Logo

Ons Sprokiesbruilof: 'n Besonderse Kaap-Maleise dag

Nuus
04 Mei 2017
In vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof het ons vir die eerste keer gesien hoe twee families, met eg Kaap-Maleise tradisies, een word.
OSB

Dit is in die suidelike voorstede van Kaapstad waar ons vir Faheem Koosain en Seher Gules ontmoet het, ’n jong paartjie met baie ou en kosbare morele standaarde.

Seher (23) vertel: “Ons was eers vriende gewees en een aand toe kom hy na my huis toe, en toe vra hy vir my uit.” Volgens Faheem (26) was dit “love at first sight”.

In eg Kaap-Maleise tradisie is dit belangrik dat die bruidegom die familie vra vir hul dogter se hand. Faheem sê dat Seher se ma mal was oor hom van die eerste aand wat hulle ontmoet het. Volgens Seher het haar familie Faheem onmiddellik aanvaar. “My familie is baie lief vir hom,” sê sy.

Dit is ongetwyfel dat Faheem se familie óók baie beïndruk was met sy toekomstige vrou. Faheem vertel: “[Seher] ken haar plek… Dit is wat my ma baie ge-like het.”

Dié paartjie het in 2012 ontmoet en die verhouding het stadig geblom. In 2015 het Faheem uiteindelik die ja-woord gevra en Seher het dadelik geantwoord: “Okay, ja! Why not?”

Hulle troue was streng volgens Maleise-kultuur gereël en daarvolgens het Faheem se pa die verloofring aan Seher se vinger gesit.

Faheem se ouers het ook vir Sorina genooi om deel te neem aan die voorbereiding van die bruidskamer – ’n tradisionele geleentheid waartydens die toekomstige bruid se nuwe huis voorberei, en haar besittings hierheen geneem word voordat die huwelikbevesting plaasvind.

Faheem se ouers het egter baie tyd en moeite daaraan bestee om die bruidskamer op te knap vir dié nuwe paartjie. Ebrahim, Faheem se pa, vertel: “Dis eintlik die bruidegom se verantwoordelikheid, maar ma en pa spring altyd in.”

Dit is ook tradisie dat die bruid henna-tatoeëring kry vir haar bruilof. Seher se vriendin, Asmaa, verduidelik dat dit baie simbolies is. Sy sê dat die kleur van die henna die volgende dag bepaal of die bruid se man werklik lief is vir haar – hoe donkerder, hoe beter.

Dié bruid het twee trourokke. Feher verduidelik dat sy haar sari eerste aantrek vir hul tradisionele huweliksbevestiging, en die tradisionele wit trourok aantrek vir die huwelikseremonie, waar haar familie vir die eerste keer die nuwe bruidspaar ontmoet.

Die gebed voor die troue is ’n groot geleentheid. Híér sit Faheem saam met al die mans van beide families, en ’n spesiale boodskap word opgesê vir die paartjie. Dit is ook hier waar die huweliksbevestiging deur die bruidegom gedoen word.

Vir Sorina was dit ’n nuwe en interessante ervaring. Vir die eerste keer het kykers ook die geleentheid gehad om saam met haar deel te wees van so ’n geleentheid, en ’n tradisionele moskee in te gaan om deel te wees van dié paartjie se intieme bruilof.

Daarna was dit tyd vir Faheem om uiteindelik, by ’n baie spesiale ontbyt, sy vrou vir die eerste keer te ontmoet. Dit is hier waar die ringe uitgeruil was, en Seher baie opgewonde was om uiteindelik die huwelik met ’n ring en ’n soen te bevestig.

Teen middagete was dit tyd vir Faheem se ouers om die paartjie vir die eerste keer as ’n getroude paartjie te ontmoet. Dié seremonie was gereël deur die bruidegom se ouers. 

Daarna was dit tyd vir die aand-seremonie. Volgens Seher is dit die belangrikste seremonie, omdat dit hier is waar die paartjie vir die eerste keer voorgestel word aan die bruid se familie.

Uiteindelik breek die tyd aan vir die bruid om na die bruidskamer geneem te word. Dit was veral vir Seher ’n baie emosionele oomblik, omdat dit dié oomblik van die bruilof is waartydens die bruid haar familie finaal groet en die familie haar oorhandig aan haar man. Haar familie het vir haar tradisionele liedere gesing terwyl Faheem haar ingewag het by die bruidskamer.

Seher was dankbaar vir die mooi dag, en volgens Faheem het niks anders saakgemaak behalwe sy pragtige bruid nie. Kyk hier na foto's vanuit die episode.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).