Logo

Legendes van Afrikaanse Musiek: Onthou Randall saam met Jan

Nuus
04 September 2017
Só onthou die regisseur Jan Horn die legendariese Randall Wicomb.
Randall Wicomb Bill

FOTO: Randall Wicomb (verskaf)

Die Legendes van Afrikaanse Musiek se uitsending op Donderdag 7 September om 20:00 is ’n musiek-biografie van die sanger en liedjieskrywer Randall Wicomb.

Jan Horn, regisseur van dié program, gesels met ons oor die “troebadoer” – voor én agter die kamera:

“Randall het ’n aura aan hom gehad,” sê Jan. “So ver as wat hy geloop het, het vriende en vriendskappe om hom vergader.

“Jy kon hom nie misloop nie. Hy was ’n magneet wat glimlagte versamel het.

“Hy was ’n ekstrovert met ’n lewenslus wat eintlik te veel was vir een mens. En daarom het hy sy lewenslus uitgedeel aan almal wat met hom in aanraking gekom het.

“Ons was saam studente op Maties in die 1960’s en ons vriendskap het daar begin. Toe ek gevra is om ’n program vir Die Legendes van Afrikaanse Musiek oor hom te maak was daar geen twyfel by my om ‘ja’ te sê nie.

“Om die program oor Randall te maak was maklik, want ek kon die kamera net laat loop en Randall het die kaarte vol gepraat.

“Die moeilike deel was om te besluit wat om weg te laat. Hy het so ’n vol lewe gehad dat ’n uurlange program te kort was om alles in te pas.

“Randall was Stellenbosch en Stellenbosch was Randall.”

Jan onthou verder die woorde wat Randall sing in die liedjie “Opelug kafeetjie” (op die plaat Kleur): “In ’n opelug kafeetjie sit ek saans tot baie laat...”

Hy sê: “En dít was Randall in Stellenbosch. Omring deur goeie vriende.”

Dan was daar ook “Dans met die rooi rok” saam met Koba.

“Só onthou ek hom,” sê Jan. “Die dansende, singende troebadoer. Intens. Kleurvol. Vasgevang in die kleure van die lewe. Met die ‘Voete van ’n gemsbok’ lê sy Kalahari nou ook oop waar hy op die duine loop.”