Logo
Byl
web uni tv guide

Die Byl

144Drama16VL

Wie is wie in die derde reeks? – Die Byl 3

Nuus
14 April 2021
Die Byl begin Dinsdag 27 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
BB

Ons het hulle reeds in die eerste twee reekse leer ken, maar hier is ‘n aptytwekker om die hoofkarakters van Die Byl weer vars in kykers se geheue te kry. In die tweede seisoen het Smiley, en veral Adriaan Klopper, ‘n skrikbewind van wraak en haat gevoer wat ‘n reuse letsel op Byl en sy span gelaat het. Hulle moes nie net die verlies van hulle kollegas verwerk nie, maar ook die individuele trauma wat elkeen ondervind het.

Kol. Piet van der Bijl, alombekend as Byl.
(Waldemar Schultz)

Byl is in sy vyftigerjare. Hy was voorheen betrokke by Moord en Roof, maar is deesdae hoof van die SAPD se elite-eenheid wat reeksmoordenaars vaskeer. Byl is wêreldbekend vir sy vermoë om in reeksmoordenaars se koppe te klim en sy skerp instink om verdagtes uit te snuffel.

Hy is ‘n teruggetrokke man, maar hy en sy span het die afgelope paar jaar al meer emosioneel betrokke by mekaar geraak. Aan die einde van die tweede reeks het hy nie net een van sy beste vriende verloor nie, hy moes ook alles in sy vermoë doen om sy kollega Juan se lewe te red.

Soos mense in hulle vyftigs, begin Byl ook toenemend terugkyk oor die jare en erken hy selfs op ‘n stadium dat hy nie weet of sy toewyding aan sy werk die moeite werd was nie. Hy word ook met sy eie verganglikheid gekonfronteer wanneer hy onderneem om na ‘n klein lewe om te sien en hy ervaar vir die eerste keer onvoorwaardelike liefde.

Adv. Nicolene Swanepoel
(Milan Murray)

Nicolene, beter bekend as Nicky, was nog altyd Byl se klankbord; sy ware noord wat altyd seker maak sy voete bly geanker. Sy is ‘n sterk vrou wat moeilike kinderjare oorkom het om vandag te wees waar sy is. So suksesvol soos haar loopbaan is, so onsuksesvol is haar liefdeslewe. Hoewel sy en Byl in ‘n verhouding was, het hulle besef dit sal nooit werk nie. Nietemin is hulle beste vriende en ‘n onlosmaaklike deel van mekaar se bestaan.

Waar Nicky voorheen met die regsaspekte van die ondersoeke betrokke was, vneem sy deesdae al meer die rol van ondersoekbeampte in. Van almal in die span is sy die een wat ‘n ongekende vermoë het om onder groot druk die regte besluite te neem.

Kaptein Lena Evans
(Lika Berning)

Die 37-jarige Lena het as ‘n groentjie by die eenheid begin werk, maar vandag is sy ‘n gerekende forensiese sielkundige. Oor die jare het sy dit selfs reggekry om Byl se opinie oor die sielkunde in hulle ondersoeke te verander.

Sy is op die oog af gelukkig getroud met Frank Evans en is ma van klein Lukas. Lena besoek meer moordtonele saam met Byl en Juan en sy is bes moontlik Byl se beste wapen teen psigopate. Die druk van haar loopbaan begin egter al meer eise aan haar huwelik stel.

Kaptein Juan Stuurman
(Marvin-Lee Beukes)

Juan (35) het oor die jare in ‘n behendige speurder ontpop. Aan die einde van die tweede reeks het sy lewe aan ‘n draadjie gehang, maar dit het hom op die oog af meer gemaklik met homself gemaak. Hy neem ook toenemend druk van Byl se skouers en dit is ook duidelik dat hy alles wat Byl hom geleer het, soos ‘n spons geabsorbeer het.

Sy verhouding met Shani het hom ook baie meer volwasse gemaak en hy is reg vir die volgende groot stap. Wat met hom gebeur het, het egter emosionele letsels gelaat en die span wonder of hy ooit daarvan sal kan herstel.

Dokter Fritz Barnard
(Eric Nobbs)

Fritz, wat in sy sestigs is, word gesien as een van die beste forensiese patoloë ter wêreld en in Shani het hy ‘n gewillige leerling gekry. Die briljante, dog eksentrieke, dokter was nog altyd die een wat die span met ‘n grappie of staaltjie kon vermaak. Byl het nog nooit ‘n geheim daarvan gemaak hoe belangrik Fritz nie net in die eenheid is nie, maar ook vir hom persoonlik. Hy dra sy hart op sy mou en glo hy is nog in die fleur van sy lewe.

Shani Smit
(Trudy van Rooy)

Shani het in die tweede reeks as patoloog by die span aangesluit. Sy was pas klaar gestudeer, maar is briljant in haar eie reg en glo onwrikbaar in die wetenskap. Sy kom skamerig voor, maar haar selfvertroue in haar eie vermoëns en die aandag wat sy by Juan kry, het haar laat blom. Sy kom uit ‘n stabiele, konserwatiewe ouerhuis en dis waardes wat sy tot vandag op haar lewe toepas. Die geweldadigheid van die sake wat sy ondersoek, laat haar egter twee keer dink of sy kinders in hierdie geweldadige land wil groot maak.

Die Byl begin Dinsdag 27 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).