Logo
Hotel S5 Slim

Schalk Bezuidenhout se skoonma-dilemma

Nuus
08 Januarie 2018
Hoe kry jy Skoonma aan jou kant? Ons het by Schalk Bezuidenhout uitgevind.
Schalk-Bezuidenhout

In dié week se episode van Boer Soek ’n Vrou is dit die boere se beurt om die skoonfamilie te ontmoet. En ons almal weet hoe senutergend dit is om Skoonma vir die eerste keer te ontmoet. Hoe gaan jy te werk om jou man te staan? Hier is wat Schalk Bezuidenhout dink:

Kan jy vir ons vyf maniere gee waarop ’n mens die skoonma kan beïndruk?
My trick om Skoonma te beïndruk is om baie “tannie” te sê, en regtig te máák of jy luister wanneer sy praat. ’n Mens moet ook nie te veel gatkruip nie, want skoonma’s kan dit baie vinnig ruik... Hou in gedagte, dit is soos ’n hele nuwe verhouding wat jy aanknoop, so jy moet ’n klein bietjie hard to get speel. Moet ook nou nie dadelik aanbied om die kar te was nie, want skoonma’s wil nie dit hê nie. Skoonma’s hou van so bietjie van ’n bad boy.

Wat moet jy vermy by die skoonfamilie?
’n Vuil grappie breek gewoonlik die ys, maar jy kan nie té vuil gaan nie, want dan [krap jy hulle om]. Maar ’n goeie, well-timed vuil grap werk vir my wonders.

Watter geskenk sal jy vir jou skoonma gee op die eerste dag wat jy haar ontmoet?
Ek sal nie vir haar ’n geskenk gee nie. Soos ek sê dis te gatkruiperig. Waar het jy nou gesien jy daag die eerste dag op met ’n moerse bos blomme? Nee, nee. Dan is dit asof jy klaar jammer sê vir iets wat jy nog nie gedoen het nie.

Hoe sal jy die ongemaklike stilte om die etenstafel breek?
Ek breek gewoonlik die awkward silence met ’n politiese vraag. Iets in die lyn van: “So, wat dink almal van Donald Trump?”, of “So, wat dink almal van die ANC?”. Ek voel dit breek die ys en laat almal ook lekker ontspan.

Wat is die gepaste antwoord as Skoonma se kos nie lekker is nie?
Die gepaste antwoord is: “Tannie, hierdie kos is nie lekker nie.” Eerlikheid is die enigste pad voorentoe. Jy wil nie die enigste [een] wees wat vir haar sê die kos is lekker, en dan sê die familie die kos is nie lekker nie. Dan gaan sy wonder hoekom het jy vir haar gelieg.

Almal weet Skoonma moet jóú aanvaar, maar wat moet gebeur vir jou om nie vir Skoonma te aanvaar nie – wat is maak of breek?
’n Skoonma wat nie Carte Blanche op ’n Sondagaand kyk nie, is ’n skoonma wat ek nie kan vertrou nie.

Jy en Skoonma is vir ’n oggend alleen in mekaar se geselskap. Wat sal julle doen?
Ek vind ’n game van Twister is altyd lekker. Dit is intiem, maar tog spelerig.

Skoonpa vra vir jou: “Wat is jou intensie met my dogter.” Wat antwoord jy?
As ’n oom vir my vra: “Wat is jou intensie met my dogter?”, sal ek vir hom sê: “Oom, intensies is ’n anglisme. Jy moet regtig werk aan jou Afrikaans.”

Schalk vertolk die rol van Danny in Hotel, wat op kykNET uitgesaai het. Hy het onlangs met ons oor dié mokumentêr gesels. Kyk die video hier onder:

Skakel Donderdag om 20:00 in om uit te vind of die boere goed met die skoonfamilie oor die weg kom. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.