Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Die COVID-19-stereotipes – Kwarantyn

Nuus
06 Julie 2020
Hier is sewe wat jy al sekerlik teegekom het.
Covid stereotypes

Foto: Getty Images

deur Jan-Hendrik Botha

Raak jy ongemaklik as jy iemand sonder 'n masker sien? Volg jy al die riglyne en reëls, en skroom nie om iemand aan te spreek wat nie daarby hou nie?  Gaan dit jou verstand te bowe as jy iemand alleen in ’n voertuig met ’n masker sien rondry? Dink jy die hele spul is net ’n foefie? Dan is jy dalk een van die volgende stereotipes: 

  1. Die [onbekende] volger van reëls:
    Dié segment van die samelewing is baie rustig. Jy weet nie noodwendig van hulle nie, maar hulle herinner jou aan al die reëls en regulasies wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie uiteengesit is. Kom wat wil, jy sien hulle nooit sonder hulle maskers nie. Hulle was hul hande gereeld, en ontsmet gereeld, veral as hulle aan vreemde voorwerpe vat. Hulle behou ook te alle tye ’n duidelike 1.5 m-afstand, en jy kry ’n vuil kyk as jy nie jou 1.5 m weg van hulle staan nie.  

     
  2. Die masker-oorbel:
    Hierdie gedeelte van die samelewing raak vinnig benoud of beneuk wanneer iets hulle suurstof-inname belemmer. Enigiets wat voor die mond of voor die neus gesit word, maak hulle baie vinnig ongemaklik en onrustig. Jy sien hulle gereeld rondstap, rondry of rondsit, soms onwetend, met ’n mediese maskertjie wat vir die lewe vasklou aan een oor. 

     
  3. Die neusies-verby:
    Hierdie segment is beslis nie skaars nie. Dis diegene wat salig onkundig is dat suurstof (en dalk ook ’n potensiële lewensgevaarlike virus) ook die liggaam binnekom deur die neus, óf hul masker is dalk net te groot en hulle het al moed opgegee om dit heeldag reg te skuif. Een ding staan egter soos ’n paal bo water: Hulle kan uitgeken word deur ’n baie prominente neus wat bo die masker uitsteek. 

     
  4. Die boer-maak-’n-plan:
    Wees dit nou ’n serpie, ’n buff of sommer ’n doodgewone vadoek. Kan dit die mond bedek? Dan is dit goed genoeg. Dié segment sien sommer self kom klaar. Geen pandemie is te groot of te klein vir hulle tuisemaakte oplossings nie, en hulle raak soms baie kreatief by die huis met mond-en-neus-bedekkings.

     
  5. Mnr. en mev. Paranoia:
    Nee, nee, ’n masker is nie goed genoeg nie. Meneer en mevrou Paranoia dra sommer alles terselfdetyd, want tydens ’n wêreldkrisis moet jy altyd voorbereid wees: Jy sien hulle nêrens buite hul huise sonder ’n masker (gewoonlik gesertifiseerd), handskoene, gesigskerm én/of oogbeskerming nie. En hulle is kronies besig om iets te bespuit of af te vee. En waag jy enigsins om te hoes, is hulle soos mis voor die son.

     
  6. Die COVID-19 fashionista 
    ’n Ou gewone blou maskertjie is benewe dié COVID-19-segment. Nee, die hangkas is vol opgetooide maskers. Van die jongste Gert-Johan Coetzee-masker, tot die duurste Louis Vuitton. Wees dit nou ’n patroon of ’n oulike sê-ding, hulle moet dit op hul gesigte hê.

     
  7. Die COVID-19 non-believers:
    Pandemie? Vir wie? En vir wat? Dié gedeelte van die samelewing is glad nie gesteur deur die sogenaamde wêreldkrisis nie. Hulle glo dis een groot foefie. ’n Sameswering van wêreldleiers. “Waar’s my masker, vra jy? Ek het nie een nodig nie!”

Watter een is jy? Laat weet ons op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn.

Onthou, Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.