Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 36: Errieda wys ons hoe – Kwarantyn

Nuus
16 Julie 2020
Vind meer uit.
Errieda du Toit

Foto: Henk Hattingh

Errieda du Toit het geen bekendstelling nodig nie. As inhoudsregisseur van nie een of twee nie, maar vier kykNET-kosreekse (Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie én Koekedoortjie) weet Errieda waar Dawid die wortels gegrou het as dit by die pot, die pan of die kombuis kom.



Donderdae is die tema trots Suid-Afrikaans in kykNET se werklikheidsreeks Kwarantyn, en tydens dag 36 moes ons twee huishoudings koolfikkadelle met kapokaartappels voorberei. Die Opsigter het vir Errieda aangEhaal. “Wys my ’n land waar ’n koolkop groei en ek wys jou ’n tradisionele resep vir ’n koolkopfrikkadel,” lui haar slagspreuk. Ter viering van Suid-Afrika se uiteenlopende koskultuur het ons by haar gaan inloer om meer uit te vind van die kapokaartappel, en die gebruik van kool in Suid-Afrikaanse kosse. 



Laat daai kapokaartappel pronk!
Vir die perfekte kapokaartappels sê Errieda dat jy die kortpad moet vermy. “Kook die aartappels goed sag, dreineer en laat dit bietjie droogstoom in die kastrol,” stel sy voor. “Die geheim is om die aartappels fyn te druk terwyl dit nog baie warm is. As dit afkoel, en jy wil dit dán eers fynmaak, sit jy met ’n gommerige spulletjie.”

Sy moedig kykers aan om ook melk of room by te voeg. “Solank dít ook warm is.

“Geur die kapokaartappels goed met sout en witpeper, en roer laastens botter by – die botter sal die kapokaartappels ’n mooi glans gee,” sê sy. Haar wenk vir diegene by die huis is om voor opdiening vars neutmuskaat by te rasper.

“Jy is opsoek na iets donssag en wolkerige kapokaartappels: geen growwe stukkies aartappel nie.”



Dié kool is die sous werd
Volgens Errieda is die koolfrikkadel een van daai “onbesonge helde” van die Suid-Afrikaanse koskultuur. “Ek het die lieflikste groot kopkool in die Pure Boland-groenteboks onlangs gekry, en dieselfde dag nog ‘ouvrou onder die kombers’ gemaak volgens ’n Kaap-Maleise-resep van my vriendin, Cariema Isaacs,” vertel sy. Dis nie ’n resep vir as jy haastig is nie, want jy moet geduld hê om die koolblare eers een vir een in kookwater te blansjeer om dit sag genoeg te kry om op te rol, maar die beloning is groot. 

Sy sê dat daar, afgesien van die koolfrikkadel, vele ander maniere is om kool in jou kos te inkorporeer. 

Hier is haar top-5 koolgeregte:

  1. Koolslaai
    Errieda voeg gerasperde appels by, en anyssaad vir ’n ietwat licorique-smaak.
     
  2. Kimchi
    Oftewel saierkraut. Volgens Errieda is daar min dinge so goed vir ons gesondheid en om weerstand op te bou. Sy beveel aan dat dié gereg saam met varkvleis bedien word. Dalk trendy, maar baie ekonomies volgens haar. 
     
  3. Kaas-, spek- en koolpastei
    Dié gereg verg volgens Errieda heelwat werk, maar sy voeg egter by dat dit ’n baie spoggerige dis is – veral as jy natuurlik wil “afshow op Facebook”.
     
  4. Kool- en rysgereg
    Dié gereg is volgens Errieda ’n landelike dog geurige Griekse gereg. Vir ’n heerlike Griekse maaltyd binne tien minute beveel sy die drukpot hiervoor aan.
     
  5. Kool met witsous
    Gemaak met ekstra kaas en ’n krummellagie bo-op. “Een van my allergunstelinge vir Sondae, reëndae, verlangdae,” sê sy.




Errieda se koolgeregte sal enigiemand heimwee gee. Volgende week gesels ons verder met huiskok oor trots Suid-Afrikaanse geregte. Hou ’n fyn ogie op die kykNET-webblad.

Onthou om te stem vir jou gunsteling-familielid van Woensdag, 21:00 tot Maandag, 22:00 op jou rekenaar, jou selfoon, per SMS of op die DStv-app. Elke platform bied vir jou 100 unieke stemme.

Elke Maandag, Dinsdag, Donderdag, Vrydag en Saterdag word die daaglikse hoogtepunte op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Elke Woensdag is dit die weeklikse hoogtepunt-episode om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 – moet dit nie misloop nie. Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.