Logo

Ons Sprokiesbruilof: ’n Lang makietie

Nuus
17 Maart 2017
Mannoline en Giovano se bruilof was een vir die boeke! Lees meer oor vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof hier.
OSB Giovano and Mannoline 12

Mannoline Hoffman (25) en Giovano Fourie (29) se sprokiesdag word in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof ’n werklikheid.

Eerste op die paartjie se lys van doendinge voor die groot dag is ’n afspraak met die platejoggie, want die musiek kan tog nie minder aandag as die dekor en troukoek kry nie.

“Dis eintlik die belangrikste ding,” sê Giovano.

En wat van die troumars? Nee wat, sê Mannoline. “Ek wil dit ’n bietjie meer interessant hê,” sê sy.

Hulle het hul gaste vooraf gevra watter liedjies húlle graag wil hoor, en van dié liedjies word deel van die aand se speellys.

“Ek is ’n old soul, julle!” sê Mannoline. Frank Sinatra en Kenny G is dus ook ’n moet op die lys.

Volgende op die wenslys is ’n draai by die venue en troukoek proe.

“Ek is nou nie regtig ’n Cinderella-tipe nie, maar ek soek daardie gevoel,” sê Mannoline. Chez Charlene, ’n pragtige venue in Pretoria, maak seker die paartjie se dekor-drome word waar.

Die troukoek moet vier lae en vier verskillende geure hê, sê Mannoline. “Ons is maar bietjie vol spice tussen die twee van ons!”

Mannoline is verlig om te sien haar trourok pas nog ná die koek proe-sessie. Giovano kan nie wag om te sien hoe sy bruid gaan lyk nie, en Mannoline spot en sê sy wil darem één traan in sy oog sien wanneer sy na hom aangestap kom. “Ek sal vir jou ’n traantjie gee, my skat,” sê Giovano.

Op die dag van Mannoline en Giovano se sprokiesbruilof verloop alles volgens plan. Boonop pik Giovano wel ’n traan! “Dit gebeur net een maal, en dis ’n lekker gevoel,” sê hy. “Sy het so mooi gelyk.”

Kyk hier na die video.

Die paartjie se eerste dans het goed afgeloop, al het Giovano vroeër genoem hy het twee linkervoete.



Hul vriende en familie kén van partytjie hou en hul eerste aand as meneer en mevrou Fourie word met ’n heerlike ete en makietie op die dansbaan gevier – ’n ware sprokiesbruilof!

Kyk hier na die foto’s:
















Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).

Herhalings word op Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30 en Woensdae om 11:00 uitgesaai.