Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13
eNuus

Gustav Greyling

Ek is in Durban gebore en het die eerste 18 jaar van my lewe daar spandeer.

Na skool het ek by Kovsies kommunikasiekunde gaan swot. Daar het ek gou ’n verslaggewer en nuusredakteur geword by die universiteit se koerant, Irawa, en radiostasie, RSFM (deesdae Kovsie FM).

Ek werk nou al 17 jaar in die media en was vir lank ’n aanbieder by verskeie gemeenskaps- en kommersiële radiostasies. Mettertyd het ek heel toevallig agtergekom dat ek nogal ’n aanvoeling het om musiekspeellyste saam te stel waarvan radioluisteraars hou. In 2003 het ek by Suid-Afrika se grootste privaat radiostasie, Jacaranda FM, aangesluit. Oor die volgende tien jaar het ek myself bekwaam in uitsaaiskedulering, navorsing en strategiese beplanning.

Ek het die geleentheid aangegryp toe eNuus ’n instaan-nuusleser nodig gehad het, en in 2013 voltyds by die span aangesluit. Dit is ’n heeltemal ander wêreld as waaraan ek gewoond was by radio, maar dis ’n opwindende uitdaging.

My gunsteling-nuusankers sluit in Brian Williams van die NBC Nightly News, en Hala Gorani en Michael Holmes van CNN International.

Ek bly in Pretoria, een van die mooiste stede in die wêreld, en soveel meer as net “Boere Beverly Hills”! Ek hou baie van reis en die buitelewe en sal enige kans aangryp om nuwe wêrelde te ontdek.