Logo
Glam Guru
web uni tv guide

Glam Guru

144VoorkomsPG

Vars vermaak vir die warm seisoen

Nuus
12 September 2017
’n Vuurwarm seisoen lê voor! Skuif saam nader vir kraakvars vermaak in Oktober 2017
Waterfront 2

FOTO: Dawid Minnaar is binnekort te sien in die kykNET-drama Waterfront.

In Oktober 2017 verwelkom ons nie net ’n vuurwarm seisoen nie, maar ook vuurwarm vermaak op kykNET se familie van kanale. Kykers kan uitsien na 19 seisoene wat die hele familie dié somer vasgenael sal hou voor die kassie.

Nie net gaan ons saam met Nataniël en sy broer, Erik, op ’n nuwe en opwindende Franse avontuur nie, maar ons vier ook Boer Soek ’n Vrou se tiende jaar op die kassie.

Kykers kan verder uitsien na Waterfront, kykNET se nuwe drama, sowel as ou gesigte wat eersdaags terugverwelkom word op die kassie en ons soos oudergewoonte sal laat skater van die lag in Outboet en Wors.

Waterfront

Drama

Dinsdae om 20:00 op kykNET

Begin 10 Oktober

Drie susters, Julia (Milan Murray), Anna (Rolanda Marais) en Kate (Trix Vivier), is van kleins af omring deur die romantiese swier en status van hul pa (Dawid Minnaar) se bootbou-onderneming. Hul paaie het reeds jare terug geskei, maar ’n familie-tragedie bring al drie terug na die plek waar hul jeug en kinderdae afgespeel het – die Waterfront in Kaapstad.


Rolanda Marais

Boer Soek ’n Vrou

Werklikheidsreeks

Donderdae om 20:00 op kykNET

Begin 12 Oktober

Dit is reeks 10, wat beteken #GroterBeterBoer! Dié opwindende werklikheidsreeks, met Minki Joubert as aanbieder, toer deur die land om die boere op hul plase te ontmoet en uit te vind waarna hulle in ’n lewensmaat soek. Kykers kan met hierdie reeks ook uitsien na ’n volle 17 episodes.


Minki Joubert

Ouboet en Wors

Komedie

Maandae om 20:00 op kykNET

Begin 9 Oktober

Twee kyker-gunstelinge, Orkney Snork Nie en Molly en Wors, word spitsvondig en met groot deernis saamgemeng. Die resultaat is ’n komiese en eg Afrikaanse reeks!


Frank Opperman en Willie Esterhuizen

Hotel 2

Komedie

Maandae om 20:30 op kykNET

Begin 9 Oktober

Hotel, die Afrikaanse mokumentêr, is terug! Die reeks handel oor ’n middeljarige hotelbestuurder, Ferdie Kruger, en sy kleindorpie-personeel wat spartel om dié substandaard-hotel se deure oop te hou!


Die Fransen Hotel se personeel

Edik van Nantes 3

Leefstyl

Woensdae om 20:00 op kykNET

Begin 4 Oktober

Die broers is terug vir ’n splinternuwe avontuur. Nataniël en Erik ondersoek elke hoekie van hulle nuwe historiese tuiste en berei heerlike geregte voor.


Nataniël en Erik

MegaBoere

Landbou

Woensdae om 20:30 op kykNET

Begin 11 Oktober

MegaBoere is ’n landbousakeprogram met ’n persoonlike aanslag. Jaco Kirsten is ons nuwe aanbieder in die nuwe seisoen en stel van die grootste boere in die land aan kykers bekend. Ons vind eerstehands uit wat hulle suksesvol maak, en ondersoek die grootste landbou-uitdagings. Kom hoor gerus watter oplossings die land se superboere hiervoor bied.


Jaco Kirsten

Op die Skouers van Reuse

Sport

Woensdae om 17:30 op kykNET

Begin 4 Oktober

Op die Skouers van Reuse is ’n blik in die lewe van ons land se grootste sportsterre en hulle liefdadigheidsorganisasie. Dié splinternuwe sportprogram is binnekort op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.


Hennie Koortzen

Mooimaak

Leefstyl

Donderdae om 17:30 op kykNET

Begin 5 Oktober

Die beeldskone Clare Wiese-Wentzel is vir die eerste keer ’n aanbieder in die nuwe kykNET-reeks, Mooimaak. Ons neem dertien vroue op ’n mooimaakreis met net die beste en nuutste nie-chirurgiese kosmetiese behandelings, estetiese tandheelkunde, grimeerwenke, vars haarstyle en nuwe uitrustings.


Clare Wiese-Wentzel

Hier Gaan ons Alweer

Visvang/Hengel

Maandae om 17:30 op kykNET

Begin 2 Oktober

Kom kyk hoe Petri de Wet en sy gas-hengelaars Suid-Afrika en Afrika plat toer in die 16de seisoen van Hier Gaan Ons Alweer. Op hulle toer deel ons saam in die soektog na trofeevis en nuwe avonture.


Petri de Wet

VeranderDinge

Leefstyl/Geselsprogram

Sondae om 18:00 op kykNET

Begin 8 Oktober

Van radio na televisie – Amoré Bekker is die nuwe aanbieder van VeranderDinge! Sy en Eloïse Cupido gesels met bekende en interessante mense oor die groot skuiwe in hul lewens. Daar is ook wenke en avonture wat jou sal vermaak en inspireer.


Eloïse Cupido en Amoré Bekker

Glam Guru

Leefstyl

Sondae om 18:30 op kykNET

Begin 8 Oktober

Of jy op soek is na een nuwe skoonheidswenk of advies vir ’n radikale transformasie, ons eie Glam Guru is daar om jou te help! Hannon Bothma en sy span wys kykers hoe maklik dit is om goed te lyk en voel!


Hannon Bothma

La’t Wiel

Motors

Dinsdae om 17:30 op kykNET

Begin 3 Oktober

Waldo van der Waal en Hannes Visser is aan die stuur van dié motorprogram, met die Kaapse akteur André Weideman as gasaanbieder.


André Weideman

Vat Jou Goed en Trek

Huisopknapping

Vrydae om 17:30 op kykNET

Begin 6 Oktober

Eiendom is ’n groot belegging, maar hoe gemaak wanneer jou huis nie meer aan jou behoeftes voldoen nie? Jy vat jou goed en trek! Die Vat Jou Goed en Trek-span help dertien families om binne 72 uur die waardes van hulle eiendomme te lig en hul huise te verkoop.


Die Vat Jou Goed en Trek-span

danZ!

Jeugdrama

Donderdae om 20:00

Begin 5 Oktober, eksklusief op kykNET&kie

danZ! is ’n opwindende kontemporêre jeugreeks wat eksklusief op kykNET&kie, DStv-kanaal 145 uitgesaai word. Dit speel af in die hartjie van Kaapstad en fokus op die wel en wee van ’n dansskool, met verskeie karakters binne ’n gemeenskap – elk op hul eie manier verlore en op soek na konneksie – wat daar ’n anker vind.


danZ!

Kofifiland

Leefstyl

Donderdae om 16:00 op kykNET&kie

Begin 5 Oktober

Kofifiland is ʼn joernaal-program wat die kyker op reis vat deur Kofifiland. Dit sluit onder meer Westbury, Newclare, Bosmont, Eldoradopark en al die ander bruin gemeenskappe in. Die program gee die kyker ’n blik oor die mense, hul mylpale, kultuur en hul leefwyse, en handel oor die gewone mens asook die presteerders van gemeenskappe.


Kofifiland

Rugbyramme

Sport

Saterdae om 16:00 op kykNET&kie

Begin 7 Oktober

Rugbyramme is ’n splinternuwe reeks wat ons kykers met 96 laerskole se rugby-aksie landwyd vermaak. In dié reeks kan wenskole R50 000 kontant vir juniors en R50 000 vir seniors wen. Met Izak Davel as aanbieder kan ons ook uisien na vele grappies en gesprekke saam met die rugbyramme.


Izak Davel en die rammetjies

Sinkplaatsessies

Musiek

Vrydae om 21:00 en 22:00 op kykNET NOU!

Begin 6 Oktober

Sinkplaatsessies is ’n splinternuwe reeks waarin Suid- Afrika se top kunstenaars die kern van musiekmaak kom vier! Hier kan musikante in ’n intieme ruimte, ver verwyderd van die wêreld van glans-verhoë, speel en sing.


Brendan Peyper

Regstreeks in Harmonie

Musiek

Saterdae, 15:00 tot 17:00 op kykNET NOU!

Begin 21 Oktober

In Regstreeks in Harmonie gaan die wenkore van die afgelope vyf seisoene van Sing In Harmonie teen mekaar meeding om te sien wie word as landswye wenner gekroon. Dis die eerste keer in die geskiedenis dat top laerskoolkore regstreeks op televisie gaan optree.


Anthonie Bougas

#Karaoke

Musiek

Woensdae om 20:30 en Saterdae, 22:00 tot 22:30

Begin 4 Oktober op kykNET NOU!

Kom ons karaoke! ’n Splinternuwe musiekblok is vanaf 4 Oktober op kykNET NOU! te sien. Hier kan kykers uit volle bors saam met hulle gunsteling treffers sing.

Hou ons webblad dop vir meer inligting oor wanneer dié programme afskop.