Logo
Oppiestoep
web uni tv guide

Oppiestoep

145GeselsprogramPG

Dié vermaak is in Desember op die kassie

Nuus
01 Desember 2017
’n Rits gewilde musiekkonserte en ’n paar lekkerkyk-dokumentêre films is vandeesmaand in jou sitkamer.
Rockets-Light-Lounge

The Rockets. FOTO: Light Lounge

Hartstog – kykNET

Dokudrama

Die hart is die setel van die lewe, sentrum van gemoed, tuiste van die siel en oorsprong van liefde. Chris Barnard het op 3 Desember 1967 die eerste hart van een mens na ’n ander oorgeplant. Hartstog, ’n dokudrama wat vertel van die merkwaardige menslike verhaal rondom die gebeure van dié eens onmoontlike historiese wonderwerk, is vyftig jaar later op die kassie te sien.

Die film is geskryf deur Deon Opperman en André Velts behartig die regie. Carel Nel klim behoorlik in Chris Barnard se vel in vir die rol, terwyl Russel Savadier die rol van Louis Washkansky en Caitlin Kilburn die rol van Denise Darvall vertolk.

3 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), met herhalings op 4 Desember om 08:30, 5 Desember om 10:30, 7 Desember om 15:00 en 8 Desember om 10:00.

Dis Tyd – kykNET

Dokumentêr

kykNET trek ’n nuwe baadjie aan deur unieke stories met universiële boodskappe te vertel, wat alle Afrikaans-liefhebbers inspireer, inlig, verenig en na ’n wonderwêreld wegvoer. Kom deel saam in ons reis van toeka tot nou in kykNET se “Dis Tyd”-dokumentêr.

3 Desember om 14:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), met herhalings op 17 Desember om 08:00 en 29 Desember om 20:00.

Tjello & Klavieruitvoering: Anzél Gerber & Ben Schoeman – kykNET

Musiek

Die elegante tjello-koningin, Anzél Gerber, en klaviermeester, Ben Schoeman, voer saam werke van Rubinstein, Debussy en Franck uit in dié fantastiese opname in die Endlersaal by die US-Konservatorium.

10 Desember om 14:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Ghoemas 2017 – kykNET&kie

Musiek

Gallery

kykNET Digityd het eksklusiewe foto’s laat neem van die wenners, die benoemdes en ander gaste. FOTOGRAAF: Yolandi Jacobsz van Loci Photography

Die Ghoemas is die enigste onafhanklike musiektoekenning-seremonie vir Afrikaanse musiek. Kom kyk saam hoe Pieter Koen, as seremoniemeester, dié geleentheid aanbied vanuit Emperor’s Palace en wie die wenners van 2017 se musiektoekennings is!

10 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145), met ’n herhaling 16 Desember om 13:00.

Amira – kykNET

Dokumentêr

Toe Amira Willighagen in 2013, op 9-jarige ouderdom, Holland’s Got Talent gewen het, het sy die wêreld se verbeelding aangegryp. Beleef dié unieke hedendaagse sprokie wat op Afrika en Europa se verhoë ten toon gestel word in dié een uur lange dokumentêr.

17 Desember om 14:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die Riel van Hip Hop – kykNET&kie

Dans

Die stof gaan staan waar daar nie stof is nie! Die Riel van Hip-hop is ’n vertoonvenster vir seepgladde, energieke diversiteit deur dans, musiek en liriese rymklets. DJ Ready D is deel van die musiek waar rieldans en hip-hop op plofbare maniere ontmoet. Hier word Standaardafrikaans uitgedaag deur ’n verskeidenheid van Afrikaanse dialekte in ’n baldadige viering van ons gemengde herkoms en verbintenis deur die gesproke woord.

17 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145), met ’n herhaling op 23 Desember om 13:00.

Afrikaans is Groot 2016 – kykNET

Musiek

Die Nederlandse sangsensasie Amira sluit by Ricus Nel, Bobby van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Riana Nel, Elvis Blue en Juanita du Plessis aan vir hierdie onvergeetlike musiek-ervaring wat by GrandWest se Grand Arena in Kaapstad plaasgevind het.

17 Desember om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Starlight Classics 2017 – kykNET

Musiek

Kom deel saam in die wonderkuns van musiek onder die magiese sterre van Vergelegen Wine Estate saam met trots Suid-Afrikaanse kunstenaars soos die liriese sopraan Pumeza Matshikiza, Jacques le Roux, die plaaslike koningin van rock, Karen Zoid, en vele meer.

24 Desember om 14:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Gospel Skouspel 2016 – kykNET&kie

Musiek

’n Glansryke geleenthede met Suid-Afrika se top-kunstenaars saam op een verhoog om die Here se naam groot te maak. Met Juanita du Plessis, Elvis Blue, Corlea, Loyiso Bala en meer.

24 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145), met ’n herhaling op 30 Desember om 13:00.

Gospel Skouspel 2017 – kykNET

Musiek

Gospel Skouspel 2017 is wêreldklas-vermaak én musiek met ’n boodskap vir oud en jonk, alles op een verhoog te sien. Elvis Blue, Heinz Winckler en Joshua na die Reën is van die kunstenaars wat aan dié skouspel deelneem.

24 Desember om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Classics is Groot 2017 – kykNET

Musiek

Dié konsert-ervaring bring van die grootste klassieke-, pop- en rockliedjies op ’n simfoniese styl na ons kykers. Kinderster Amira, Corlea Botha en die Coleske-broers deel almal saam dié verhoog om hierdie magiese gebeurtenis te laat blom. Hierdie konsert het in die Moreleta Park Ouditorium in Pretoria plaasgevind en was beslis ’n konsert om te onthou!

25 Desember om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), met ’n herhaling 31 Desember om 07:00.

Taliep Petersen Huldeblyk – kykNET&kie

Musiek

Emo Adams by die huldeblyk-konsert vir Taliep Petersen. FOTO: Light Lounge

Ons vereer die legendariese Taliep Petersen met ’n huldeblyk-konsert waar net die beste van Suid-Afrika se uitvoerende kunstenaars verenig om sy lewe en meesterwerke te vier. Die konsert word vervaardig deur Emo Adams en aangebied deur Shaleen Surtie-Richards en sluit vertonings in van David Kramer, The Rockets, Loukmaan Adams en vele meer.

30 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

The Rockets: Oppad na 50 – kykNET&kie

Dokumentêr

Hierdie opwindende dokumentêr lig die geskiedenis van Die Rockets uit, ’n avontuurlustige reis van toeka tot nou! Hier kan die kykers uitvind presies wie dié groep is en wanneer hulle begin het. Ons draai die horlosie om die oorspronklike groeplede te ontmoet en kry ’n essensie van die huidige groep se werk en styl. Dié dokumentêr is dus ’n gulde geleentheid vir kykers om insig te kry oor Die Rockets, aangesien dit ook vanjaar hul 50ste herdenking is.

31 Desember om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

The Rockets: 50ste Herdenking – kykNET&kie

Musiek

Direk na Die Rockets se dokumentêr vier dié geliefde groep hulle 50ste herdenking. Vir dié mylpaal is daar behoorlik makietie gehou, met bekendes soos PJ Powers, The Voice-wenner Craig Lucas, Emo Adams en vele meer by die Grand West Arena.

31 Desember om 21:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

Die Campbells Mega Medleys – kykNET NOU!

Musiek

Kom makietie saam op Die Campbells se top-treffers! In deel 1 om 19:00, skop ons af met “Boertjie Jam” en 29 liedjies wat in nege keurspelle verwerk is. In deel 2 om 20:00, skop ons af met “Parapapa” en 36 liedjies wat in 10 keurspelle verwerk is. Liedjies soos “Stukkie stukkie” en “Bloed is dikker as water” beloof om ons voor te berei vir ’n prettige nuwejaarspartytjie!

31 Desember om 19:00 en 20:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).

Super Skouspel 2015 – kykNET

Musiek

Ikone soos David Kramer en Mango Groove deel die verhoog met Skotse sangsensasie Susan Boyle. Karen Zoid, Francois van Coke en Kurt Darren is ook almal deel van hierdie Super Skouspel.

31 Desember om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).