Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 13: Manie, die dapper muis – Kwarantyn

Nuus
22 Junie 2020
Jana en Braam gesels met ons oor Manie se toestand.
Manie

Sondagaand, 21 Junie omstreeks 22:42 moes Manie die Kwarantyn-huis verlaat weens onverklaarde maagpyn en koors.

Braam vertel dat hy, nadat Manie uit die huis verwyder is, nie verder kon slaap nie. “Hoe kan jy slaap as jou seun alleen is in die hospitaal en in pyn?”

KYK: Dag 12: ’n Belangrike aankondiging – Kwarantyn

Braam verduidelik dat Manie eers pyn ervaar het in sy bolyf, en dat dit later na sy onderlyf beweeg het. “Hy was naar, vuurwarm en sy bloeddruk was hoog.” Hy sê dat dít die bepalende faktor was om Manie hospitaal toe te haas vir ’n mediese ondersoek.

Omstreeks 10:00 Maandagoggend het die produksiespan verneem dat Manie in ’n stabiele toestand is. Braam vertel: “Die opsigter het ons laat weet Manie is okay, hy lê in ’n saal en word gemonitor. Hy het ’n drip op en hy ontvang [pynmedikasie]...maar die opsigter sal ons op hoogte hou.”

Braam verduidelik dat die huis op dag-13 leeg is sonder Manie. “Die huis is nie dieselfde sonder hom nie. Selfs die oefening is nie dieselfde nie. Die vibe is net nie dieselfde nie.”

Braam sê ook dat hulle ’n hegte familie is, en dus positief probeer bly, maar dat dit moeilik is by tye, omdat daar geen sekerheid op dié stadium is nie. “Toe ons die boodskap van die opsigter vanoggend ontvang het, het ons gemoedere dadelik opgegaan want ons het gedink [Manie is al op pad terug], maar dit het baie vinnig geval toe ons hoor hy het nog geen toetse ondergaan nie.”

’n Baie emosionele Jana het aan ons verduidelik dat sy vroegoggend Manie se leë bed gaan opmaak het, en sy klere opgevou het.

“Dis nie nice nie, hoor. Ons wag vir hom, maar dis nie lekker nie.”

Sy verduidelik dat dit veral moeilik is om nie by Manie te wees nie. “Hy’s ’n sterk laaitie, hy word nie sommer siek nie, so as daar iets nodig is, is ek altyd daar."

“En dis nou die eerste keer wat ek regtig nie daar kan wees nie, en die opsigter en span is awesome, maar nie eers hulle kan [by Manie] ingaan nie. Dis moeilik man… Hy’s sterk. Ek is seker hy gaan gou beter word, en ons wag vir hom. Hy weet dit.”

Jana is verbaas deur die boodskappe wat instroom op sosiale media. “Iemand [het gesê] tydens hulle huisgodsdiens het hulle ses-jarige seuntjie in sy gebed vir Manie gebid.” Sy sê dis boodskappe soos dié wat haar as ma baie beter laat voel.



Tans is daar nog geen verdere inligting oor Manie se toestand beskikbaar nie. Ons hoop om teen 15:00 meer sekerheid te hê. Vir meer inligting, hou FacebookInstagram en Twitter dop, en volg die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.