Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13

Daniëlla se plaashuis in die Goudstad

Nuus
25 Desember 2017
Hoe maak jy jou huis 'n tuiste, al is dit in die stad? Ons vind uit by eNuus se Daniëlla van Heerden.
Daniella-van-Heerden

Foto: Cornel van Heerden

deur Jan-Hendrik Botha

Jy sal haar herken as eNuus se stylvolle anker en veldverslaggewer. Daniëlla van Heerden se energieke blik op Suid-Afrika se jongste nuusgebeure hou kykers aande vasgenael voor die kassie.

Van nuusbreek kan jy haar niks vertel nie. Ook bekend as Bargainista op sosiale media hou sy haar vinger op die pols wanneer dit kom by die nuutste – en mees bekostigbare – modes.

Sy en haar fotograaf-man, Cornél van Heerden, het hul huis in die hartjie van Johannesburg omskep in ’n kontemporêre plaashuis. Ons het gaan inloer om met haar te gesels oor huis opsit vir pasgetroudes.

LEES OOK: DANIËLLA VAN HEERDEN – DIE WINSKOOPBRUID

  1. Vertel ons bietjie meer van jou en Cornél se huis, die inspirasie daarvan, en hoekom julle daarvan hou?
    Ons woon nou al amper vier jaar in Roodepoort. Ons het vroeër albei in kleiner woonstelle gebly, en gekies om ná ons troue bietjie verder weg van die Johannesburgse stadskern te woon, maar in ’n plek met meer spasie. Die groter tuin is heerlik – en noodsaaklik vir ons drie Jack Russells!

    Hoewel ons beroepe redelik stadsgebonde is, hou ons van ’n natuurlike aanslag wat huis en tuin betref, en volg daarom ’n plaashuis-in-die-stad-benadering elke keer wat ons dekorprojekte aanpak! Dit sluit in baie hout, sowel as natuurlike elemente en aardse kleure.

    Ons volgende droom is ’n regte-egte windpomp in die tuin en ’n plaasdam-tipe swembad!
     
  2. Hoe gaan jy te werk om ’n huis in ’n tuiste te omskep vir twee?
    Deur baie selfdoenprojekte aan te pak! Ons moes dit noodgedwonge doen, omdat ons (soos baie paartjies) nie ons droomhuis kon bekostig nie, en dus ’n ouer huis gekoop het wat ons stuk-stuk oordoen. Die voordeel daarvan is dat jy dan lekker kan beplan en alles doen soos jý daarvan hou.

    Ek dink mens maak dit ook ’n tuiste deur baie dekoritems te “verpersoonlik” – foto’s en sentimentele items te gebruik wat deel is van julle storie as paartjie.
     
  3. Wat is die eerste item wat jy en Cornél saam gekoop het, en hoekom is dit vir julle belangrik?
    As ek reg onthou was dit ’n lekker groot bed en matras! Op ons wittebrood het ons kamer ’n reusebed gehad, en dit het vir ons baie luuks gevoel. Ons het toe met ván die geld wat ons geskenk gekry het, ’n goeie bed en matras gekoop wat ons nog jare sal hou. En nou voel dit of ons steeds bietjie op wittebrood is – pure bederf!
     
  4. Wat is die belangrikste items wat ’n pasgetroude paartjie binne ’n jaar moet aanskaf vir hulle huis en hoekom?
    Ek dink dit verskil op grond van behoeftes – nie een van ons is gaande oor kook nie, so ons het nie fancy kombuisware of allerlei toestelle daar nie. Maar ons hou van braai; en ek maak graag smoothies, so ons het toebehore gekoop wat daarby pas.

    ’n Goeie kwaliteit televisie en klankstelsel was ook ’n goeie kopie, want ons hou van series en flieks kyk naweke.

    “En ’n skottelgoedwasser sorg vir baie vrede in die huwelik!”
     
  5. Wat is die drie dinge waarsonder jy nie kan klaarkom in ’n [plaas]kombuis nie?
    Goeie koffie, lekker beskuit en ’n goeie rooster, vir ’n stukkie toast soggens.
     
  6. Hoe kan mens met ’n beperkte begroting ’n huis versier?
    Deur items te herbenut, jou vaardighede in te span – en met ’n kwas en verf!

    Cornél is besonder goed met die hergebruik van items. Só het ons die kombuis ’n oormaaksessie gegee met verf en nuwe houtblaaie (wat hy self ingesit het!) en baie items wat die vorige eienaars net in die tuin gelos het, is weer ingespan.

    Cornél het die outydse geel glas in die kombuiskaste uitgehaal, en vervang met fyn ogiesdraad uit die tuin. Dit het die plaas-effek baie versterk!

    My man is baie handig en doen baie van die DIY-werk self. Ek is nie so talentvol nie, maar kan darem verf! Ek hou veral van “Chalk Paint” – ek het byvoorbeeld ou sluitkaste (lockers) gekoop vir ’n appel en ’n ei op Gumtree, en met verf dit ’n heel nuwe voorkoms gegee!

    Ek plaas gereeld foto’s van ons projekte op my Instagram by @dannisnaps.

    Kyk na die foto’s hier onder:
    Gallery

     
  7. Hoe gaan jy Kersfees dié jaar uniek maak? 
    Ons het nog nie ’n formele en groot Kersboom nie, en dit kan ’n storie wees om so boom te stoor die res van die jaar. Daarom het ek ’n eenvoudige Kersboom geskep teen ’n oop wit muur. Ek het sommer paar velle gekleure papier gekoop, sirkels uitgesny en in ’n boomvorm geplak. Met die oorskiet papier het ek geskenke gemaak.

    Die kleure pas by die Kersfees-vlaggies (bunting) wat ek vroeër by ’n mark gekoop het. Ek het feëtjieliggies om die vlaggies gedraai wat skitter in die aand. Dit was lekker, maklik en goedkoop!

    Ons brakke – Cruiser, Dusty en FJ – sal getooi word in Kersuitrustings.


    Cruiser is opgetooi en gereed vir Kersfees 
     
  8. Kan jy dalk vir die dames ’n paar wenke gee vir hoe om op ’n goedkoop manier die plaashuis te omskep in ’n tuiste?
  • Kry oulike idees op webblaaie soos Pinterest, en kombineer dit met jou eie idees en omstandighede.
  • Gebruik wat jy tot jou beskikking het – op ’n plaas is daar wonderlike natuurelemente tot jou beskikking wat jy as dekor kan gebruik.
  • Kombineer ou meubels van julle ouers en grootouers met meer moderne elemente om iets uniek te skep.
  • Gebruik persoonlike items in jou dekor. Foto’s van julle en jul geliefdes, of selfs sentimentele items, byvoorbeeld troukaartjies of julle eerste fliekkaartjies, kan geraam en uitgestal word.
  • Moenie skroom om familie te vra om te help nie!

Vir meer inspirasie, volg vir Daniëlla op Instagram, Twitter en Facebook. In die volgende episode van Boer Soek 'n Vrou ontmoet die dames die boere se vriende en familie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou