Logo

Foto: Linsen Loots

Nuus
21 Augustus 2015
Ons het met die skrywer en regisseur Linsen Loots gesels oor die kortfliek Foto, wat binnekort te sien is by kykNET se Silwerskermfees.
Linsen

Ons het met die skrywer en regisseur Linsen Loots gesels oor die kortfliek Foto, wat binnekort te sien is by kykNET se Silwerskermfees.

Foto vertel die storie van ’n jong vrou wat die donker geheim agter ’n misterieuse fotograaf se aangrypende foto’s ontdek.

“Daar is iets wonderlik daaraan om in so ’n kort tyd ’n kyker iets te laat ervaar,” sê Loots. “Kortflieks forseer jou om tot op die kern van ’n storie te kom, en kan daarom ’n baie kragtige indruk laat.”

Volgens Loots laat hierdie medium die kyker toe om ’n wêreld te skep wat groter voel as wat die skerm wys, omdat daar nie tyd is om alles te verduidelik vir die kyker nie. “Sodoende word die gehoor gelos met vrae en gedagtes wat hulle self verder kan ondersoek en oor wonder.”

Hy is opgewonde om deel te wees van die plaaslike fliekbedryf. “Die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, fliekbedryf is besig om onsettend vinnig te groei – nie net in die hoeveelheid produksies nie, maar veral die kwaliteit daarvan.

“Dit is wonderlik om te sien hoe die genres en style waarin mense flieks maak al hoe wyer word,” sê hy.

In Foto ontwikkel ’n vrou se nuuskierigheid in ’n obsessie soos sy al dieper vasgevang word in die misterieuse fotograaf, Talia Fouché, vertolk deur Antoinette Louw, se donker geheim.

“Dit was ’n absolute voorreg om saam met Antoinette Louw te werk,” sê Loots, “veral vir ’n uitdagende rol in ’n ongewone genre vir Afrikaanse flieks”.

Volgens Loots was Louw se vlak van voorbereiding en entoesiasme vir die karakter verstommend. “Al het ek die storie geskryf, het sy die karakter beter as ek self geken,” sê hy.

“Boonop is haar spel uitstekend, en ek’t gereeld op stel ’n koue rilling ervaar tydens een van haar tonele soos wat sy die karakter wórd.”

Loots hoop dat kykers hulself sal toelaat om verlore te raak in die storie. “Ek hoop dat die kykers dit sal geniet,” sê hy. “Daarmee saam sal dit wonderlik wees as mense ná die film iets het om verder oor te wonder; ’n gevoel van iets groter of dieper wat by hulle sal bly.”

Kliek hier vir ’n voorsmaak van Foto.