Logo
web uni tv guide

Jan Braai Vir Erfenis

144KookprogramPG13

Jan Braai oor die ‘braaigogga’

Nuus
18 Januarie 2018
Jou gids tot ’n vyfster-braai!
Jan Braai

FOTO: Verskaf 

Daar is min mense wat met ’n braaivleisvuur kan toor soos Jan Scannell, oftewel Jan Braai soos die volk hom ken. Met die oog op die Boer Soek ’n Vrou-deelnemers wat eersdaags gaan begin onthaal, het ons by die braaimeester uitgevind waar Dawid die wortels gegrawe het.

Wat is die moets en moenies om ’n braaivleisvuur?
’n Braaivuur is ’n lekker demokratiese plek, so daar is nie veel moenies nie. Dis wel ’n moet om heelwat droë hout byderhand te hê om heeltyd die vuur te stook. As iemand voel die vuur is te klein, gooi nog hout by. 

Wanneer het die braaigogga jou gebyt en hoekom is braai só deel van jou menswees? 
Volgens die slim mense met die wit jassies is braai totaal en al deel van ons DNA en braai die Homo sapiens (dis nou die moderne mens tipe aap soos ons) reeds miljoene jare. Dis ’n integrale deel van ons ontwikkeling en skuif na die bokant van die voedselketting. Ek persoonlik het maar in ’n familie grootgeword waar ons gereeld op weeksaande en oor naweke gebraai het. My ouers, sowel as grootouers, het gereeld gebraai. My paaie met braai het meer ernstig gekruis in die sin dat ek die afgelope 13 jaar die hoof van die Nasionale Braaidag-inisiatief is, waar ons poog om alle Suid-Afrikaners te kry om elke jaar op 24 September te braai en so ’n nasionale dag van feesvier in Suid-Afrika te skep.

Wat is jou gunsteling-bykosse by ’n braai en hoekom? 
Braaibroodjies en mieliepap. Ek dink as ’n enkelgereg is braaibroodjies die beste en lekkerste en gewildste ding wat in Suid-Afrika gemaak word. Mieliepap gaan perfek saam met vleis, werk vir ontbyt, middag- en aandete en is die ideale voertuig om smoor of chakalaka vanaf ’n bord tot in jou mond te vervoer. Op die slaaifront hou ek van aartappelslaai en kerrie-pasta-slaai. Altwee lê mooi stil in my bord, werk saam met vleis in ’n happie en werk ook alleen in ’n happie. Hulle verlep nie en hulle proe goed as jy hulle ure of ’n dag voor die tyd aanmekaar geslaan het en hulle bietjie kon ontspan in die yskas tot jou gaste opdaag. 

Jan se smullekker braaibroodjies.

Wat is ’n goeie ysbreker om ’n braaivleisvuur? 
Indien die ys in ’n lekker sterk sak is, gebruik ek sommer ’n hamer of baksteen of stuk hout om dit te breek. Anders gooi ek die ys in ’n sak en laat die sak ’n paar keer grond toe val tot dit breek. Ek sit dan die gebreekte ys in glase en gooi gin en tonic of brandewyn en Coke tussen die krake van die ys in. 

Jan geniet graag ’n gin en tonic saam met sy braai. 

Hoe ken jy ’n goeie braaier uit? 
Haar of sy vuur is lekker groot, wat ’n teken is dat die persoon nie net kosmaak nie, maar hou van die vuur self. Die persoon is gemaklik en trippel nie rond nie. Daar is geen geskarrel nie, jy moet eintlik nie eens agterkom daar word gebraai tot die kos bedien word nie. Moet ook nie heeltyd die rooster en vleis draai of heeltyd die pot se deksel lig nie. Die goeie braaier is gesout en weet presies wat sy of hy doen, daar is geen raaiwerk betrokke nie, dus is daar nie ’n konstante gevroetel nie. 

Watter tipe braaier sou jy sê is jy? 
’n Diverse, innoverende en demokratiese tipe. Hoewel ek baie lief vir steak, tjops en wors is, glo ek jy kan alles en enige ding braai en dat jy jou horison baie verder kan stel as die drie. Potjiekos is vir my heerlik en jy kan lank en stadig dinge braai, hard en vinnig, met souse, met marinades, sonder enige ding, in heel stukke, in klein stukkies, op roosters, op stokkies, in panne en potte, in die kole ens. Ek braai bees, vark, hoender, lam, vis, wild, groente, brode. Alles wat geëet word kan gebraai word en proe beter as jy hom braai. 

Wat is dit van ’n braai wat mense bind?  
Die staan om die vuur en staar vir die vlamme. Dit in in ons DNA, al vir miljoene jare. Die vuur is ’n plek van veiligheid, dis warm daar, veilig van wilde diere en vreemde dinge. Dit ruik lekker, daar is kos, daar is gesellighied, daar is interaksie. 

Kyk net hoe lekker kuier Jan om die vuur. 

Sal jy jou gunsteling braai-resep met ons deel? 
Ek het reeds vier boeke geskryf met al my gunsteling-resepte en om een te kies in onmootlik, ek het ’n paar honderd gunstelinge! 

Braairesepte vir oud en jonk!

Boer Soek ’n Vrou is elke Donderdag om 20:00 op die kassie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou
.