Logo

Wanneer die koningin bel...

Nuus
11 Junie 2018
Hoe sou jy op dié oproep gereageer het?
Koekedoortjie_Mari-Louis

Koekedoortjie beoordelaar Mari-Louis Guy gee ’n mens daardie koninklike gevoel. Die gevoel dat die koningin van Engeland enige tyd op haar knoppie sou kon druk. Kom ons gaan gou ’n paar weke terug in tyd en kyk hoe Mari-Louis op een van die belangrikste oproepe van die 21ste eeu sou reageer.

Jou eerste reaksie wanneer die koningin jou bel om ’n koek vir die koninklike troue te bak.
’n Ligte gilletjie, ’n Pimms cup met Elderflower-stroop bygevoeg en oproepe na my man, ma, broer, familie en alle vriende en ook nie-vriende.

Motiveer jou keuse vir ’n troukoek. 
Amerikaanse sagte sponskoek met van die lae gegeur met granaatsap, ander met sitrus en natuurlike Elderflower ­– ’n ligte obsessie. Ek het tot verlede naweek dit gaan pluk in die berge. My oë het toegeswel van die stuifmeel, maar ek trend. Mos eintlik al wat saakmaak. Ook ’n grenadella-lagie ­– altyd goed vir ’n bietjie passie.

Torings hemel toe is nie meer vir my nie – te veel stres, te veel DIY om alles bymekaar te hou. Die skoonheid gaan lê in die mooiste koekstaanders: wit porselein en melkerige wit seeglas voorkoms, mooi gegroepeer en versier met prag dubbel rose en Prinses Diana se gunsteling: Vergeet-My-Nie-blomme. Oe, dis ook dalk die kans om die “geskeurde papier” botterroom versieringstegniek te probeer vir ’n bietjie bling, dalk ’n tiara van ouma Lizzie.

Vir die groomscake kan ons Engels gaan – wat van ’n Engelse poedingtafel? Banoffee, Summer-poeding, Eton Mess, ’n mooi Battenberg en bo-op kan mens ’n presiese 3D-replika van die bruidspaar hê (’n Madame Tusseaud-wasmuseum gevoel). Dit is nou glad nie in goeie smaak nie, maar hy (Harry) is mos darem die prettige een. Of wat van ’n ligte oranje popsicle-koek met gemmer roomkaas – ’n speelse verwysing na sy bekende kroon.

Die bruid se koeke word spierwit versier om by Megan se rok te pas ­– met dieselfde eenvoud, amper kerlik (dink aan die Met Gala se invloed). Speel met die koekvorms, elkeen ander dimensies en dan af en toe ’n pastel (dink Oprah en Serena se rokke) en botanies versier. Dis nie perfek nie, maar met ’n sagte wolkerige afwerking.

Hoekom juis dié spesifieke geure en kleure? 
Megan het daardie LA-estetika – eenvoud, natuurlik met skoon lyne. Nie klomp versierings nie. 

Gesonde, natuurlike geure. Natuurlike kleurmiddels. Kleur vir die bruidegom poedingtafel – hy is immers die prettigste van die koninklikes. 

Hoe lank sal jy voor die tyd begin bak en hoekom?
Die oggend van die troue – ek is ’n uitsteller en ek het ’n talent om te proe as ’n koek langer as ’n oggend uit die oond is. Optimale varsheid. Versierings en tierlantyntjies natuurlik lank voor tyd gedoen sodat ek kan tyd hê om my in my Spanx (driedubbel) in te wikkel.

Hoe sal jy seker maak dat die koek niks oorkom nie en dit wegsteek van die paparazzi se lens?
Ek sal my kinders landuit stuur – hulle drietjies het die vermoë om alles in n oogwink tot op die grond af te breek. Max sal die ontwerp verander, Ethan sal ’n paar happe vat en Sophia sal ’n pop of twee daar indruk. 

Ek sal die vorige meisies (Chelsea en die ander enetjie) vra om vooruit te stap, alle kameras sal op hulle gesigte wees – die groot poging om werklik gelukkig te lyk vir ’n vorige liefde. Hoor ek vir Adele in die agtergrond?

LEES OOK: MARI-LOUIS OOR KINDERS EN DIE KOMBUIS

Hoe sal jy die koek vervoer? 
Onder Camilla se hoed – daar sal ook nog plek wees vir Harry se poedings.

Harry en Meghan is amper op pad na die onthaal. Kaplaks! Daar val die koek op die grond neer. Jy het ongeveer ’n halfuur oor om te red wat daar te redde is. Wat flits deur jou gedagtes en hoe gaan jy te werk gaan om die koek te red?
Ek roep ’n trend uit, dis immers die troue van die dekade. Dink aan Massimo Bottura se bekende Oops, I Dropped The Lemon Tart. Ek het net verbeter op die nagereg: Kaplaks Koeke. Hoe om jou koek so te laat val dat dit nog steeds esteties is. Eers was daar trash the wedding cake , nou groet jou troukoek. Ek hoop om hiermee om die wêreld te toer en top-sjefs te leer hoe om ’n koek op die regte manier te laat val. Ted talk.

Jou koek word uitmekaar getrek deur kritici. Hoe reageer jy? 
’n Ligte gilletjie, 2 Pimms cups met Elderflower-sap bygevoeg en oproepe na my ma, broer, familie en alle vriende (gaan nou nie die ander bel nie).

Het jy al in die werklike lewe ’n benoude oomblik gehad waar dinge nie volgens plan verloop het nie? Indien wel, vertel ons daarvan en hoe jy jou kop omhoog hou.
Ek het Nuwejaarsaand 1999 ’n massiewe Baked Alaska voor die gaste laat val met die aftel na die millenium toe, dit was my Y2K-oomblik. Die Alaska was so van die vorige eeu.

Moenie ’n oomblik van die opwinding in die winter-wonderland misloop nie. Skakel Woensdae om 20:00 in op DStv-kanaal 144 vir Koekedoortjie. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Koekedoortjie.