Logo

Legendes van Afrikaanse Musiek: Só word Lucas onthou

Nuus
24 Julie 2017
Hier is ’n hele paar dinge wat jy dalk nie van Lucas Maree geweet het nie.
Lucas Maree Self Bill

Foto: Lucas Maree se selfportret (verskaf)

Legendes van Afrikaanse Musiek fokus vandeesweek op die legendariese sanger en liedjieskrywer Lucas Maree. Lucas het in 2011 ’n jarelange stryd teen kanker verloor, maar word vandag nog onthou vir die liefde wat hy vir ander gewys het.

Sy vrou, Ilse, en twee van sy drie dogters onthou die legende só:

Lucas se vrou, Ilse

  • Hy het “handyman”-werkies verpes en eerder gesê “bel iemand”, veral vir ’n verstopte dreinpyp.
  • Hy was mal daaroor om skoon te wees en lekker te ruik, en het Clicks se rakke leeg gekoop as daar ’n lekkerruikgoed-uitverkoping was.
  • Hy kon nie by ’n jas-, tas-, boek- of CD-winkel verbystap nie. Hy het nie daarvan gehou om saam te gaan inkopies doen nie, tensy daar ’n boekwinkel was (dan kon ons gaan shop en hom later by die boekwinkel kry).
  • Hy was mal oor “rollmops”.
  • Hy het niks van sterk kerries gehou nie – daar was sommer huismoles as die kos te veel gebrand het.
  • Hy was mal oor sjokolade en het dit by die kilogramme aangekoop en in sy kas weggesteek. (Saans kry almal ’n ry blokkies – dít ondanks sy diabetes).
  • Hy het kinderstories en ander stories geskryf, asook ’n kitaarboek.
  • Hy was mal oor Chelsea-stewels en het homself moeg gesoek vir ’n paar en dit uiteindelik in Londen bekom.
  • Hy was ongelooflik vrygewig, en het uitgedeel en als gedeel.
  • Hy was woedend as CD’s nie in hulle regte kassies is nie.
  • Hy was hoogs ontstoke as ek sy studeerkamer reggepak het, dan kon hy niks kry nie. Hy het altyd gesê om deurmekaar te wees het niemand ooit siek gemaak nie.
  • Hy was baie daarop gesteld dat sy kinders hulle goed oppas en dit gehaat om iets te moet vervang omdat dit misbruik is.

Sy oudste dogter, Monica

  • Hy het dromme op sy tande gespeel – as hy iewers geloop het en ’n deuntjie geneurie het, het dit altyd geklink of hy vreeslik op sy tande kners of hard kou en toe ek hom vra wat doen hy toe sê hy hy speel dromme.
  • As hy liedjies geskryf het en wou voel of hulle lekker sit, het hy letterlik met die liedjie gaan stap op die ritme van die liedjie om te voel of die woorde en fraserings reg val.
  • Hy kon verskeie instrumente speel, onder meer die saksofoon, kitaar, klavier, klawerbord, dromme, dwarsfluit, mondfluit, banjo en baskitaar.
  • Hy het vir lank ’n leersakkie om sy nek gedra waarin hy ons kinders se melktande gebêre het.
  • Hy was ’n fotograaf/joernalis en het foto’s van onder andere Patrick Mynhardt en Dolly Parton geneem.
  • Hy kon baie mooi teken en skilder, veral met waterverf en potlode.
  • Hy was nogals ’n bekwame houtwerker en het die Blouberg-album in 3 weke klaar geskryf terwyl hy homself in die motorhuis toegesluit het en houtwerk gedoen het (wat ongelooflik is, want dit is meer as 21 liedjies wat in 3 weke geskryf is) en het selfs op ’n tyd matte geweef.
  • Hy het altyd swart klere gedra sodat mense nie die beetkolle en kosvlekke op sy klere kon sien nie
  • Dit het hom 8 jaar gevat om “Jerigo se mure” klaar te skryf.
  • “Die Afskeid” op Lankverwag (sy laaste album in 2009) se eerste draft is in die vroeë 1980’s geskryf, maar eers in 2008 klaargemaak. Dit het hom dus 20 jaar geneem om te voltooi.
  • Hy was ietwat van ’n rekenaar-foendi gewees en het die heel eerste rekenaar-/IT-kursus wat Tukkies aangebied het bygewoon en gevind dat hy ’n aanleg het vir rekenaarprogramme skryf.
  • Hy was ’n Boereoorlog-fanatikus en was voor sy dood besig met ’n draaiboek oor die Boeresirkus. Hy was nog in die navorsingfase toe hy oorlede is, en het niks neergepen nie.

Sy jongste dogter, Carla

  • Hy het intussen oupa geword!
  • Hy het mampoer gestook as ’n stokperdjie.
  • Hy het sterrekunde en fotografie studeer.
  • Min mense weet ook dat sy as in Victoriabaai gestrooi is. Baie mense vra my waar hy begrawe is.
  • Hy het al in die Royal Albert Hall in Londen, VK, opgetree.

Lees meer oor dié reeks en ander Julie-vermaak hier.

Legendes van Afrikaanse Musiek word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Gesels gerus saam op Facebook en Twitter.