Logo

Skryf in vir kykNET se Plaasjapie en wen groot pryse!

Nuus
17 Desember 2019
Kan jy vir een maand op ’n plaas oorleef? Skryf in vir kykNET se nuwe realiteitsprogram, Plaasjapie en bewys dat jy ’n boer is wat ’n plan kan maak.
Plaasjapie Press Release

Plaasjapie is kykNET se splinternuwe realiteitsreeks wat deelnemers die geleentheid gee om te wys of hulle die deursettingsvermoë het om op ’n plaas te oorleef. 20 stads- of dorpmense (wat geen plaas- en boer ervaring het nie) word weggevoer na ʼn plaas om vir ʼn maand in ʼn skuur te leef en werk. So as jy dink jy kan harde bene kou, maar ook uithouvermoë het en slim genoeg is, dan is Plaasjapie vir jou. 

As jy dink dat dit kinderspeletjies is om op ’n plaas te woon en werk, dink weer, want met Plaasjapie gaan jy met die basiese elemente op ‘n plaas moet oorleef – dit beteken geen van die luukshede wat op vandag se moderne plase te vind is nie. Diegene wat hul spanmaats uitoorlê in die uitdagings sal die geleentheid kry om sekere luukshede vir hulself te wen, maar die res sal maar moet voel hoe dit was om op ’n plaas van jare gelede te woon.

Plaasjapie gaan nie net oor oorlewing en fisiese werk op ’n plaas nie – allesbehalwe. Dit gaan oor strategie, deursettingsvermoë en slimmer wees as die res van die deelnemers. En planne beraam, want dis tog wat ’n boer doen. Sommige van die uitdagings vind plaas in spanne, en ander is individuele uitdagings. En, daar mag dalk ’n gekonkel agter jou rug wees, wat jy tot jou voordeel kan gebruik, of wat jou moontlik jou kaartjie huis toe gaan kos. So, maak seker jy weet wie jou ware vriende is en wie is wolf in skaapklere... 

So, as jy kans sien vir die uitdaging van woon en werk op ’n plaas, slim alliansies kan vorm, strategieë kan uitwerk, ’n plan soos ’n boer kan maak, en, belangrikste van alles, ’n maand sonder die luukshede waaraan dorps – en stadsjapies gewoond is, maak seker jy skryf voor 15 Februarie 2020 op kykNET se webblad in Nie net staan jy die kans om as kykNET se eerste Plaasjapie aangewys te word nie, maar daar is groot pryse op die spel.  

Voornemende deelnemers kan op die kykNET-webblad inskryf. Inskrywings sluit op 15 Februarie 2020.