Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

’n Seuntjie vir Getroud met Rugby se Altus

Nuus
02 Junie 2016
Getroud met Rugby, die sepie se Altus Theart en sy vrou, Zetske van Pletzen, het onlangs uitgevind hulle verwag ’n seuntjie.
Altus Theart Klein 4

Getroud met Rugby, die sepie se Altus Theart en sy vrou, Zetske van Pletzen, het onlangs uitgevind hulle verwag ’n seuntjie (die paartjie se eersteling). Ons het met dié akteur gesels oor pa-wees en sy eie kinderdae.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy gaan pa word?

Dit was seker die awesome-ste nuus wat ek al ooit gekry het! Maar ek moet bysê ek was ook nog nooit so nervous gewees nie – ’n Excited nervousness!

En toe julle hoor dis ’n seuntjie? Wat was jul eerste reaksie?

Ons het ’n paar “ouvrou-storie”-toetse gedoen vooraf om dálk uit te vind wat die geslag is en álmal het gewys dis ’n dogtertjie! So toe ons hoor dis ’n seuntjie, was ons soos: “Uhm… is jy seker?” Maar ons was báie bly om te hoor dis ’n seuntjie, want ons wou ’n seuntjie eerste gehad het! So nou is ons, my broer- en suster-hulle se eerstelinge almal seuntjies!

Het julle al gedink aan name?

Ons het begin dink aan dogtertjie-name! Maar ons is nou besig met die proses en is nog nie heeltemak seker wat ons hom gaan noem nie.

Waarna sien jy die meeste uit van pa-wees?

Die hele journey! Om dinge van myself en Zetske te leer ken wat ons nie van onsself geweet het nie. En natuurlik om saam hom te gaan bike ry, gholf en rugby te speel en net te sien hoe hy grootword!

Hoe gaan dit met Zetske?

Sy’s ’n yster en ’n trooper! Ek het altyd geweet sy’s ’n ongelooflike sterk vrou, maar sy verbaas my nou nog steeds elke dag! Sy is nou vir my mooier as ooit!

Wat is die beste en slegste deel van haar swangerskap?

Beste: Om saam met haar te groei en uit te sien na die volgende opwindende hoofstuk van ons lewens en te sien hoe Zetske blom in die awesome vrou wat sy is!

Slegste: Ek mis hulle nou soveel meer as ek byvoorbeeld weg is vir werk of iets en ek is nie by haar om haar te ondersteun en te sien hoe sy ‘groei’ nie!

Is die babakamer al gereed?

Daai is Zetske se afdeling! Ek sal al die handewerk doen, maar sy beplan alles. Sy’t al ’n mooi prentjie in haar kop van hoe dit moet lyk en ek kry solank my tools en verfkwaste reg!

Kyk hier onder na foto’s van Altus uit sy kinderdae:





Hoe was jy as klein seuntjie?

Ek was gesien én gehoor! Ek was altyd iewers besig op my fiets in my Swart Kat-pakkie en kettie of op rolskaatse of skateboard saam met maatjies en was nooit voor aandete by die huis nie! En natuurlik was ek McGuyver, met my knipmes besig om plannetjies uit te figure!

Wat kan jy die beste van jou eie kindertyd onthou?

Die carefree lewe wat ons gehad het! Die buite in die straat of waarookal se speel, want dit was veilig! My BMX! Kattekwaad saam met my broer en maatjies! Verbeeldingryke avonture waar ’n besemstok in ’n swaard verander het en drake doodgemaak is! Junie-vakansies se Hentiesbaai-visvang-trips saam met my pa, my broer en die ‘manne’! Desember-see-vakansies by Swartvlei! Ma en Pa wat altyd (en nog steeds!) daar was met ’n pleister en ’n drukkie as ek my knie stukkend geval het! Pa wat nie één van my rugby- of krieketwedstryde gemis het nie!

Slegste herinnering?

Toe ons aan die einde van my standerd een-jaar Kaap toe moes trek na my pa se werk geskuif het.

Wat is die stoutste ding wat jy al gedoen het?

As kind wou ons ’n geldjie maak om iets mee te gaan koop, toe steel ons blomme uit ons bure in die straat se tuin en gaan verkoop dit weer terug aan hulle deur die bossie blomme by hul voordeur te los met ’n briefie wat sê: As jy die blomme wil hê, los asseblief R5. Indien nie, los net die blomme daar! Klokkie gelui en dan weggehardloop en gaan wegkruip om te sien wat gebeur. Ons het ’n ‘fortuin’ gemaak!

Wat kan jy nie wag om jou seun te leer nie?

Behalwe bike ry, gholf speel, rugby speel, fietsry, hoe om ’n boor en saag te gebruik, vis te vang, boomklim, kettie skiet… hoe om respek vir jou medemens te hê! ’n Deur vir mamma oop te maak. Om te kan jammer sê. Om dankie te sê! Om ’n ouboet vir sus te wees! As jy val, om weer op staan en weer te probeer! Om op te staan vir jouself! Om te deel met die maatjies!

Getroud met Rugby, die sepie is weeksaande om 18:30 op die kassie.