Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

kykNET bevestig Nêrens, Noord-Kaap Seisoen 2

Nuus
23 November 2021
Dit is min dat ’n nuwe seisoen van ’n reeks dadelik aangekondig word, maar in hierdie geval kon dit nie anders nie. Ja, die goeie nuus is dat kykNET ’n tweede seisoen van Nêrens, Noord-Kaap goedgekeur het.
Nerens Noord Kaap – Seisoen 2

Hier vroeg met die uitsending van Nêrens, Noord-Kaap het kykers reeds begin bekommerd raak. Die eerste paar episodes was nog nie eens uitgesaai nie, of die vrae het begin: Ons hoop julle het al begin werk aan ’n tweede seisoen? Daarna elke week: Ons is nog nie reg om te groet nie. Kom daar nog? Kan hierdie reeks nie asseblief vir altyd aanhou nie?

Dit is min dat ’n nuwe seisoen van ’n reeks dadelik aangekondig word, maar in hierdie geval kon dit nie anders nie. Ja, die goeie nuus is dat kykNET ’n tweede seisoen van Nêrens, Noord-Kaap goedgekeur het.

“Ek het aanvanklik gesê Nêrens, Noord-Kaap moet net een reeks wees,” sê die skrywer en regisseur Nico Scheepers. “Maar soos ek aan die reeks geskryf het, en veral toe ons geskiet het, het ek die hele tyd idees gekry oor waarheen die storie kan gaan as daar nog ’n seisoen is. Ek het nota’s begin maak en het teen die einde van episode 13 van die eerste seisoen besef dat dit eintlik die eerste deel is van ’n reeks van 26 episodes.”

Tina Kruger, die opdraggewende vervaardiger by kykNET wat vir Nêrens, Noord-Kaap verantwoordelik was, het Nico (wat op die oomblik in New York is) laat weet ’n tweede seisoen is goedgekeur.

“Natuurlik is ek in die wolke, maar nie net omdat dit werk vir my en die hele span is nie, maar grotendeels omdat dit geregtigheid laat geskied aan die karakters. Hulle verdien om hulle storie verder te vertel.”

Nico hou sy kaarte styf teen sy bors wanneer dit oor die nuwe seisoen gaan.

“Ek wil niks weggee nie. Al wat ek kan sê is dat die plan is om met dieselfde rolverdeling te werk. Daar sal ’n handjievol nuwe karakters wees, maar meer as dit wil ek nie sê nie. Die een ding wat kykers egter net nou al moet weet, is dat Jan-Jan (Dean Balie) beslis nié Lourens (Frank Opperman) se kind is nie.”

Hy is vasbeslote dat die skep van die tweede seisoen nie gejaag moet word nie. “Kykers moet eerder geduldig wag tot ons weet die storie is reg. Die laaste ding wat die tweede seisoen moet wees, is ’n afgewaterde storie wat te haastig geskryf en gemaak word.”

Nico glo Nêrens, Noord-Kaap het by kykers geresoneer omdat dit ’n eerlike, rou en emosionele verhaal is.

“Ek het ’n reeks geskryf wat ek graag in Afrikaans wou sien. Dit moes voel of jy ’n dik boek oor ’n familie gelees het. Ek wou ’n kant van die Afrikaner wys waarvan ons soms vergeet; daardie mense wat dieselfde battles as die res van ons baklei. Ons pa’s, ons broers, ons Maggies. Die stadige pas van die reeks was doelbewus. Ons woon in ’n tyd waar Instagram of Facebook jou binne sekondes kan vermaak, maar hierdie is nie so nie.”

Hy sê die gewildheid van karakters soos Suzette (Daneel van der Walt) en klein Lourens (Arnold Swart) wys dat kykers lief kan raak vir karakters wat self hulle foute en pyn het.

“Daar is nie altyd lig aan die einde van die tonnel nie,” sê hy. “Ons ken dalk ’n klein Lourens, hy kan onsself of een van ons kinders wees. Ons ken dalk nie iemand soos Suzette nie, maar ons hoop almal dat ons iemand soos sy in ons lewe kan hê.”

“Ek was baie verlig toe ek gehoor het daar kom ’n tweede seisoen want ek dink die storie is nog nie heeltemal klaar nie,” sê Albert Pretorius wat die rol van Ronnie speel. “Dis baie pret om Ronnie te speel – in die toneelstuk én in die reeks – en ek het geen idee waarheen die storie gaan vloei nie. Dis moerse opwindend.”

“Dit verdien ’n tweede seisoen,” sê Ilse Klink wat die rol van Maggie speel. “Die eerlikheid van die storie en die karakters verdien om verder vertel te word. Ek is baie bly vir Nico. Hy is ’n uitstekende storieverteller. Wat hoop ek vir Maggie? Ek hoop haar ander kant gaan gewys word, wat haar vreugdes en teleurstellings was en wat haar redes was hoekom sy al die jare gebly het.”

“Ek was in die kar op pad na Robertson vir Dean Balie en Bianca Flanders (Jan-Jan en Chrissie) se troue toe ek gehoor het daar kom ’n tweede seisoen,” sê De Klerk Oelofse, Andries in die reeks. “Dean het langs my gesit en dit was net nog rede vir ons om die naweek groot fees te vier. Dis ook wonderlik om te weet dat die klein storie wat op die verhoog begin het, nog verder uitgebou en ontdek kan word.”

De Klerk sê Andries se reis in die eerste seisoen was grotendeels om sy gesin te probeer heel maak.

“Ek hoop in ’n volgende seisoen kan hy dalk bietjie heling vir homself vind.”

Enige laaste boodskap van Nico?

“Die kykers moet weet niemand is so lief vir die karakters soos ek nie. Ek sal nie woorde op papier sit as dit nie reg is nie. Ek sal dit net nie toelaat nie. Dit was ’n lang proses om die eerste seisoen te maak en ek sien uit om weer in my kop Nêrens toe te gaan en die res van die storie te skryf. Ek is ook baie dankbaar vir die ondersteuning van kykNET én die kykers wat dit moontlik maak.”