Logo
web uni tv guide

La't Wiel

144MotorsportPG13

La’t Wiel-span stap weg met Gilde-pryse

Nuus
10 November 2016
La’t Wiel se Hannes Visser en Waldo van der Waal is onlangs deur die SA Gilde van Motorjoernaliste aangewys as die land se voorste motorjoernaliste in die TV-kategorie.
Lat Wiel Gilde Bill

Hannes Visser en Waldo van der Waal, aanbieders en vervaardigers van kykNET se motorprogram La’t Wiel, is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste aangewys as die land se voorste motorjoernaliste in die Televisie-kategorie.

Sedert La’t Wiel vir die eerste keer in 2004 die lig gesien het, het beide Visser en Van der Waal al verskeie kere met hierdie gesogte toekennings weggeloop, maar vanjaar se oorwinning was besonder spesiaal vir die La’t Wiel-span. In die kategorie vir Televisie-Motors het hulle beide die eerste en tweede plek behaal.

Verder het Visser en Van der Waal se motorsport-programme ook die top-twee plekke behaal in die kategorie vir Televisie-Motorsport, en om alles te kroon is Van der Waal ook as die land se voorste motorsportfotograaf aangewys.

“Ons spot altyd dat La’t Wiel die grootste Afrikaanse motorprogram ter wêreld is”, het Visser gesê. “Streng gesproke is dit seker ook die waarheid, maar ons is net gelukkig dat ons na al die jare steeds die geleentheid het om La’t Wiel te kan maak, en om dan nog daarvoor erkenning te kry is ’n groot voorreg. Op die ou einde is ons lief vir beide motors sowel as Afrikaans, en hopelik kan ons nog lank voortgaan om die twee te kombineer.”

Die span begin eersdaags weer werk aan die volgende seisoen van La’t Wiel, wat aanstaande jaar in April op kykNET uitgesaai sal word. Intussen hou die Gilde hulle ook besig met die 2017 Motor van die Jaar-kompetisie en beide Visser en Van der Waal dien weereens op die paneel wat elke jaar die land se voorste motor moet aanwys.

“Dit is ’n groot verantwoordelikheid om dit elke jaar reg te doen, maar na al die jare het ons al seker anderkant die duisend motors bestuur,” het Van der Waal bygevoeg. “Ons mag nie uitpraat nie, maar ons het reeds ’n paar gunstelinge op ons kortlys en sal nie verbaas wees as een van hulle volgende jaar in Maart met die kroon wegstap nie. Maar dit is eers volgende jaar. Vir nou werk ons hard daaraan om La’t Wiel nog verder op te knap en te vernuwe vir 2017, en as alles volgens plan verloop sal ons weer in ’n posisie wees om aan die Gilde se kompetisie deel te neem.”