hoe vinnig jy jou bed kan opmaak, skottelgoed kan was, gras sny of enige ander huistaak kan doen. As jy aan ʼn makliker manier kan dink om dié tipe take te doen, selfs ʼn meganisme gebou het om die proses vinniger te maak, wys dit vir ons.

23.Gunsteling rolprent

Tree ‘n gedeelte uit jou gunsteling rolprent op. Gebruik verskeie voorwerpe in die huis as rekwisiete, en kyk ook wat jy kan gebruik as kostuum. Jy kan ook dalk die rolprent sonder klank speel en probeer om die akteurs se lippe te lees.

Stuur jou video’s of navrae aan: 076 108 0919 of 076 129 6350

Die volgende moet aan die begin van jou video wees:

  • Naam en van
  • Ouderdom
  • Skool
  • As jy jonger as 18 is, moet ‘n ouer of ‘n voog aan die begin van die video noem dat hulle toestemming gee.

Aan die einde van jou video kan jy ‘n plaaslike musiekvideo voorstel wat jy graag op Skole Top 10 wil hoor.

  • Kyk gerus ons video wat ‘n paar wenke gee om ‘n goeie video te neem.
  • Jou video kan tussen 15 sekondes en 1 minuut wees.
  • Die foon/ kamera moet dwars of landscape wees.
  • Hou die foon/kamera so stil as moontlik.
  • Praat lekker hard en duidelik.
  • Maak seker daar skyn nie lig agter jou nie – anders “brand die skoot uit” soos ons in TV sal sê.
  • Probeer om nie musiek in jou video te hê nie, tensy jy lip sync, dans of iets doen wat musiek vereis. Hou ook jou musiek plaaslik.