Logo
GN 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Groen: Namibië

144ReisprogramPG

Groen maak weer ‘n draai in Namibië

Nuus
17 Desember 2020
Die vyfde seisoen van Groen gaan weer vir kykers wys wat die asemrowende Namibië het om aan te bied
Billboard

Marlice en Rudie van Vuuren is ook weer deel van dié merkwaardige reeks.

In die eerste episode, wat vanaf 4 Januarie 2021 om 20:00 uitgesaai word, is die fokus op wildehonde. Om inteling onder ‘n trop op Naankuse te voorkom, word een van die mannetjies gekastreer, maar dan hoor Marlice dat ‘n wildehond op die Zannier-reservaat ‘n been gebreek het en daar moet vinnig opgetree word om te kyk of hulle die hond se lewe kan red.

Marlice besoek ‘n nuwe groep bababobbejaantjies in die tweede episode en verduidelik hoekom bobbejane nie as troeteldiere aangehou moet word nie. In die derde episode word daar gekyk na ‘n dag in die lewe van Marlice en in die vierdie episode kuier die sanger André Schwartz en die krieketspeler Albie Morkel op Naankuse en daar word spoor gesny om leeus te soek.

Die res van die reeks, wat uit dertien episodes bestaan, gaan eweneens asemrowende Namibiese-tonele wys en Marlice en Rudie gaan wys waarom hierdie uithoek van die wêreld so spesiaal is.

Marlice, wat op haar ouers se plaas in Namibië grootgeword het, is reeds van dertienjarige ouerdom betrokke by bewaring. Sy is een van min buitestaanders wat met die San in hulle eie taal kan praat – sy praat Ju/’hoansi, ‘n San-dialiek - en was die onderwerp van die dokumentêre program, Marlice – A Vision for Africa, wat in 2008 vervaardig is. Marlice is in Desember 2000 met Rudie van Vuuren, ‘n mediese dokter, getroud en hulle het twee kinders. Hulle het in 2003 ‘n gesondheidskliniek begin wat jaarliks sowat 4500 mense gratis behandel.

Groen: Namibië begin op 4 Januarie 2021 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).