Logo

Welkom in die top-10 – Maak My Famous

Nuus
24 Mei 2019
Dié week lê daar weer ’n moeilike besluit voor die deelnemers se deur.
MMF_artikel

FOTO: Light Lounge Studio

Die volgende tien deelnemers het dit dié week uitgespook vir ’n plek in Maak My Famous se top-10, en dis nodeloos om te sê dat die kompetisie taai was. 

Ons kyk terug op die vyf vertonings wat die gehoor se voete onder hulle uitgeslaan het.  

Ons het die aand met die rymklets-kategorie afgeskop en ná Denton Persens aka Shadow se optrede sal jy twee keer dink voor jy vergeet om te groet. Herleef sy optrede hier.

Volgende aan die beurt was die kategorie ‘Vroulike sang’. Bernice West se weergawe van Adele se “Rolling in the Deep” het vir haar ’n luide applous van die gehoor gegee. Kyk hier na haar optrede.

In die manlike sang-kategorie het die vertolkingsafrigter Alistair Izobell die sanger Jesmoné Damonse se lof besing – hy het selfs laat val dat hy ’n fan is ná hy sy weergawe van Frank Sinatra se “The Impossible Dream” gehoor het. Kyk hier en jy sal verstaan hoekom. 

Blaai deur die foto's hier onder:

Gallery

In die spesialiteit-kategorie het Rezah Forbes vir die gehoor gewys hy verstaan komedie. Só dring hy lag-lag deur na die top-10.

Net soos in die vorige episode het Emo weer vir die deelnemers die opsie gegee om te kies tussen geld en geleentheid. Indien een van die deelnemers die geld sou aanvaar, sou hulle reis onmiddellik tot ’n einde kom, maar een van die deelnemers wat nie deurgedring het na die top-10 nie, sou dan hul plek neem. 

Emo het vir Bernice ’n aanbod van R8 000 gemaak. Sy het dit vriendelik van die hand gewys en met die geleentheid-opsie gegaan.

Só ook Denton aka Shadow. Emo het vir hom R10 000 aangebied. “Daar is ’n paar goeters wat ek sal doen, maar ek is nie hier vir die geld nie,” het hy vertel. 

Volgens Emo is Rezah ’n uitsondering omdat hy ’n familie het en probeer om sy omstandighede te verbeter. “Ek weet wat is ’n komediant se lewe. Perform hier, R200. Perform daar, R500.” Vir hom het hy R12 000 aangebied. Rezah erken dat hy ’n show met daai geld kan hê, maar die geleentheid is meer belangrik. Emo het toe die bedrag na R20 000 opgestoot met die gehoor wat hoorbaar na hul asems snak. Rezah het voet by stuk gehou: “geleentheid”.

“Ek het nie meer geld as daai nie,” het Emo gesê en vir Jesmoné dieselfde bedrag aangebied. “Vir my was altyd gesê, as iemand iets verloor het in die lewe, soos ek het my broer verloor, mense kan nie vir my geld gee om beter te voel nie. Maar once Bernice die song sing, dan laat dit my voel dis nie einde van die wêreld nie. Dit is wat ek wil bring. Geld kan nie net alles koop nie.”

LEES: HIER IS DIE ANDER VYF DEELNEMERS WAT DEURDRING NA DIE TOP-10

Die kersie op die koek was natuurlik toe ’n duidelike emosionele Jolene Slingers ’n tweede kans gekry het in die vorm van die Emo-ticket. Kyk weer na haar vertoning hier.

Maak geraas op sosiale media deur dié nuus met jou vriende te deel. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #MaakMyFamous en maak seker jy skakel elke Donderdag om 20:00 in op DStv-kanaal 144 en 21:00 op DStv-kanaal 145.