Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13
1

Percivale Young

Dramaties? Ek is g’n dramaties nie… Ek glo net daarin om ’n storie so volledig en met al die nodige emosie en drama te vertel.

Dis Percivale Young vir jou… Gebore en getoë in Kaapstad – die oudste van drie kinders.

Ek is nou al 16 jaar lank ’n joernalis en die televisiegogga het my agt jaar gelede die eerste keer gebyt.

Ek het my loopbaan as koerantjoernalis begin voor ek in 2009 as sportverslaggewer by die televisienuuskanaal eNCA aangesluit het.

Sport – en veral rugby – sal altyd my groot liefde bly, maar sedert ek in 2012 by eNuus as nuusverslaggewer begin werk het, het my horison soveel meer verbreed.

Elke dag het ek die voorreg om mense van verskeie agtergronde te ontmoet – van die hawelose man op die straat en bekende sportpersoonlikhede tot politici. Elkeen het ’n storie om te vertel en dit is vir my ’n voorreg om hulle stories op ’n professionele manier aan ons kykers oor te dra.

Ek het hoë agting vir kollegas wat die ekstra myl loop om ’n goeie storie – hetsy hartseer of snaaks – te vertel.

As ek nie op die TV-skerm is nie, is ek die pa van twee kinders – Luke en Amy – en getroud met my liefdevolle vrou, Leonie Young.

Ek is mal oor die buitelewe en eet enige tyd lekker potjiekos.

Ek is ’n Stormers-ondersteuner en op my rype ouderdom droom ek nog steeds om eendag vir die Springbokke uit te draf.