Logo

Sprokiesbruilof: ’n Dag vol feesvieringe en vonkelwyn

Nuus
25 Mei 2017
Wanneer ’n dokter en ’n kommunikasiebestuurder op trou staan, weet jy dit gaan ’n sprokiesbruilof wees.
Ons SprokiesBruilof

Maryna Strachan was dadelik aangetrokke tot Paul Calow en sê dat sy mal is oor sy goedhartigheid teenoor mense. “Sy hart is regtig in ’n goeie plek, en waar hy kan help sal hy help.”

Die paartjie het besluit om in Matjiesfontein te trou. Volgens Paul het dié dorpie baie karakter.

Omdat Paul en Maryna se vriende en familie van heinde en verre kom, en mekaar nie noodwendig ken nie, wou die paartjie hê dat almal vir ’n naweek tyd saam moes spandeer om mekaar van nader te leer ken.

Vir hul sprokiesbruilof het Maryna ’n wyn vir elke smaak uitgekies. “Ek is baie gelukkig dat ek in die wynbedryf werk,” vertel sy. “Ek kon regtig kies en keur oor watter wyne ek wou hê wat spesiaal gaan wees vir ons én ons gaste.”

Daar was onder meer bottels Méthode Cap Classique sonder plakkers vir die troue aangeskaf, en om dié bruilof werklik uniek te maak het die bruidspaar plakkers laat maak om op elke bottel te gebruik. Mike, Maryna se vriend van 18 jaar, was die bruid se “hoofstrooimeisie” en het van die VK af gereis om haar met al die reëlings te help.

Kyk hier onder na foto's:

Gallery

Die paartjie het ook besluit om geen blomme op hul troue te gebruik nie, en daar was dus slegs kerse op die tafel geplaas om die goue aksente van dié elegante buite-troue mee te komplimenteer. Maryna verduidelik dat die Karoo in die middel van die somer net te warm is vir blomme. Sy sê ook dat dié opsie nie eens nodig was nie, omdat die troue “onder die melkweg” sou plaasvind.

Dit was Paul se verantwoordelikheid om ’n pragtige kandelaar aanmekaar te sit vir hul groot dag. Dié kandelaar was gebruik as ’n deftige fokuspunt vir die onthaal.

Na dese sê Paul dat hy voel die hele troue om die kandelaar beplan was weens die druk wat ervaar was vooraf.

Omdat die troue wit en goud was, het Paul besluit dat goue skoene gepas sou wees. Hy verduidelik dat dit nog altyd ’n droom van hom was om ’n paar te hê, en dat hy voel hul troue die ideale geleentheid was vir dié tipe uitspattigheid.

Weens die hitte van die omgewing het die bruidspaar vir hul gaste geskenke gegee wat tydens die huweliksbevestiging beskerming sou bied teen die elemente van die warm Karoo. Vir die mans het hulle Panama-hoede aangeskaf, en vir die vroue pragtige wit Chinese sambrele. Dié geskenke het bygedra tot ’n baie klassieke gevoel.

Dit was ’n groot oomblik toe die bruid uiteindelik aangestap kom met haar seun aan haar sy. Maryna sê dat dit ’n besonderse eer was vir haar. Sy sê ook dat sy trots was toe sy vir Paul in sy goue skoene voor die kansel sien staan en glimlag het. “Om te weet dat [Paul] voortaan my man gaan wees was baie, baie spesiaal.”

Maryna vertel verder dat Paul nie juwele dra nie, en dat die aansit van die ring ’n groot oomblik was. “Om die ring uiteindelik aan sy vinger te kon sit was ook baie spesiaal.”

Terwyl die bruidspaar foto’s gaan neem het, kon die gaste op ’n prettige bustoer deur die dorp gaan. “Die mense het dié unieke rit deur Matjiesfontein baie geniet,” sê Maryna.

Daarna was dit tyd om aan te sit vir vonkelwyn en ’n heerlike maaltyd. Bradley, die bruid se seun, het die aand afgeskop met ’n heildronk op sy ma en daarna was haar dogter Cienna aan die beurt. Paul se heildronk op sy vrou was gevolg deur ’n toespraak deur Maryna, waartydens sy die gaste bedank het vir hul teenwoordigheid en verder ’n heildronk op Paul ingestel het. Sy het die geleentheid en almal betrokke vergelyk met ’n goeie wyn wat ’n heerlike ete komplimenteer.

’n Hoogtepunt was die sogenaamde "prysuitdeling", aangebied deur die bruidegom. Toekennings het onder meer ’n prys ingesluit vir die gas wat die verste afstand moes aflê vir die bruilof, sowel as ’n prys vir die verjaarsdag wat in die skadu van die troue was. “Ek het jou ma die prys vir die beste DNA gegee,” sê Paul giggelend vir sy bruid.

Die aand was afgesluit met ’n pragtige dans onder die kandelaar en Karoo-sterre, waarna die gaste kon inspring en saam dans. Maryna sê: “Daai dansvloer was vol die héle aand.” 

Paul verduidelik dat hy interessante emosies ervaar het op hul troudag. “Jy wil nie hê dat so ’n dag tot ’n einde moet kom nie,” sê hy. “Dit is soos om ’n heerlike stukkie sjokolade te eet; jy waardeer die geur, en voor jy jou kan kry is dit verby.

“Dis die smaak daarvan wat jou herinneringe daarvan veraltyd sal vestig. 

“Dis een dag wat net ’n herinnering sal bly. Daardie spesifieke dag sal nooit weer plaasvind op daardie manier nie. Dis een dag op een manier, en ons het dit baie geniet.”

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).