Logo

Skelmpie: ‘Daar is baie hoop’

Nuus
12 Januarie 2018
Hoekom ’n program soos Skelmpie op kykNET?
Skelmpie-Daar-is-Hoop

Rian van Heerden. FOTO: Verskaf

Skelmpie gaan oor mense wat probleme ervaar in hulle verhoudings,” sê Rian van Heerden, aanbieder van die reeks.

Wanneer ’n derde party tot ’n verhouding toetree, weet die paartjie dikwels nie hoe hulle dit moet hanteer nie. “Moet hulle skei, moet hulle weer probeer, moet hulle aanbeweeg? Wat nou?” sê hy.

Die program is beslis nie ’n Jerry Springer of ’n Cheaters nie, skerm hy. “Dit het ’n baie unieke formaat.

“Al die aspekte van mense wat verneuk op mekaar word ondersoek en word behoorlik deurgetrap, en daar is altyd empatie en daar is altyd ’n nuwe manier van kyk daarna, en in elke enkele episode leer mense wat kyk na Skelmpie iets daaruit.”

Van Heerden meen dis “hoogtyd” dat ’n “menslike” program soos Skelmpie aangepak word, want verhoudings is nie altyd “sonskyn en rose, en maanskyn en skoenlappers” nie, en sommige verhoudings verlaat ongelukkg die spoor. “Dis nie hoe verhoudings werk nie.”

Die program kan kykers help om iemand by te staan wat deur iets soortgelyk moet werk. “Daar is baie hoop. Daar is ’n kans dat, na afloop van alles, jy sterker daarna gaan uitsien – dat jy ’n beter weergawe van jouself kan wees en dat jy hierdie kan oorleef.

“Mense wil hulle stories vertel, en ons moet oop wees om dit te hoor.

“Ons is nie hier om te oordeel nie.

“Ons het al episodes gehad waar mense in die gehoor sit en sê: ‘Ek het jou geoordeel 20 minute gelede, maar noudat ek jou storie gehoor het dink ek anders daaroor’,” sê hy. “Dit (die program) gaan definitief met die nodige menswaardigheid hanteer word.

“Eerlikwaar dink ek ons kan trots wees op hierdie program, en ons is!”

’n Eerste vir kykNET én Suid-Afrikaanse televisie! Kyk die eksklusiewe video-onderhoud hier onder:

Skelmpie word Saterdae om 20:00 op kanaal 144 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter by #Skelmpie.