Logo
GN 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Groen: Namibië

144ReisprogramPG

Groen: Namibië se Armand – ’n Veggees

Nuus
20 September 2017
Lees meer oor Armand, die bobbejaan wat ons in vandeesweek se episode van Groen: Namibië moes groet.
Groen_Namibië_Armand

Chacma-bobbejaan, Armand, het na N/a’an ku sê gekom in Oktober 2016. Hy is gevind in ’n tuin in die voorstede van Windhoek, Namibië se hoofstad. Sy trop het heel waarskynlik die stad binnegekom op soek na kos gedurende die droogte. Klein Armand is deur ’n hond aangeval, en die eienaar van die hond kon gelukkig daarin slaag om Armand te red. Ongelukkig het sy trop reeds op die vlug geslaan.

Met sy aankoms by N/a’an ku sê, is sy mediese toestand ondersoek en hooftrauma is gediagnoseer.  Armand het waarskynlik die kopbeserings opgedoen tydens die hond-aanval. Sy wonde is deeglik skoon gemaak en hy het spesiale sorg ontvang. ’n Oop skedelbreuk het hom vatbaar gemaak vir infeksie.


Dié klein kopstuk is gemaak om Armand se kop van verdere besering te beskerm

Armand se toestand het aansienlik verbeter gedurende die volgende paar maande. Hy het ’n lid geword van die trop bababobbejaantjies en goed bygehou met hulle manewales. Dit het egter later duidelik geraak dat sy kopbeserings komplikasies oorgehou het. Armand was gereeld gedisoriënteerd wanneer hy saam met die trop op stappies was op N/a’an ku sê. Hy sou homself heeltemal afsonder van die groep wat ongewone gedrag is vir diere wat sterk sosiale gewoontes vertoon. Armand se gedrag het gedui op ’n frontale breinlob-besering.

Armand se toestand het in Maart 2017 drasties agteruit gegaan, en hy is verwyder van sy bobbejaantrop. Dit was vir sy eie veiligheid, sowel as vir die N/a’an ku sê personeel om ’n waaksame ogie oor hom te hou.


Armand doen aanvanklik goed in die trop

Hy het aanvalle begin kry, soms tot drie keer per dag. Na ’n deeglike ondersoek van dr. Rudie van Vuuren, is Armand Diazepam gegee, medikasie wat die aanvalle sou teenwerk. Daar is gehoop dat die medikasie die aanvalle sou verminder en dalk ook heeltemal sou stop, sodat Armand weer ’n normale lewe kan lei.

Na sowat ’n week was daar geen verbetering nie, met die aanvalle wat toeneem in intensiteit. Alternatiewe medikasie, Lethyl, is toe vir Armand gegee op ’n daaglikse basis. Hierdie behandeling is toegepas vir drie weke as ’n toets-tydperk om verbetering in sy toestand te monitor.

Marlice en die N/a’an ku sê-personeel het vir Armand versorg dag en nag gedurende die drie weke. Hulle het ál hulle aandag en tyd gewy om hom so gemaklik as moontlik te maak. Hulle het hom gevoer en geondersteun, en ook gereeld gemonitor. ’n Klein kopskerm is ook vir hom gemaak om enige verdere skade aan sy broos koppie te verhoed.

Na drie weke, met geen verbetering in sy toestand, het dit inteendeel verder verswak met gedeeltelike verlamming wat ook ingetree het in die laaste week. Klein Armand kon nie langer sy lyfie beheer of ondersteun nie. Die besluit is toe geneem om vir dié bobbejaantjie, wat almal se harte gesteel het, ewige vrede te gee.

Sy fisiese gesondheid het hom verhoed om die kwaliteit lewe te lei wat hy verdien. Armand kon nie meer homself verdedig nie, en die aanvalle het sterker geword ten spyte van die medikasie en konstante sorg.


Armand, nadat hy verlam geraak het

Armand is uitgesit op 13 April en die kalmerende uitwerking op sy broos lyfie was ’n bewys dat dit die regte besluit was.

Op N/a’an ku sê is genadedood vir enige dier die laaste uitweg. Eers wanneer alle moontlike behandelings probeer is en misluk het, en die gehalte van sy lewe onvervangbaar is tot so ’n mate dat die dier in gevaar gestel is, word die besluit geneem om genadedood toe te pas. Sodoende word die dier ’n vreedsame en waardige einde gegee. ’n Einde wat ons as mense in staat is om te gee. Dus bly dit ons uiteindelike verantwoordelikheid.

Groen: Namibië is Woensdae om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144. Gebruik die hutsmerk #Groen op sosiale media om saam te gesels.