Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Vaughn Lucas: ‘Ek is baie soos Denver’

Nuus
29 April 2016
Vaughn Lucas se rol in die sepie Getroud met Rugby pas hom soos ’n handskoen – deels omdat hy Denver Cloete verstaan soos min. Ons het met hom gesels.
GMR Vaughn QA

Vaughn Lucas se rol in die sepie Getroud met Rugby pas hom soos ’n handskoen – deels omdat hy Denver Cloete verstaan soos min. Ons het met hom gesels.

Denver is onlangs as die Stryders se nuwe kaptein aangewys. Het hy dit verwag en wat dink jy lê vir hom voor?

Nee, Denver het dit glad nie verwag nie. Al het hy gehoop dit sou gebeur, weet hy dat daar baie ander ouens in die span is wat ook ’n goeie kaptein sal maak. Daar gaan nog baie meer uitdagings voor hom wees, maar met Jade aan sy kant kan hy enigiets doen.

Hoe sal jy Denver se verhouding met sy vrou beskryf?

Dit is ’n ware verhouding – liefdevol én met probleme, soos enige ander verhouding.

Denver is dalk stil, maar sy teenwoordigheid is sterk. Vertel ons meer van sy sterk- en swakpunte

Denver se sterkpunte is dat hy ’n goeie luisteraar is. Hy sal eerder ander mense met hulle probleme help as om syne op hulle af te pak. Dít is ook een van sy swakpunte – dat hy somtyds sy eie probleme sal ignoreer eerder as om dit te hanteer. Sy hardkoppigheid staan hom by op die rugbyveld, maar baie van sy argumente met Jade kom van daai hardkoppige houding.

Het jy en Denver baie in gemeen? En waar verskil julle? 

Daar is soveel wat ek en Denver in gemeen het, dat dit eintlik ’n bietjie skrikwekkend is. Die grootste verskil tussen ons twee is dat ek nooit uit ’n gesprek sal stap sonder om dit te probeer uitsorteer nie (soos hy met Jade gedoen het toe sy hom oor Lagos vertel het).

Denver is lief vir rugby – is jy ook? Het jy rugby op skool of selfs na skool gespeel?

Ek is mal oor rugby. Ek het op skool ’n bietjie gespeel, maar myself meer op die hokkieveld geniet.

Hoe dink jy het kykers Getroud met Rugby, die sepie, ontvang? Wat was die terugvoer tot dusver?

Tot dusver is die reaksies goed. Ek was ’n bietjie verbaas deur hoeveel Cloete-aanhangers daar reeds is.

Wat was tot dusver die grootste uitdaging vir jou as akteur? En loopbaan-hoogtepunte?

Vir my is Getroud met Rugby meer van ’n genotvolle ervaring as enigiets anders. Die mense en die kultuur van die sepie maak dit maklik om dit werklik te geniet.

My grootste uitdaging tot dusver was ’n Duitse film wat ek verlede jaar gedoen het. Dit, saam met Getroud met Rugby, is tot dusver my loopbaan-hoogtepunte.

Wat het jou laat besluit om dié loopbaan te volg?

Ek het ’n paar rolle gehad op skool, maar nooit gedink ek is goed genoeg om dit professioneel te doen nie. Ek het my eerste professionele rol in 2010 gekry.

Wat weet kykers nie noodwendig van Vaughn nie? Belangstellings of ander interessanthede?

Ek is ’n gekwalifiseerde skubaduik-instrukteur en stel baie belang in die bewaring van ons oseane, spesifiek haaie. Ek stel ook baie belang in die menslike liggaam en het sportsielkunde studeer.

Watter tipe rol sal jy nog eendag graag wil speel, en watter medium sal jy kies (fliek, sepie, teater)?

Ek wil graag eendag ’n aksierol speel. Ek is ’n baie fisiese persoon en ’n martial artist. Ek sal definitief só ’n rol wil vertolk in TV of film.

Getroud met Rugby is weeksaande om 18:30 op die kassie.