Logo

Kokkedoortjie: Mikael se fop-roomys

Nuus
26 April 2017
Mikael het toe sy resep vir fop-roomys met kamma-karamelsous bemeester!
Kokkedoortjie Mikael Bill

Soms bak die lewe vir mens ook ’n poets. Só het Mikael uitgevind toe sy blink planne nie gewerk het nie en hy die Kokkedoortjie-stoor moes verlaat. Sy fop-roomys het ongelukkig in ’n floppie-roomys uitgedraai, want hy kon net nie die truuk met die kapok-aartappels regkry nie.

Mikael het egter nie toegelaat dat dié kombuisflater hom onderkry nie. Soos ’n goeie kulkunstenaar weet Mikael dit vat oefen, oefen, oefen om ’n kultoertjie perfek te bemeester. Die oomblik toe hy terug by die huis was, het hy dit oor en oor gemaak tot hy dit reggekry het. Hier is die resep wat hy nou gebruik!

Kapok-aartappels (fop-roomys)

4 aartappels

60 g botter

80 ml warm melk

5 ml sout

groen en rooi voedselkleursel

10 ml fyngekapte biltong

Peppadews®

Skil aartappels, plaas in kastrol met genoeg koue water om dit te bedek en bring water tot kookpunt. Kook tot sag. Dreineer.

Druk die aartappels fyn met ‘ricer’ of aartappeldrukker. Dit moet nog baie warm wees as jy dit fyndruk. Skep dit in ’n sif bo-oor ’n bak en druk die fyn aartappel met ’n houtlepel deur om dit baie fyn te kry.

Gooi die melk, botter en sout by. Proe en geur.

Verdeel die fyn aartappel in drie dele. Los die een deel wit, kleur die een deel pienk en die ander groen. Roer fyn stukkies biltong by die groen sodat dit soos sjokoladestukkies lyk.

Bruinsous (kamma-karamel)

30 ml botter

30 ml koekmeel

250 ml aangemaakte hoenderaftreksel

Verhit die botter oor medium hitte tot dit skuim, voeg meel by en roer sowat 2 minute tot dit ligbruin is. Voeg die hoenderaftreksel by en roer die klonte uit. Verlaag die hitte en laat dit prut tot dit dik is en jy nie meer die meel proe nie.

Bediening

Stapel pienk en groen balletjies in ’n poedingbakkie of in ’n roomysglas. Plaas ’n wit balletjie bo-op. Sit Peppadew op die wit aartappelballetjie. Gooi die sous oor die aartappels om soos karamelsous te lyk.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!