Logo

Silwerskermfees 2016: ’n Fees van rolprente

Nuus
20 Julie 2016
Van 24 tot 27 Augustus 2016 gaan die kykNET Silwerskermfees, vanjaar in sy sesde jaar, in Kampsbaai aangebied word en beoog om die Suid-Afrikaanse filmbedryf die platform te gee wat dit toekom.
Johnny is nie dood nie

Die res van die rolprente wat vanjaar by die Silwerskermfees vertoon gaan word, asook die rolverdelings van die vyftien kortfilms wat hulle debuut by die fees maak, is pas bekend gemaak.

Hier is die benoemings vir 2016!

Om die feesprogram vir elke dag af te laai, klik hier onder:

SSF FEESGIDS 2016_24 AUG
SSF FEESGIDS 2016_25 AUG
SSF FEESGIDS 2016_26 AUG
SSF FEESGIDS 2016_27 AUG

Kaartjies vir die fees is ongelukkig reeds uitverkoop.

VOLLENGTE ROLPRENTE

Vollengte rolprente wat vir die Silwerskerm-toekennings in aanmerking sal kom en dus deel van die kompetisie is, is as volg:

Dis Koue Kos, Skat

Wanneer Clara Brand uitvind haar man, Bernard, is besig om haar te verkul met haar vriendin en kollega Anais, begin Clara ’n nuwe lewe in die Kaap saam met haar twee kinders. Die rolprent is gegrond op ’n boek deur Marita van der Vyver en het Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz, Elzabé Zietsman, Frank Opperman en Angelique Gerber in die rolverdeling. Die regisseur is Etienne Fourie.

Johnny is Nie Dood Nie

Christiaan Olwagen, ’n bekroonde dramaturg en teaterregisseur, maak sy debuut as filmregisseur met hierdie rolprent oor ’n groep studentevriende in die laat 1980’s in die tyd van die Voëlvry-beweging, militêre diensplig en die Grensoorlog. Rolanda Marais en Albert Pretorius is van die spelers in die rolverdeling.

Noem My Skollie

Vier tienerseuns, AB, Gimba, Gif en Shorty, woon op die Kaapse Vlakte en probeer hulle bes om die bendes van die area te vermy. Ná AB ’n traumatiese ondervinding het, besluit hulle egter om hulle eie bende te stig. ’n Paar jaar later word AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem en tronk toe gestuur.

AB gebruik sy talent as storieverteller om die ander gevangenes te vermaak, en wanneer hy vrygelaat word, wil hy sy meisie, Jenny (Tarryn Wyngaard), met sy skryftalent beïndruk. Die res van die bende oortuig hom egter om ’n laaste keer by hulle aan te sluit.

Die verhaal van Skollie is gegrond op die ware verhaal van John W Fredericks, ’n wêreldbekende draaiboekskrywer. Die fliek speel in die 1960’s af.

Shepherds and Butchers

Suid-Afrika, 1987. Wanneer Leon Labuschagne, ’n 19-jarige tronkbewaarder, ’n afgryslike gruweldaad pleeg deur sewe swart mans koelbloedig dood te skiet, is die uitslag van die naderende hofsaak vir die meeste mense ’n uitgemaakte saak en hulle glo hy sal die doodstraf kry.

Die menseregte-aktivis John Weber (Steve Coogan), ’n teenstander van die doodstraf, is die enigste regsgeleerde wat bereid is om Labuschagne in die saak te verdedig. Hy vind uit dat die jong man in die dodeselle van ’n tronk gewerk het waar 164 teregstellings in een jaar plaasgevind het.

Tydens die hofsaak lê Weber die traumatiese werkstoestande bloot waarin Labuschagne moes werk, en wys wat tot sy ineenstorting gelei het.

Shepherds and Butchers is deur ware gebeure geïnspireer.

Met onder andere Steve Coogan, Andrea Riseborough, Garion Dowds en Deon Lotz. Regie deur Oliver Schmitz en draaiboek deur Brian Cox. Die film is deur Anant Singh en Brian Cox vervaardig en die kinematograaf is Leah Striker.

Sy Klink Soos Lente

Ben, ’n werktuigkundige, en Linda, ’n slim rooikop, se paaie kruis. Ben herken haar dadelik en weet dat sy sy baas se dogter is, maar sy weet nie wie hy is nie. Om haar te beïndruk, sê Ben vir Linda hy is in ’n band. Om die wit leuen waar te maak, begin hy saam met ’n paar van sy kollegas ’n band in 'n poging om haar hart te wen. Met Amalia Uys, Stiaan Smith, Bennie Fourie, Wilson Dunster, James Cunningham, Darren Kelfkens, Bouwer Bosch en Tina Kruger. Die regisseur is Corné van Rooyen.

Tess

Die rolprent is gegrond op die boek Whiplash en vertel die verhaal van Tess, ’n sekswerker, wat swanger raak en alles in haar vermoë moet doen om nie toe te laat dat haar verlede haar lewe verswelg nie. Met Christia Visser, Nse Ikpe-Etim, Brendon Daniels, Lee-Ann van Rooi, Quanita Adams en Greg Kriek.

DOKUMENTÊRE ROLPRENTE

Die dokumentêre rolprente wat vertoon gaan word en ook vir die toekennings in aanmerking kom, is as volg:

Alison

Die verhaal van Alison Botha se skrikwekkende verkragting en brutale aanval in Desember 1994 en haar reis na oorlewing. Alison is ’n verhaal van dapperheid, krag en hoop.

Dorpstad: Unwrapping a Cool Capital

Twee argitekte van Pretoria het in 2014 hulle eie kuns-biennale geskep en mense van Pretoria geïnspireer om nuwe en opwindende kuns regoor die stad te skep.

I Made a Film That You Will Never See

’n Rolprent oor Michiel Kruger, wat ten spyte van die feit dat hy sy sig op 14 verloor het, verskeie sportrekords verbeter het.

Noboby’s Died Laughing

’n Dokumentêre rolprent oor die lewe en loopbaan van Pieter-Dirk Uys.

Op Pad

Die bekroonde joernalis Dana Snyman reis deur die land op soek na homself en op soek na hoop.

Portret: Lien Botha

’n Dokumentêre rolprent wat die kunstenaar Lien Botha binne die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap kontekstualiseer. In die proses word die verwantskap tussen kuns en die werklike lewe uitgewys en dit dien ook as getuigskrif van waar die idees in die werk ontstaan. Portret poog om visuele kuns vir die kyker te demistifiseer. Die kyker kry die geleentheid om die verstaan van die potensiaal van wat kuns kan wees, op ’n vermaaklike manier te ondersoek. Die titel, Portret, sinspeel nie net op die woord “portret” as ’n genre binne visuele kuns nie, maar suggereer ook ’n dieptestudie van ’n individu.

KORTFILMS

Die vyftien kortfilms wat gekies is om deel van vanjaar se fees te wees en dus ook vir die toekennings in aanmerking te kom, is as volg:

Arts

André red beseerde diere, maar sy verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker wending wanneer sy ma begin inmeng… Met Charlenè Brouwer, Elzette Maarschalk, Gustav Gerdener en Richard van der Westhuizen.

Beloofde Land

Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk gekonfronteer. Met Schalk Bezuidenhout, June van Merch, Petro van den Heever, Mariechen Vosloo, Craig Mathys, Hannahmi Alfredo en Riaan Cruywagen.

Die Biker

’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte pad gekies? Met Paul du Toit en Ian Roberts.

Die Bok

’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel. Met Christia Visser, Drikus Volschenk, Maurice Paige, Kay Smith en Jemima as die bok.

Die Muse

’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante maar moeilike skrywer met Aspergersindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak? Met Marcus Muller, Candice Weber en Milan Murray.

En die Wiele van die Bus gaan Om en Om...

Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer tien pasiënte van een inrigting vir geestesgestremdes na ’n ander … en dan verloor hy sy vrag. In die rolverdeling is André Stolz, Anchen du Plessis, Gemma Donnelly, Sandra Vaughn, Isabella Moster, Percy Maobane, Pieter Grobbelaar, Lilian Dube, Christo Davids, David Mello, Chantal Herman, Hendrick Lou en Jeff Smith.

Hum

Thomas hoor die verlammende hum-klank al vir so lank dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psigiater, dr. Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana, die liefde van sy lewe, kan terugwen ten spyte van die onafwendbare gedreun asook die gevoel dat hy konstant dopgehou word … Met Carel Nel, Cintaine Schutte, Deon Lotz, André Roothman, Milton Schorr, Benedikt Sebastian, Melanie Pack, Riaan Ellis, Eric Uys, Molly Brown, Benjamin Raubenheimer, Francois Coertze, Courtney Leshay Smith en Lizanne Peters.

Kolskoot

Fanus Niemand is toe iemand... Met Albert Pretorius, Cherie van der Merwe, Marie Pentz en Hannes Brummer.

Koue Voete

Moenie ’n misdadiger op sy skoene takseer nie. Met Kaz McFadden, Shareen Swart, Deon Coetzee, André Velts, Juanita de Villiers, Melinda Brink en Francois Viljoen.

Merk. Sny. Stoor.

Wanneer ’n psigologies versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed, word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma. Met Jacques Bessenger, Lilanie Prinsen, Suzi Swanepoel en Juan Lotz.

Onthou

Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol-nonsens bejaarde dame, is daar vanaf die eerste woordewisseling reeds spanning. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n getal, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan. Met Marga van Rooy en Phillip Schnetler.

Oom

Ná oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad oplaai, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as ’n mens nie jou geselskap ken nie. Met Pierre van Pletzen, Philippus Boshoff, Je-ani Swiegelaar, Anrich Herbst, Ansu Visser en Philicity Reeken.

Plankekoors

Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of vlug? Met Antoinette Kellerman, Greta Pietersen, Joanie Combrink en Ludwig Binge.

Spoor(loos)

As ons maar net kon verdwyn. Met Fezile Mpela as Johnson en Pulane Sekepe as Juliet.

Vlees van my Vlees

Vyftien jaar ná ’n gruwelike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hulle twintigste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hulle gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer. Met Erica Wessels en James Alexander.

APARTE PROJEK

kykNET het vanjaar ’n sestiende projek geïdentifiseer wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel en dit sal by volgende jaar se kortfilmprojek ingesluit word. Die titel van die film en die naam van die skrywer sal in Augustus by die Silwerskermfees bekend gemaak word.

VERDERE VERTONINGS

Vollengte rolprente wat vertoon sal word, maar nie deel van die kompetisie is nie, is as volg:

Eintlik Nogal Baie
Happiness is a Four-Letter Word
Kalushi: The Story of Solomon Mahlangu
Vir Altyd
Wonder Boy for President


BESTAANDE KORTFILMS
Die bestaande kortfilms op die fees is:

Daniel Munro
How to Kill a Girld Named Amanda
Scapegoat
Stukkend
The Discovery of Fire
The Great Gatsby: Redemption
The Man With the Heavy Leg
Transito


Paneelgesprekke oor ’n verskeidenheid onderwerpe sal vanjaar gehou word.