Logo

Bernice droom groot – Maak My Famous

Nuus
03 Julie 2019
Kyk saam met ons terug op Bernice West se Maak My Famous-reis.
MMF_Bernice

FOTO: Light Lounge Studio
 

Die 18-jarige Bernice van der Westhuizen oftewel Bernice West, al die pad van Swartruggens, is die jongste finalis in die top-5. Hierdie matriekleerling se voorliefde is drama, skryf en sing.

KYK: BERNICE SE WEERGAWE VAN “SONVANGER” HET VIR HAAR ’N PLEK IN DIE TOP-20 BESORG

Maak My Famous is vir my ’n groot geleentheid,” sê sy. “Ek het myself ingeskryf en sien dit as ’n kans om my passie en die talent wat die Here my gegee het uit te leef en met die wêreld te deel. Ek wil ook ondervinding opdoen en die kans gebruik om my volle potensiaal te bereik.”

KYK OOK: HERLEEF BERNICE SE OPTREDE WAT HAAR DEELGEMAAK HET VAN DIE TOP-10

Sy sal graag saam met Karen Zoid, Spoegwolf en Early B optree en die koordirigent Ralf Schmitt is haar grootste inspirasie. “Hy doen waarvoor hy lief is, hy weet presies wat hy wil hê en hy sal aanhou werk tot hy dit bereik het. Hy gee nooit op nie.”

KYK OOK: BERNICE EN MC NOEDY SE SAMESTELLING GAAN ONS NOG LANK BYBLY

Vra jy vir Bernice wat haar persoonlike storie is, is haar antwoord ’n mondvol.

“Ek is ’n kind van die Here. Ek het nie die wêreld se kennis nie, maar ek is lief daarvoor om te leer en my perspektief op die lewe op te bou. Ek is ’n optimis en dink buite die boks. Skoolgaan is nie juis my gunsteling-ding nie, maar ek het ’n brandende passie om my talent met die wêreld te deel, om God se naam groot te maak en om eendag terug te kyk en te sê – ek het my drome bereik en dit was alles die moeite werd.”

KYK OOK: ONS IS MAL OOR BERNICE SE WEERGAWE VAN MANGO GROOVE SE “HOMETALK”

In episode tien van Maak My Famous moes die top-7 liedjies sing wat vrygestel is in hulle geboortejaar. Bernice het die verhoog aan die brand gesing met haar weergawe van die Bon Jovi-treffer “It’s My Life”. “Dit het vir my so ’n besonderse mooi lewensboodskap, want dit gaan daaroor dat ’n mens net een kans het op lewe. En wat jy gaan maak met daai kans hang van jou af,” het sy vertel. Kyk hier hoe Bernice dié treffer haar eie maak.

In die elfde aflewering van Maak My Famous moes die finaliste wys hulle kan kers vashou by meer gevestigde kunstenaars. Dié optrede is gevolg deur Bernice en Craig Lucas van The Voice SA-faam se duet van Lady Antebellum se “Need You Now”. “Om met Craig te sing [is] like singing against him,” het Emo vir Bernice gesê. “Hy het ’n stem, [maar] kykie, girl, daai was phenomenal...jy weet nog nie hoe goed jy is nie.” Kyk self hier daarna

In die twaalfde aflewering van Maak My Famous gee Emo die top-5 die geleentheid om die gehoor vir oulaas te beïndruk met ’n mini-vertoning van nie langer as 5 minute nie.

Kyk die voorskou hier onder:



Dink jy Bernice West het wat dit vat om Maak My Famous te wen?  Maak geraas op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #MaakMyFamous en maak seker jy skakel Donderdag om 20:00 in op DStv-kanaal 144 of 145 vir die naelbyt-finaal.