Logo

Ons Sprokiesbruilof: Mekaar se beste vriende

Nuus
18 Mei 2017
In dié week se episode van Ons Sprokiesbruilof het Rochelle en Clifford bewys dat mens nooit te oud of te koud is om te trou nie.
Sprokiesbruilof_Solomons

Na ’n warrelwind-romanse het Clifford Solomons (45) en Rochelle Daniels (43) uiteindelik besluit die huweliksbootjie is vir hulle beskore.

Dié paartjie het mekaar ontmoet by die werk, nadat Rochelle oorgeplaas was na dieselfde afdeling as Clifford. Volgens Clifford het Rochelle sy asem weggeslaan die oomblik toe sy by die deur instap. “Sy’t haarself probeer wegsteek agter iemand, maar ek het haar klaar gesien, en toe besef ek hier’s iemand wie onmiddellik my aandag het.”

Vir Rochelle was dit ’n oomblik waarin tyd stil gestaan het, en niemand saak gemaak het nie. Sy sê: “Ek het onmiddellik gesien hy kyk na my, en toe skram ek bietjie weg [maar] ek het gehou van wat ek sien.”

Volgens Rochelle het hulle dadelik oor die weg gekom. Tog erken sy dat dit vir haar baie makliker was omdat Clifford bietjie skaam is. “Ek is ’n baie spontane mens,” sê sy. “Ek dink ek het die eerste soen gevat – ek dink ek het die eerste alles gevat…”

Dit was vir hulle baie belangrik om die regte beeldjie vir hul troukoek te kry wat hul as paartjie sou weerspieël, en eers twee dae voor hul troue het Clifford en Rochelle 'n goeie vriendin genader vir hulp met ’n troukoek.

Die paartjie wou ’n intieme troue hê met slegs die naaste familie en vriende teenwoordig. “Ek wil graag hê my troue moet anders wees,” sê Rochelle. Daarom het hulle besluit op ’n klein seremonie by ’n restaurant.

“Ek wil nie soos Aspoestertjie lyk nie. Ek wil ook nie soos Sleeping Beauty of Cinderella wees nie. Ek wil daai dag die fairy wees.”

Op pad na die kansel toe het die bruid bekommerd geraak weens tegniese probleme met die klank, maar Sorina het ingespring om die bruid te bedaar. Dit was vir Rochelle ’n besonderse oomblik toe sy vir Clifford vir die eerste keer sien. “Ek was altyd verlief op Richard Gere, maar ek dink ek het nou my eie Richard Gere gevind,” het sy gesê.

Nadat die dominee die bruid die opsie gegee het om haar name te behou, het Rochelle in die oomblik gesê: “Ek kan nie wag om ’n Solomons te wees nie.”

Na die huweliksbevestiging het Sorina die bruid verras deur Koos du Plessis se “Gebed” vir Clifford en Rochelle te sing. Nadat sy dié spesiale item gelewer het, het sy gesê: “Mag hierdie woorde op julle huwelik van toepassing wees.” Herleef die oomblik weer hier.

Vir hul onthaal het die paartjie hul vriende en familie genooi om aan te sit vir ’n intieme middagete by die restaurant waar die huweliksbevestiging plaasgevind het en daarna hulle foto’s laat neem – eers by die “viswinkel” waar die paartjie verloof geraak het, en daarna by die kleurvolle aantrekkamers van Muizenberg.

Ná die fotosessie het die gaste die restaurant verruil vir ’n feestelikheid by die paartjie se huis, waar die onthaal in ’n gesellige geleentheid ontaard het. Eers was dit tyd om die koek te sny, en daarna het hulle gebraai en Sorina het hand bygesit.

Dit was ook hier waar die bruid haar ruiker vanaf die balkon afgegooi het. Selfs die dominee het nader gestaan, en almal was verbaas toe Clifford se ma die ruiker vang.

Volgens Clifford was ’n hoogtepunt van hul groot dag die oomblik toe Rochelle instem om haar lewe saam met hom deur te bring. Rochelle sê dat ’n besonderse oomblik was toe hy vir die eerste keer haar in haar trourok sien.

Verder sê Clifford dat hul verwagtinge oortref was. “Ons het klein beplan en dit het gegroei en gegroei,” verduidelik hy. “[Uiteindelik] was dit so groot gewees dat ons verbaas was”.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).