Logo
Sara se geheim
web uni tv guide

Sara se Geheim

144Drama7

’n Splinternuwe seisoen van Sara se Geheim

Nuus
15 November 2019
Nóg geheime word ontbloot in Sara se Geheim 3...
Sara se geheim Artikel

Mense sê bloed is dikker as water en bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Sal Maggie (Lee-Ann van Rooi) gevang word vir haar dade, of loop sy loshande weg?

Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Nou word nóg drama en geheime ontbloot in die derde seisoen van die gewilde en boeiende dramareeks, Sara se Geheim wat in Januarie 2020 op kykNET is.  

Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê het ’n impak op Sara se hele familie.

Maggie se eks, Ricky (Brendon Daniels), het sy verskyning gemaak en vir haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), vertel dat hy sy regte pa is.

In die nuwe seisoen, karring Johnny heeltyd aan Sara om sy geboortesertifikaat te sien, maar Sara weet, dis juis daardie geboortesertifikaat wat nóg ’n groter geheim bewaar.

Ebert (Andre Weideman) is in rou gedompel oor sy geliefde vrou se dood en voel skuldig dat hy haar gehelp het om selfmoord te pleeg. Soveel so dat hy sy kontak met die werklikheid verloor.

Aiden en Inge (Lize-Marié Richardson) het steeds gevoelens vir mekaar, ten spyte van hul families se newe-gevoelens. Maar sal Aiden op ’n verhouding kan fokus as sy familie byna verwoes is?

Die hoofkarakters is steeds in die Kaapse buurte Athlone en Durbanville gesetel. En die reeks maak weer ’n draai op Tant Marie (Margot Luyt) se plaas in Stellenbosch asook in die Elgin-vallei vir pastoor Benjamin (Keeno-Lee Hector) en Lizzie se wittebrood.

Maar sal Lizzie haar wittebrood kan geniet as sy uitvind haar susterskind is geskiet?

En sal Sara dit oorleef as sy uitvind haar dogter het haar kleinseun geskiet? Sy sit nou met ’n reuse-dilemma; moet sy haar kind beskerm en haar help om weg te kruip óf moet sy haar aan die polisie oorgee?

Ander bekende gesigte maak ook ’n draai in die derde seisoen. Onder hulle is Ivan Zimmerman, Roeline Daneel, Stian Bam en Monique Rockman.

Sara se Geheim 3 word vervaardig deur Paw Paw Films, suster-maatskappy van Penguin Films.

Sara se Geheim 3 begin 16 Januarie 2020 om 20:00.