Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Gewilde boek Die dinge van 'n kind omskep in TV-reeks – Dinge van 'n kind

Nuus
23 Februarie 2022
Dinge van ’n kind word Dinsdae om 20:00 vanaf 10 Mei 2022 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Dinge van 'n kind

Opwindende nuus: ’n Nuwe dramareeks, Dinge van ’n kind, word vanaf Dinsdag 10 Mei 2022 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is gegrond op Die dinge van ‘n kind, uit die pen van die bekroonde skrywer Marita van der Vyver.

In dié reeks van tien episodes ontmoet kykers vir Mart Vermaak. Die ontnugtering van haar grootwordjare vind plaas teen die politiese agtergrond van die onstuimige laat 1970’s, terwyl ’n ouer Mart haarself in ’n ontnugtering van ’n ander aard bevind.

In die roman Die dinge van ’n kind leer lesers Mart sowel as tiener en as ’n vrou in haar dertigs ken wat as ’n expat in Londen woon. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.

Van der Vyver is entoesiasties oor die TV-reeks: “My boeke is al voorheen in toneelstukke en rolprente verander, maar dis die eerste keer dat een van my romans ’n TV-reeks word. Ek voel so opgewonde soos enige eerste keer selfs ’n ou skrywer soos ek kan laat voel.”

Die boek Die dinge van ’n kind het in 1994 verskyn. Daar was reeds twee oplae van die eerste hardebanddruk en daarna ongeveer drie oplaes van die sagtebanddruk tussen 2005 en 2011, en ’n nuwe sagtebanddruk in 2016. Dit is ook al in Engels, Nederlands en Duits vertaal.

Die dramaturg Harry Kalmer het in die 1990’s die boek in ’n gelyknamige opvoering vir die KKNK verwerk. Dit is ook in 2019 in ’n eenvrouvertoning omskep met Cintaine Schutte wat die rol van Mart vertolk. Die teks vir hierdie weergawe is deur Francois Toerien geskryf en Alexa Strachan was die vervaardiger.

Die rolle van Mart word in die TV-reeks vertolk deur Melissa Myburg, Cintaine Schutte en Susanne Beyers onderskeidelik. Ander akteurs wat deel van die rolverdeling is, sluit in Jana Kruger, André Weideman, Andahr Cotton, Deànré Reiners, Wilhelm van der Walt, Quanita Adams, Susanne Beyers, Zenobia Kloppers en Ludwig Binge. Dis ook Mienke Ehlers en Augusta Zietsman se eerste groot TV-rolle – Mienke speel die rebelse Dalena, en Augusta vertolk die rol van Suna.

Die temas wat fyn deur die boek en teaterstuk verweef is, vorm ook die ruggraat van die TV-reeks. Schutte het in ’n onderhoud met die webwerf LitNet oor die eenvrouvertoning gesê: ‘“Hoewel Die dinge van ’n kind in die 1970’s afspeel, is dit steeds relevant in vandag se tye. Dit vang temas van tienerskap, hormone en grootwordjare, asook vriendskap vas. Ek dink die grootste vraag wat almal vir hulleself vra en wat ook in die boek en teaterproduksie voorkom, is: ‘Wie is ek en waar hoort ek?’  

“Ek het nie in die 1970’s grootgeword nie; ek was nog ’n kind in die 1990’s, maar nadat ek die boek gelees het, het ek besef dit maak nie saak of jy ’n tiener in die 1970’s was nie en of jy eendag in 2085 ’n tiener is nie – jy gaan deur dieselfde goed.”

Dinge van ’n kind is deur Nagvlug Films (Wonderlus, Skemerdans, Nêrens, Noord-Kaap) vervaardig. Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg het die draaiboek geskryf.

Van der Vyver sien uit daarna om die storie met ’n wyer gehoor te deel: “Amper 30 jaar nadat Die dinge van 'n kind gepubliseer is, word dit die dinge van ons almal. Dit maak my bly.”

Dinge van ’n kind word Dinsdae om 20:00 vanaf 10 Mei 2022 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.