Logo

Hier is Koekedoortjie se jong bakkers!

Nuus
22 Februarie 2018
Ontmoet die tien Koekedoortjies wat eersdaags kykers met hul bakvernuf gaan betower.
Koekedoortjie-2

Foto verskaf

Verlede jaar het die kinders in Kokkedoortjie hul vaardighede met kosmaak gewys, maar binnekort is dit jong bakkers se beurt om in Koekedoortjie te bak (en brou) en só kykNET-kykers te betower!

Koekedoortjie is die jongste weergawe van kykNET se gewilde koswerklikheidsreekse, waaronder Kokkedoor en Koekedoor ook tel, en hoewel dit dieselfde wenresep volg, is daar darem unieke bestanddele ook.

Die eerste episode sal op Woensdag 4 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

Die tien Koekedoortjies is tussen 10 en 13 jaar oud en hulle is van regoor Suid-Afrika.

Aan die stuur van Koekedoortjie is die geliefde duo, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, en dis vir húlle wat daar weer weekliks beïndruk moet word.


Die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk

kykNET en die vervaardigers, Homebrew Films, het oudisies in Augustus verlede jaar regoor Suid-Afrika gehou en na ’n keuringsproses is die top-tien uit honderde inskrywings gekies.

Die tien deelnemers is:

  • Anica Scheepers (11) van Centurion
  • Anmi Esbach (11) van Hartebeespoort
  • Carla Botha (13) van De Hoop
  • Danika Botes
(12) van Krugersdorp
  • Nix Korf
(12) van Johannesburg
  • Elsje-Mari Louw (12) van die Paarl
  • Evan Maritz (13) van Pretoria
  • Minay Vermaak (11) van Pretoria
  • Tanique van der Walt (10) van Hermanus
  • Wicus van Deventer (11) van Prieska

Koekedoortjie is in dieselfde indrukwekkende ateljee as Kokkedoortjie geskiet. Dit het wel ’n bietjie van ’n gedaanteverwisseling ondergaan om dit ’n vars, maar steeds herkenbare, voorkoms te gee.

Dié ateljee is by Atlantic Studios in Milnerton, waar reekse soos Suidooster en Kwêla ook vervaardig word. Daar is 13 episodes wat elk ’n halfuur lank is, en Sanet Olivier is weer die regisseur – Sanet was ook verantwoordelik vir Koekedoortjie se susterreekse.

Koekedoortjie saai vanaf 4 April elke Woensdag om 20:00 uit. Bly op hoogte deur die hutsmerk #Koekedoortjie op sosiale media te gebruik.