Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Christel van den Bergh deel haar verlowingsfoto’s

Nuus
10 Junie 2016
Die Getroud met Rugby, die sepie-ster Christel van den Bergh gesels oor die groot oomblik wat sy die ja-woord gevra is, en wys die paartjie se spogfoto’s!
GMR Christel Bill

Die Getroud met Rugby, die sepie-ster Christel van den Bergh en haar kêrel, JP van der Merwe, deel hul verlowingsfoto’s met ons! Ons het met Christel gesels oor die groot oomblik wat JP op sy knieë gesak het (op ’n yskoue dag op die strand!) en hul retro-geïnspireerde fotosessie.

Kyk hier onder na die foto’s.

Fotograaf: James Strack
Grimering en hare: Angelic Tait
Stilering: Clarisa Strack

Hoe het jou verloofde, JP, vir jou die ja-woord gevra?

Ons het in April 2015 terug getrek Johannesburg toe van die Kaap af. Ons het toe ’n vakansietjie in Kaapstad rondom die Silwerskermfees gereël, en dit was die eerste keer wat hy weer in die Kaap was vandat ons in Johannesburg bly.

Hy het gesê ons was nooit regtig by ’n deftige restaurant toe ons nog in die Kaap gebly het nie. Hy stel toe On the Rocks voor in Blouberg, en ek kon nie verstaan hoekom juis daar nie. Een van my beste vriendinne bly basies op die strand in Blouberg, en hy het gesê ons kan dan sommer vir haar gaan kuier voor die tyd en op die strand gaan stap of in die see gaan swem.

Dit was yskoud daardie dag en hy het steeds daarop aangedring dat ons op die strand gaan stap. Ek kon nie verstaan hoekom nie, en het maar gedink: ‘Shame, hy mis regtig die Kaap’.

Ek het toe my vriendin saamgenooi, maar sy het snuf in die neus gekry en gesê nee, dis te koud.

Op die strand het ek baie gekla oor die koue en my ongelukkigheid oor die onnodige stappie in die koue baie duidelik gemaak. Japes was baie positief en het my probeer oortuig dat ons amper weer huis toe gaan en dat ons dit net moet geniet.

Ons het tot by sulke rotse gestap, omgedraai en na Tafelberg gekyk. Hy het toe begin deur sy vinger te wys na die plek waar ons ontmoet het, en toe na waar ons ons eerste en tweede dates gehad het en toe afgesluit deur sy vinger in die rigting van On the Rocks te wys en gesê dís waar ons ons laaste date gaan hê as girlfriend en boyfriend. Hy het toe op sy knieë gegaan en die ja-woord gevra.

Ek was geskok en het vir ongeveer ’n minuut niks gesê nie. Dis nogal ’n skrikwekkende gedagte om in ’n oogwink so ’n groot vraag te antwoord – al weet jy dis wat jy wil hê. Hy moes my 3 keer vra voor ek enigiets gesê het. Maar ek het hom toe baie gelukkig gemaak deur ‘ja’ te sê.

Het jy dit verwag?

Glad nie. JP is ’n baie berekende mens en het ongeveer twee maande voor hy my gevra het om te trou slegte nuus by die werk ontvang. Dit het hulle maatskappy baie teruggesit en hy was toe nie in die ideale posisie nie. En dít het my laat dink hy sal my nie vra nie, oor ek weet hoe sy kop werk. Daarom het ek dit glad nie verwag nie.  Minwetende dat hy reeds die ring ’n paar weke voor hy die slegte nuus ontvang het aangekoop het.

Hoe het jy en JP mekaar ontmoet en hoe lank is julle al ’n paartjie?

Ek het gewerk aan Deeltitel Dames in die Kaap in 2009 en met ons wrap party is ek en ’n vriendin uit na die tyd – na ’n dansplek genaamd Jade in Groenpunt. Hy het belanggestel in my, maar ek het ’n kêrel gehad op daardie stadium. Hy het gesê hy wil nie net my vriend wees nie. Ons het toe twee jaar later saamgekom, en is nou vyf jaar saam.

Hoe vul julle mekaar aan?

Ons is baie verskillend, maar ook op baie maniere dieselfde. JP is ongelooflik verantwoordelik en berekend.  Ek is meer last minute en spur of the moment.

Hy het my oor die jare meer verantwoordelik gemaak en oor die jare het hy geleer om bietjie meer te ontspan wanneer dit kom by reëlings, ens. Hy is ongelooflik selfversekerd en verstaan en ondersteun my 100%. Ons lag saam en hou mekaar positief.

Vertel ons meer van jul retro-geïnspireerde fotosessie. Hoekom het julle juis op dié tema besluit?

Ons het een aand by ons huis gebraai saam met een van my beste vriendinne, Clarisa, en haar man, James. Hy is ’n fotograaf en sy trougeskenk aan ons is dat hy die foto’s sal neem.

Hy hamer nou al lank dat ons verlowingsfoto’s moet neem, maar dis vir my ietwat corny. Ons huis is baie retro en toe daardie aand stel hulle voor dat ons sommer die verlowingsfoto’s in ons huis moet laat neem, en toe kom ek met die ’50’s-idee op.

Dit is vir my so ’n mooi era en ek het gedink dit sal nogal stylvol lyk en pret wees. En dit was. Die foto’s het so mooi uitgekom. JP moes maar net instem, foeitog, ha ha – maar hy was baie professioneel.








Wat is jul idee van ’n droomtroue?

Om die dag net te geniet saam met almal wat ons liefhet. Ek het nog nooit gedroom van my troue nie, so presies waar dit gaan wees, ens., is maar ’n bysaak. Ons wil kuier, lag, en dans tot die son opkom.

Wat is die vreemdste verhoudingsraad wat jy al ontvang het?

Hierdie is nie juis vreemd nie, maar dis glad nie gepas nie. Iemand het al vir my gesê hoe ek moet onderdanig wees aan my man. Ek glo glad nie daarin nie. Ek glo man en vrou is gelyk en respek moet van beide afkom.

En die waardevolste raad vir verhoudings?

Om jou lewe saam te hê en te geniet, maar om steeds jou individualiteit te behou.

Kyk Getroud met Rugby, die sepie weeksaande om 18:30 – net op kykNET.