Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Ons Sprokiesbruilof: Getroud met Rugby-trouklets

Nuus
25 Mei 2017
Die onlangse Beltrame-troue op kykNET se Getroud met Rugby het skoon gelyk soos ’n episode van Ons Sprokiesbruilof.
SprokiesBruilof 2

FOTO: Getroud met Rugby se Maryke op haar en Fafa se mooiste dag

Die onlangse Beltrame-troue op kykNET se Getroud met Rugby het skoon gelyk soos ’n episode van Ons Sprokiesbruilof. Anlia van Rensburg (Sasha), Stephanie Baartman (Bibi) en Ilse-Lee van Niekerk (Lorette) het hulle persoonlike ervarings van bruilofte met ons gedeel.

’n Bruid wie onmoontlike verwagtinge het, word soms ’n Bridezilla genoem. Genadiglik het nie Anlia of Ilse-Lee al met só ‘n bruid te doen gekry nie. Anlia bieg egter laggend dat sy dalk eendag een gaan wees. Stephanie reken dat ’n mens hopelik net een keer trou, so ’n mens kan net so wel jou bes doen om ’n moeilike bruid tevrede te stel.

Hoe voel jy oor die tradisies by troues?

Anlia:
“Tradisies maak ons Suid-Afrikaners wie ons is en daarom is ek mal oor ’n tipiese Suid-Afrikaanse troue. Die heilige troubelofte, en daarna ’n fees van ’n partytjie met ’n gedans tot in die vroeë oggendure, troukoek, bruidsruiker-gooi en afhaal van die kant-kousband.”

Stephanie:
“Ek dink in meeste Zulu- of Xhosa-troues (wat my agtergrond is) word tradisies definitief nog behou en dis baie mooi. Die manier hoe die man se familie die bruid in haar nuwe familie verwelkom is regtig spesiaal. Sy kry selfs ’n nuwe naam wat deur haar skoonma aan haar gegee word, om aan haar te bewys dat hulle haar ten volle as hulle eie aanneem.”

Ilse-Lee:
“Ek hou van tradisies. Alhoewel ek dink sekere is bietjie oudmodies – byvoorbeeld, die feit dat net die man ’n toespraak maak. Ek dink die vrou moet ook kan praat as sy wil.”

Is jy ’n huiler? Word jy maklik oorweldig deur hoe mooi troues kan wees?

Anlia:
“Ek is nie ’n huiler nie, maar diep, emosionele, mooi gebeurtenisse gee my altyd ’n knop in my keel en trane in my oë.”

Stephanie:
“Ek is definitief ’n huiler. Ek is veral emosioneel as ek die geskiedenis van die paartjie ken en hulle liefde vir mekaar verstaan. Moenie dat daar nog iemand iets mooi sing nie – oe, dan is ek goed sout.”

Ilse-Lee:
“Ek is beslis ’n huiler. Ek sal huil by ’n troue, al ken ek nie die mense wat trou nie. Ek dink dis omdat dit so ’n mooi simboliese ervaring is, van twee lewens wat onherroeplik verander en saamsmelt.”

Watter gebeurtenis by ’n troue het jou al lekker laat lag?

Anlia:
“Ek lag nogal altyd lekker vir die bruidegom wanneer hy sy toespraak maak. Watter bruidegom het nog nie sy naam met ’n plank geslaan nie?”

Stephanie:
“Die bruidegom was so senuweeagtig, hy het sy naam met die vrou s’n vervang toe hy sy beloftes aan haar gee. Ek dink dit gebeur gereeld.”

Ilse-Lee:
“My een vriendin het getrou en die ring op die verkeerde hand gesit. Dit was so ’n mooi oomblik dat nie een van hulle, of die dominee besef het nie, totdat iemand gesê het ‘verkeerde hand’. Gelukkig was die atmosfeer baie ontspanne en almal het heerlik gelag.”

Die Bravo!-span het agter die skerms gaan kyk hoe die Getroud met Rugby-bruilof van Maryke en Fafa verfilm is.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).