Logo

Silwerskermfees 2016: Top-15-kortfilms

Nuus
14 Junie 2016
Lees meer oor die 15 kortfilms wat by vanjaar se kykNET Silwerskermfees, van 24 tot 27 Augustus 2016 in Kampsbaai, vertoon gaan word.
Kortflieks

Die kykNET Silwerskermfees, vanjaar in sy sesde jaar, gaan van 24 tot 27 Augustus 2016 in Kampsbaai aangebied word en beoog om die Suid-Afrikaanse filmbedryf, wat fiksie en dokumentêre rolprente sowel as kortfilms insluit, die platform te gee wat dit toekom.

Hier is meer oor die 15 kortfilms wat gekies is vir ontwikkeling en vervaardiging. Hierdie kortfilms gaan almal by vanjaar se fees vertoon word:

Koue Voete

Loklyn: Moenie ’n misdadiger aan sy skoene takseer nie.

Regisseur en skrywer: Lara Lourens het aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria studeer, waar sy praktiese ervaring opgedoen het in skryf, regie en toneelspel. Hoewel sy reeds haar teaterdebuut as regisseur gemaak het, is Koue Voete haar eerste professionele kortfilm as skrywer, regisseur en vervaardiger.

Die Bok

Loklyn: ’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel.

Regisseur en skrywer: Philip van Zyl is ’n filmmaker van Pretoria wat ’n voorliefde het vir eg Suid-Afrikaanse stories met sterk menslike temas. Paul Thomas Anderson, Denis Villeneuve en Martin Scorsese tel onder sy gunsteling-filmmakers. Philip van Zyl het die regie sowel as die teks van Die Bok behartig.

Onthou

Loklyn: Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol nonsens bejaarde dame, is daar reeds spanning vanaf die eerste woordewisseling. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n getal, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan.

Regisseur: Susan Coetzer is ’n bekroonde aktrise en word veral onthou vir haar teaterdebuut in Diepe Grond, asook TV-reekse soos Daisy de Melker en Meester. Sy is ook ’n erkende skilder, joernalis en ’n skrywer. Verder tree sy landwyd op – of as inspirerende/motiverende spreker of met haar nuwe eenvrou-komedie Koek en Tert, wat deur haar geskryf is.

Skrywer: Elanie Rupping maak haar deurbraak as skrywer tydens die tweede seisoen van die kykNET-jeugdrama Sterlopers. Sy is tans skrywer en teksredigeerder op die sepie Getroud met Rugby.

Vlees van my Vlees

Loklyn: Vyftien jaar na ’n gruwelooslike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hul twintigste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hul gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer.

Regisseur en skrywer: Na filmskool het Matthys Boshoff vir vier jaar in die kunstedepartement op verskeie internasionale films gewerk waarna hy ’n filmmakersresidensie in Amerika voltooi het. Hy het ervaring as skrywer vir televisie-drama en as regisseur op plaaslike sowel as internasionale advertensies. Hy ontwikkel tans ’n paar films.

Arts

Loklyn: Estelle red beseerde diere, maar haar verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker draai wanneer haar ma begin inmeng…

Regisseur en skrywer: PG de Jonge het halfpad deur ’n joernalistiekgraad besef hy hou meer van fiksie. Nou maak hy flieks en laat die nuus oor aan ander.

Merk. Sny. Stoor.

Loklyn: Wanneer ’n psigologiese versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma.

Regisseur en skrywer: Ricardo Liut is ’n multimedia- en grafiese ontwerp-dosent by die Noordwes-Universiteit. Hy het ’n BA in grafiese ontwerp en spesialiseer in fotografie, film en multimedia-ontwerp. Hy is tans besig met sy nagraadse studies. Sy MA in grafiese ontwerp fokus op film, narratologie en kinematografie. In 2015 is hy die regisseur vir die kortfilm Die Monoloog saam met Zoo Productions.

En die wiele van die bus gaan om en om

Loklyn: Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer 10 pasiënte van een geestesgestremde inrigting na ’n ander... EN VERLOOR SY VRAG.

Regisseur: Regisseur en SAFTA-wenner Pieter Grobbelaar smokkel al vir jare met ons harte en koppe met sy verhoogstukke, operas, televisiereekse en flieks. Pieter se skeppings lig mens se siel, met sy oorspronklike stem, unieke oog en gut vir komedie en ’n kreatiewe klap om die onmoontlike moontlik te maak.

Skrywer: Film-fanatikus Marina Bekker het haar plekkie in die son gekry toe sy begin skryf het. Met ’n hele paar toekennings onder haar belt gee sy deesdae vrye teuls aan haar obsessie om nuwe paaie oop te skryf om films te maak in elke moontlike gedaante.

Kolskoot

Loklyn: Fanus Niemand is toe iemand...

Regisseur en skrywer: Wimpie van der Merwe (33) verwerf sy B-Tech-graad in 2006 aan die Filmskool van TUT. Bekend vir sy rol as skrywer en regisseur van Karate Kallie werk hy sedertdien as skrywer, regisseur en kameraman in die filmbedryf.

Spoor(loos)

Loklyn: As ons maar net kon verdwyn.

Regisseur: Marisa Drummond is ’n bekende televisie-, film- en teater-aktrise. Sy het haar debuut as regisseur in die nuwe kykNET-sepie Getroud met Rugby gemaak.

Skrywer: PANSA-bekroonde skrywer Jannes Erasmus maak vanjaar sy kortfilmdebuut. Jannes is grootliks bekend vir sy grensverskuiwende teaterproduksies.

Oom

Loklyn: Na Oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad optel, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as mens nie jou geselskap ken nie.

Regisseur en skrywer: PJ Kotze is ’n filmmaker gebaseer in Johannesburg met ’n passie vir platteland-stories, regte klein-dorpie-karakters en avontuur. Hy is op sy absoluut gelukkigste as hy onder die water of bo-op ’n berg kan staan met ’n kamera in sy hand en vrees na vreugde kan verander. Na 5 jaar van klasgee in film, is hy tans voltyds toegewy om sy ondervindings as ’n Suid Afrikaner te probeer interpreteer en uit te leef deur film as medium. Film is die naaste wat hy al kon kom aan waarheid in die wêreld.

Hum

Loklyn: Thomas hoor die verlammende “hum” vir so lank al dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psigiater, Dokter Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana – die liefde van sy lewe – terug kan wen, ten spyte van die onafwendbare gedreun... Én die gevoel dat hy konstant dopgehou word...

Regisseur en skrywer: Willem Grobler is ’n Kaapse skrywer en regisseur met ’n agtergrond in verskeie velde binne die filmindustrie. Hy is ’n groot liefhebber van genre films, en met die ondersteuning van die NFVF ontwikkel hy tans sy speelfilm GOD IS GOOD – ’n Neo-Noir wat ondersoek hoe mense reageer as hulle gekonfronteer word met Suid Afrika se ekstreme vorms van onreg en geweld. Sy bekroonde kortilm THE GREAT GATSBY: REDEMPTION is binnekort te sien by die 2016 Durban International Film Festival.

Die Muse

Loklyn: ’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante, maar moeilike skrywer met Aspergersindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak?

Regisseur en skrywer: In 2014 ontvang Frannie van der Walt ’n BA Visual Communication-graad (met hoofvakke in Film & TV en Screenwriting), cum laude, vanaf The Open Window Institute in Pretoria, gevolg deur ’n BA Hon. Motion Picture Medium vanaf AFDA (met hoofvakke in Screenwriting en Directing) in Kaapstad in 2015. Hy werk tans as draaiboekskrywer en regisseur aan die kortfilm Die Muse vir KykNET se Silwerskermfees.

Plankekoors

Loklyn: Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of Vlug?

Regisseur: Nini Conradie het haar honneursgraad in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy spits sederdien haar fokus op verskillende areas van produksie. Plankekoors is haar debuut as regisseur.

Skrywer: Ludwig Binge het in 2014 sy meestersgraad in Drama en Teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is ’n vryskut-akteur en het deelgeneem aan verhoogproduksies soos Balbesit, Cabaret en Samsa-masjien, sowel as die speelfilm Johnny is nie dood nie.

Die Biker

Loklyn: ’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte afdraaipad gekies?

Mede-regisseurs: Geoffrey Butler en Lisba Vosloo. Geoffrey is ’n vryskut-regisseur en -redigeerder van verskeie televisieprogramme en advertensies. Hy het onlangs die mede-regie van ’n dokumentêre film oor Pieter-Dirk Uys behartig.

Skrywer: Lisba Vosloo is ’n bekroonde dokumentêre filmmaker, regisseur en redigeerder wat al op verskeie programme gewerk het wat strek van opera, met Eoan, Ode aan die Opera-era, tot oorlog, met Olive Schreiner, as formidabele vrou. Sy en vennoot Stef Albertyn het ’n naproduksiefasiliteit teen die hange van Tafelberg in Kaapstad.

Teksredigeerder: Henry Cloete is ’n skrywer van Kaapstad. Hy is betrokke by verskeie film- en televisieprojekte. Sy debuutroman, Draalnoot vir ’n janfiskaal, het in 2014 verskyn.

Beloofde Land

Loklyn: Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap, Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood gekonfronteer met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk.

Regisseur en skrywer: Mia Cilliers is ’n skrywer en regisseur van Kaapstad met ’n agtergrond in dokumentêre films, webreekse en werklikheidstelevisie. Sy het ’n Meestersgraad in Dokumentêre Kunste aan die Universiteit Kaapstad.

***

kykNET het ook hierdie jaar ’n sestiende projek geïdentifiseer as een wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van een van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel vir insluiting in volgende jaar se kortfilmprojek. Die titel van die film en die naam van die skrywer sal by vanjaar se fees bekend gemaak word.

Om die feesprogram vir elke dag af te laai, klik hier onder:

SSF FEESGIDS 2016_24 AUG
SSF FEESGIDS 2016_25 AUG
SSF FEESGIDS 2016_26 AUG
SSF FEESGIDS 2016_27 AUG

Bly hier op die hoogte van alle Silwerskermfees-nuus.