Logo
Koekedoortjie
web uni tv guide

Koekedoortjie

144KosprogramFamilie

Elsje-Mari se see-en-sand-plakkoekies

16 Mei

Gebak

4

Elsje-Mari se choc chip-koekie en blou makrolletjies, met ’n wit ganachevulsel, het die beoordelaars uit die veld geslaan en gelei tot haar plakboekkoekie-oorwinning. 

Koekedoortjie_Ep 7
Bestanddele

Amandelpasta

37.5 g amandelmeel

50 g amandels (gemaal)

knippie sout

87.5 g versiersuiker

35 g eierwit

voedselkleursel (blou)

2 ml vanielje pasta

Geklopte wit sjokolade-ganache

375 g wit sjokolade (gekapte)

250 g room

Meringue

50 g eierwit

100 g strooisuiker

Spekulaas-choc-chip-koekies

170 g sagte botter

225 g bruinsuiker (fyn)

2 eiers (klein)

5 g bakpoeier

2 koppies koekmeel

170 g choc chips

5 ml kaneel (fyn)

1.25 ml neutmuskaat

1.25 ml gemmer (fyn)

0.5 ml kruienaeltjies (fyn)

Metode

Elsje-Mari verduidelik dat haar wenkoekies die verskeidenheid koekies wat hulle bak vir seevakansies verteenwoordig. “My ou gunsteling is die reuse choc chip-koekies – bros buite en sag in die middel. Die koekies kry ’n spekulaas-geur wat my nuutste gunsteling is. Die tweede deel van die plakkoekie is makrolletjies, een van die eerste dinge wat my ma my leer bak het.”

Spekulaas-choc-chip-koekies:
1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier.
2. Room die botter en suiker. 
3. Voeg die eiers by en klits goed.
4. Sif die meel, speserye en bakpoeier. Voeg die choc chips by. Meng deur.
5. Voeg droё bestanddele by bottermengsel en meng tot net gekombineer. Moenie oormeng nie.
6. Rol in balletjies en druk plat op bakplaat. Bedek met kleefplastiek. Sit koekies vir ’n halfuur in die vrieskas.
7. Bak vir 15 minute tot goudbruin.

Amandelpasta:
1. Sif amandelmeel, gemaalde amandels, sout en versiersuiker saam.  
2. Meng goed in ’n voedselverwerker of met ’n draadklitser.  
3. Sif dit ’n tweede keer.  
4. Voeg kleursel en geursel by 35 g eierwit.
5. Voeg droё gesifte bestanddele by bogenoemde eierwit en meng tot ’n dik pasta vorm.

Meringue:
1. Klits eierwit tot sagtepunt.  
2. Voeg strooisuiker by.  
3. Plaas oor ’n pot met stadig kokende water en klits tot suiker gesmelt is en eierwit verdubbel in volume.
4. Verwyder van hitte en klits teen hoё spoed tot blink en styf (ongeveer 5 min).
5. Vou ’n derde van die meringue op ’n slag by die amandelpasta in. Die mengsel is gereed wanneer dit in ’n lintvorm van die lepel afloop.
6. Plaas die mengsel in ’n spuitsak met 1.6 mm ronde punt. Spuit eenvormige sirkels op ’n silikonmat.
7. Bak by 140 °C vir 15 minute. Laat heeltemal afkoel voor dit van die mat gehaal word. 

Geklopte wit sjokolade-ganache:
1. Plaas gekapte wit sjokolade saam met room in mikrogolfvaste glasbak.  
2. Verhit vir 30 sekondes op medium hitte in ’n mikrogolfoond.  
3. Roer met ’n silikonspatel van die middel uitwaarts.  
4. Plaas terug in mikrogolfoond vir 10 sekonde intervalle indien sjokolade nog nie gesmelt is nie.  
5. Laat dit heeltemal afkoel in die yskas.
6. Klits met ’n elektriese handklitser tot lig en donsig.

Aanmekaarsit van die koekies:
1. Plaas die geklopte ganache in ’n spuitsak met ’n sterpunt.
2. Spuit ganache in ’n vorm van ’n brander op die een helfte van die choc chip-koekie.
3. Plaas die makrolletjies skuins bo-op die brander.

Koekedoortjie Tannie-Elizabeth-se-roly-poly
Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel
2018-05-09

Tannie Elizabeth se roly-poly met ’n kinkel

Gewildste Resepte