Logo

Ons Sprokiesbruilof: BC en Hesté

Nuus
13 Junie 2017
’n Jong boer en sy pragtige stadsmeisie haak vandeesweek in Parys af.
OSB BC Heste

Die ontmoeting

Hesté Prinsloo (22), ’n onderwyseres, en BC van der Merwe (28), ’n hoenderboer, het in Potchefstroom in ’n kuierplek ontmoet en van daar af het dinge “ontwikkel”, vertel Hesté. Dié blondekop het gehou van die manier waarop die boer ander mense hanteer, en het gevoel hul persoonlikhede vul mekaar aan.

Sy meen sy het geweet hy is “die een” toe hulle so vyf of ses maande saam was. “O,” spot BC. “Ag, jinne BC, jy het gesê jy is lief vir my op twee maande!” terg Hesté.

BC vertel Hesté staan hom altyd by en dat hulle ’n goeie span maak.

Die verlowing

Hesté se ouers het die paartjie saamgenooi wildtuin toe. BC het ’n silwer plaatjie laat maak met die groot vraag op en dit op ’n bankie laat vasmaak. Hesté het dit gesien, maar nie dadelik besef dis vir haar nie. Sy het haar naam misgekyk en vir BC gesê dis “oulik” dat ’n paartjie hier verloof geraak het.

Groot was die oomblik toe sy besef al die moeite is vir haar, en hulle het dit met Amarula in plaas van sjampanje gevier.

Die troue

Volgens Hesté is BC meer as “ander mans” by die troue betrokke. Hul sprokiesbruilof word in Parys, Vrystaat, gehou.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).