Ek is gebore in Brits in Noord-Wes en het grootgeword op ’n kleinhoewe buite Pretoria. My ouers en twee sussies is die wonderlikste familie onder die son.
Ek het aanvanklik BSc wiskunde begin studeer aan die Universiteit van Pretoria, met meteorologie as ’n bykomende vak.
Ek het heeltemal verlief geraak op weerkunde en in my derdejaar het ek my kursus verander na BSc meteorologie.
In 2014 het ek my honneurs in meteorologie voltooi.
Tydens my honneurs het ’n werksgeleentheid vir ’n Afrikaanse meteoroloog by eNCA onder my aandag gekom.
Alhoewel ek nog besig was om te studeer, het ek die geleentheid met albei hande aangegryp.
Groot was my ontnugtering toe ek hoor die pos is in Kaapstad maar my nuwe tuiste het my hart gesteel!
Die Moederstad roer die avontuurlus in my en daar is soveel wat die Wes-Kaap bied.
Ek kan nou met trots sê ek is deel van die eNuus-familie, en ek is beslis een van die min mense wat elke dag met ’n glimlag wakker word en nie kan wag om te gaan werk nie.
Ek het ’n liefde vir die buitelewe. Soms verloor ek myself in die sterrehemel en ek sal enige tyd ’n aand in die Vrystaat onder die skitter van die sterre verkies bo ’n aand in die stad se gewoel.
Ek geniet bergklim en enige vorm van oefening. Boeklees in die winter is altyd ’n wenner en kosmaak saam met vriende en ’n goeie bottel rooiwyn voed liggaam, siel en gees!