Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Pierre Breytenbach: Die feite én die ‘feelings’

Nuus
26 Januarie 2018
Getroud met Rugby se Pierre Breytenbach skryf oor die dag wat ’n tannie hom met haar vuis bygekom het.
GMR-Pierre-Vuis

Pierre Breytenbach. FOTO: Verskaf

Dis Saterdag laatmiddag. Ek en my gesin het gou ietsie gaan eet by ’n diner in die ooste van Pretoria – kykNET-wêreld.

My oudste het die jongste buite by die klimraam gaan dophou, terwyl ons middelkind oorkant my sit en haar koeldrank drink. My vrou sit styf teen my, en ons gesels met nommer 2 oor haar opgewondenheid en vrese vir die hoërskool waarby sy hierdie jaar moet begin. Ons ontspan vir ’n slag, in die publiek, soos gewone mense.

So kom maak ’n antie haarself staan by my bankie. “Hoor hier...” sê sy hier van agter af.

Ek weet wat nou gaan gebeur… dis elke dag se ding. Ek is al gewoond daaraan dat mense my sommer aantree en wegtrek met hulle vertellinge/teregwysings/grappe/dreigemente/spottende aanmerkings, sonder om te groet of hulself voor te stel. Jy weet mos. My arme gesin weet ook. Selfs te midde van so ’n intieme oomblik soos nou. Hulle verdra hulle pa se lastig-bekende gesig met meer genade as wat hy verdien.

Die antie vertel my sy’s al vir 38 jaar onderwyser by die laerskool waar ek as kind was. “Maar my genade,” sê ek, terwyl ek in die bankie omdraai om haar respekvol in die oë te kan kyk. “Vertel my asseblief...”

Voor ek die sin kan klaarmaak land nog ’n antie styf teen my rugleuning en die gesprekstrant begin vinnig verander. Blykbaar is sy een van die eerste antie se tafelmense. Sy sit sommer haar hand hier agter op die hoë bankie, so ’n duim van my gesig af.

Toe sy spoed optel, merk ek op dat sy ’n ander stemtoon as die eerste antie gebruik. “...Jy!” Ek skrik nie. Ek ken hierdie bakleierigheid al te goed. Al die akteurs wat booswigte in sepies vertolk, ken dit. En al die booswig-sepie-akteurs wat ek hier bo in Gauteng ken is sagte, gemeensame, omgee-mense in die “regte” lewe. Elkeen van hulle.

Sy skuif haar hand tot teen my gesig, en trek aan my wangbaard. “Jy, en daai heks van ’n vrou van jou, op TV...!” Sy maak haar hand toe, en begin my stamp. So asof sy my weer en weer van die bankie probeer afstamp. Met ’n gebalde vuis. In my gesig.

“Aggenee,” sê ek, so kalm as wat ek kan, en leun terug. “…Dis baie onbeskof”.

Ek sien die eerste tannie gee so ’n skaam glimlaggie, maar die 1983-swaargewig-amateur-bokskampioen se brieke is nou los. Sy gluur my vrou aan en knik in haar rigting. “…En nou sit jy hier en suig aan dié vrou!”

Ek kan dit op dié vrou en dié kind se gesig sien... dit het seergemaak. Ek draai my rug op die anties. “Dis regtig baie onbeskof,” is al wat ek kan uitkry terwyl ek afkyk na my Lime & Soda.

Getroud met Rugby is weeksaande om 21:00 op die kassie, en is ook op DStv Now en Catch Up beskikbaar.