Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Nadia Beukes se Italiaanse wittebrood

Nuus
27 Junie 2017
Nadia Beukes-de Villiers gesels met ons oor haar Italiaanse wittebrood.
Nadia Beukes 3

Foto: Yolandi Jacobsz van Loci Photography

Wat ’n betowerende ervaring is dit nie om te trou nie? Eerstens beleef jy jou droomdag, soos al die paartjies op Ons Sprokiesbruilof. Daarna vertrek jy op ’n heerlike vakansie saam met jou nuwe lewensmaat. Ons het by Getroud met Rugby se Nadia Beukes-de Villiers ingeloer om te gesels oor haar wittebrood.

Vertel ons van die beplanning.
My wonderlike man het als gereël en die hele wittebrood was vir my ’n fantastiese verrassing.

Toe ons uiteindelik die dag ná ons troue by die lughawe aankom, het David ’n dokument oorhandig wat verduidelik hoe ons in Ethiopië in ’n tradisionele kamp gaan woon en werk vir ons wittebrood. Ek was letterlik stomgeslaan. Al [was] dit nie wat ek verwag het nie, sou selfs dit vir my dalk [kon] lekker wees, omdat ek dit saam met hom sou aanpak. Gelukkig weet David ek is nie juis ’n buitelug tipe meisie nie en het hy verduidelik dat Ethiopië sommer net ’n grappie was.

Watter plekke was op die reisplan?
Ons Italiaanse-avontuur het in Venesië begin. Van daar het ons per trein na Florence getoer, ’n kar gehuur en deur die Toskaanse platteland gery, wyn geproe op die wynplase in die omgewing en ’n klomp klein dorpies besoek. Ons het toe weer per trein tot in Rome gery, waar ons al die toeriste besigtighede onder oë gekry het. Daarna het ons op die Amalfi-kus ’n paar onvergeetlike dae in die betowerende kusdorpie, Positano, spandeer. Dit was tydens ons terugkeer na Suid-Afrika wat ons vlug vertraag was en ons per toeval nog ’n dag in Parys, Frankryk ‘moes’ spandeer.

Kon julle darem ontspan?
My man glo as jy reis, moet jou vakansie drie elemente insluit. Jy moet eerstens ontspan, tweedens iets leer en derdens ’n avontuur ervaar. Venesië en Positano [was] ons plekke van ontspanning. Rome het baie insig en onderrig gebied. Ons reis deur die Toskaanse platteland in ’n huurmotor was beslis ’n opwindende avontuur.

Het julle enige ervarings gehad wat jul móés doen voor jul die emmer skop?
Ons het ongelooflike lekker kos in Italië geëet, in die Colosseum in Rome gestaan, die Gondola-rit en Gelato in Venisië terdeë geniet en ’n onverwagse dag in Parys spandeer. Ons het beslis ’n hele paar bucket list items afgemerk.

Wat was die grootste hoogtepunt?
Om saam met my man, as sy vrou, nuwe herinneringe te kon bou. Herinneringe wat ons die res van ons lewens sal bybly.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).